SA doen betaling vir Covax-entstofprogram

Argieffoto (Foto: Joel Saget/AFP)

Suid-Afrika is van ’n plek in die Covax-entstofprogram verseker nadat die regering ʼn betaling van meer as R280 miljoen gedoen het.

Covax is ’n inisiatief van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) om die Covid-19-entstof regverdig aan alle lande te verkoop en daarheen te versprei.

Die departement van gesondheid en die regering se Solidarity Fund het vanoggend in ’n gesamentlike verklaring aangekondig dat ʼn bedrag van $19,2 miljoen (sowat R283 miljoen) aan Gavi, die entstof-alliansie wat die program bedryf, oorbetaal is.

Luidens die verklaring het Covax Suid-Afrika se toetrede tot die program bevestig.

Die betaling volg nadat die Solidarity Fund hom daartoe verbind het om R327 miljoen aan die regering te skenk sodat Suid-Afrika se plek in die Covax-program verseker kan word.

Die bedrag wat betaal is verteenwoordig 15% van die totale koste om entstowwe vir 10% van die bevolking (sowat ses miljoen mense) te bekom. Daar is egter oor die naweek berig dat die eerste besending wat in die eerste helfte van volgende jaar verwag word, net genoeg sal wees om 3% van die bevolking in te ent.

“Daar is geen twyfel nie dat ʼn Covid-19-entstof ʼn belangrike rol sal speel om Suid-Afrika te help om die virus te bestuur,” sê Gloria Serobe, voorsitter van die Solidarity Fund.

Die departement van gesondheid sal vorentoe nog betalings doen om entstowwe vir burgers teen volgende jaar te bekom. Die regering sal na raming eindelik altesaam R2,2 miljard moet betaal om genoeg entstowwe vir 10% van die bevolking te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.