SA dokter in die buiteland vereer

Dr. Nelson Matsobane Latakgomo is tans die hoof van die traumaprogram by die Netcare Pholoso-hospitaal waar hy as ʼn algemene chirurg praktiseer. (Foto: Verskaf)

ʼn Dokter van Limpopo het onlangs ʼn groot loopbaanmylpaal behaal toe hy tot die American College of Surgeons (ACS) toegelaat is – ’n internasionaal erkende lof wat nog net 42 plaaslike dokters ontvang het.

Dr. Nelson Matsobane Latakgomo is tans die hoof van die traumaprogram by die Netcare Pholoso-hospitaal waar hy as ʼn algemene chirurg praktiseer. Latakgomo het ook ʼn groot belangstelling in minimaal indringende en kolorektale chirurgie en is veral passievol oor die verskaffing van gehaltesorg in landelike gebiede in Suid-Afrika.

Die ACS, waar hy nou ʼn genootskap ontvang het, is ’n wetenskaplike en opvoedkundige vereniging van chirurge wat in 1913 gestig is met die doel om die gehalte van sorg vir chirurgiese pasiënte te verbeter deur hoë standaarde vir chirurgiese onderrig en praktyk daar te stel.

Genootskap word toegeken aan chirurge wat ’n streng evaluering van onderrig, opleiding, professionele kwalifikasies, chirurgiese bevoegdheid en etiese gedrag in ooreenstemming met die ACS se standaarde geslaag het.

Latakgomo beskryf die ACS as ʼn aktiewe gemeenskap van eendersdenkende gesondheidswerkers wat onder meer verbeterde gesondheid in landelike gebiede bevorder – ʼn saak wat hom uiters na aan die hart lê.

Hy sê die kollege bied ook ’n waardevolle platform waar kennis op ’n internasionale vlak gedeel kan word en boonop ’n helder lig op die uitsonderlike sorg wat in Limpopo gebied word sal skyn.

“As hoof van die traumaprogram hier by die Netcare Pholoso-hospitaal is ek entoesiasties oor die bykomende voordele wat hierdie genootskap vir ons gebied inhou. Die hospitaal is verlede jaar as ’n vlak twee- traumasentrum geakkrediteer. Dit bepaal dat die nodige professionele mediese dienste by die fasiliteit beskikbaar is om traumagevalle en mediese noodgevalle in ooreenstemming met internasionale beste praktyke in traumageneeskunde te hanteer.

“Ek is hoopvol dat ons binnekort die volgende stap in ons trauma-akkreditasie sal kan neem sodat ons ook die hoogste vlak van opleiding aan dokters in die hantering van traumagevalle kan verskaf. Ons wil ook die vaardighede van gesondheidsorgpersoneel wat ons gemeenskappe bedien, verbeter.”

Latakgomo, wat self in ʼn landelike gebied grootgeword het, sê voorts dat hy diep geëerd voel om dié internasionale genootskap te ontvang. Hy hoop ook dat dit jong mense in veral dié gebiede sal aanmoedig om hul doelwitte ongeag hul omstandighede na te streef. Johan Smal, Netcare se Noordoos-streeksdirekteur, sê Latakgomo se prestasie is welverdiend en boonop “geen verrassing nie”.

“Dr. Latakgomo word gedryf deur sy passie vir die hoogste moontlike standaarde in gesondheidsorg. Dit is dus gepas dat hy hierdie internasionale erkenning van sy toewyding tot die veld van chirurgie ontvang. Ons is bevoorreg dat hy by ons fasiliteit praktiseer en help om sulke uitstekende sorg aan die gemeenskappe wat ons bedien te verskaf.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Shakespeare ·

Wens ons kon al die kaders vervang met hierdie dinamiese jong man.

Samuel ·

Baie goeie prestasie vir SA’ner. Mag hy nog meer suksesvol wees in die toekoms, veral op die opleidingsgebied.

My siening ·

Baie geluk Dr net jammer die regering kon jou nie bystaan nie, hoe kan n Dr lojaal wees in die land waar jong Dr’s nie geplaas of aangemoedig word nie. Kuba ontplooiing nê ANC!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.