ʼn Suid-Afrikaanse mediese dokter wat al jare lank in Kanada woon en werk, is Maandag in sy spreekkamer aangeval en vermoor.
Dr. Walter Reynolds (45) is omstreeks 11:00 Maandag (Kanada-tyd) by die Village Mall-kliniek in Red Deer in Alberta deur ʼn man met ʼn kapmes en ʼn hamer aangeval.
Anina Mullin, wat saam met haar dogter in die kliniek se wagkamer was ten tyde van die aanval, het aan die Red Deer Advocate gesê hulle het harde geluide gehoor waarna iemand gegil het “help my, help my, skakel 911”.
Volgens Mullin het twee mans in die wagkamer ʼn deur toegedruk om te keer dat die aanvaller vlug. Die polisie was kort hierna op die toneel en die verdagte is in hegtenis geneem.
Reynolds is na ʼn hospitaal geneem waar hy aan sy beserings beswyk het. Dr. Lize Jones, ook ʼn Suid-Afrikaner en Reynolds se vennoot en vriend, het vanuit Red Deer aan Maroela Media gesê die gemeenskap is geruk deur die voorval. Red Deer is tussen Calgary en Edmonton.
Reynolds laat sy vrou, Anelia, en hul twee dogters, nege en 11 jaar oud, agter. Hy het kort nadat hy sy studie aan die Universiteit van Pretoria en sy prakties voltooi het na Kanada verhuis.
Volgens Jones is hulle ʼn groot groep Suid-Afrikaanse dokters in Red Deer. “Ons ken nie hierdie soort geweld hier nie.” Sy het gesê die verdagte was ʼn gereelde pasiënt van Reynolds.
Reynolds was een van vier broers. Sy een broer, Edwin, is in 2007 dood nadat hy tydens ʼn rooftog by die Zwartkops-renbaan in Pretoria geskiet is. Reynolds se ma en twee ander broers woon in Suid-Afrika.
Die Royal Canadian Mounted Police (RCMP) het gesê die verdagte, Deng Mabiour (54), sal Woensdag in die hof verskyn op aanklagte van moord en aanranding.
Tara Veer, burgemeester van Red Deer, het die moord op Reynolds as ʼn afskuwelike tragedie beskryf. “Ons gemeenskap is in skok en ons rou.” Sy het haar meegevoel met Reynolds se familie, vriende en kollegas betuig.
Johan Myburgh, een van Reynolds se kollegas, het intussen ʼn skarefinansieringsveldtog begin om Reynolds se gesin by te staan. Teen Woensdagoggend is daar reeds meer as $154 000 ingesamel.
Ag dis so jammer.
Sterkte aan die familie
Rus sag Tokkie!! Jy was die saggeaardste mens wat ek geken het en jy het nie hierdie verdien nie.
Baie sterkte aan familie!
Dis vreeslik! Dalk is die beskuldigde verslaaf aan voorskrif medisyne en wou die dokter dit nie meer aan hom voorskryf nie. Beslis voorbedagte rade, hoekom anders sou die moordenaar ‘n panga en ‘n hamer saambring na ‘n doktersbesoek?
Moenie my kruisig nie, maar waarom ‘n skarefinansieringsfonds stig vir n dokter? Sover my kennis strek word Kanadese dokters baie goed betaal. Ek vra maar net of daar nie iemand anders is wat daardie geld nodiger het nie. Baie sterkte aan sy vrou en kinders.
Baie tragies en dit bewys dat sielsiek mense oral ter wereld voorkom.
So jammer om te hoor, sterkte aan die familie.
The moral of this sad story ~ mens is nerens veilig nie. Dit is dalk minder veilig is SA, maar hierdie is die wêreld en in hierdie wêreld is als besig om stadig maar seker te verrot, danksy die bose wat hierdie planeet saam met ons bewoon. Sterkte aan die dr se familie.
Dis die ding. Ons kan vlug waarheen ons wil, maar wat hier gebeur, kan ook daar met ons gebeur wanneer ons dit die allerminste verwag. Veiligste plek op aarde is binne God se wil. As Hy my dan daar kom haal, was dit Sy tyd en Sy plek vir my.
#WHITELlivesMATTER too!