SA druk deur met steenkoolplan, al taan aptyt wêreldwyd

Die Wujing-steenkoolkragsentrale in Sjanghai. (Foto: Hector Retamal/AFP)

Daar is wêreldwyd ʼn al hoe kleiner aptyt vir nuwe steenkoolkragprojekte, hoewel Suid-Afrika nietemin een van net vyf Afrika-lande is wat deurdruk met die bou van, of planne vir die bou van, nuwe steenkoolkragsentrales.

Die ander lande is Botswana, Malawi, Mosambiek en Zimbabwe.

Dié vyf lande is onder ʼn minderheidsgroep van 21 lande wat meer as een nuwe steenkoolkragsentrale in die beplanningsfase het, sê die onafhanklike klimaat- en energiedinkskrum Ember.

Al vyf Afrika-lande probeer finansiering uit China vir die projekte bekom, maar dié land het onlangs aangekondig dat hy sy steun aan oorsese steenkoolprojekte gaan opskort.

China se besluit volg op soortgelyke aankondigings van Japan en Suid-Korea en gaan volgens Ember ongetwyfeld veroorsaak dat al hoe meer beoogde nuwe steenkoolprojekte al hoe vinniger gekanselleer gaan word.

Altesame 24 lande soek steun van China vir nuwe steenkoolkragsentrales. Die aankondiging beteken die beoogde projekte gaan moontlik in die hek duik terwyl skoon energie eerder geprioritiseer sal word.

Daar is al hoe meer steun vir “geen nuwe steenkool” ná 2021 nie en Ember sê verskeie Afrika-lande is in ʼn goeie posisie om hulle hiertoe te verbind. In hierdie stadium is net vier nuwe steenkoolkragsentrales in aanbou op die vasteland – in Suid-Afrika en Zimbabwe – en slegs drie planne vir nuwe steenkoolkragsentrales het sedert 2015 operasioneel geword.

Die Internasionale Energieagentskap het reeds onderneem dat geen nuwe steenkoolkragsentrales ná vanjaar goedgekeur moet word nie, in ʼn poging om aardverwarming tot 1,5 °C te beperk.

Luidens ʼn verslag deur Ember, E3G en Global Energy Monitor, is daar 40 ekonomieë wat hulle dadelik kan verbind tot “geen nuwe steenkool” nie. Altesame 36 van hierdie lande het geen nuwe planne vir steenkoolkragsentrales nie en het nie enige eenhede in aanbou nie.

Dit sluit in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK), Ghana, Guinee, Mauritius, Namibië, Nigerië, Soedan en Zambië.

Nog 16 ekonomieë het net een voorgestelde steenkoolaanleg en kan hulle maklik daartoe verbind om nie nuwe projekte van stapel te stuur nie. Dié lande sluit in Djiboeti, eSwatini, die Ivoorkus, Kenia, Madagaskar, Marokko, Niger en Tanzanië.

Sewe lande, waaronder Sri Lanka, Chili en Duitsland, het hulle verlede maand by die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering tot ʼn geen nuwe steenkoolkrag-ooreenkoms verbind en hulle het ander lande genooi om dieselfde te doen voor die COP26-klimaatberaad volgende maand gehou word.

Ember sê ʼn onlangse verslag wys dat planne om nuwe steenkoolkragsentrales te bou met 76% gedaal het sedert die Parys-ooreenkoms in 2015 aangegaan is.

Sedert 2015 het 44 regerings reeds formeel onderneem om geen nuwe steenkoolkragsentrales te bou nie.

Die VN se sekretaris-generaal, António Guterres, het gevra vir “geen nuwe steenkool teen 2021 nie”, terwyl COP se aangewese president, Alok Sharma, gevra het dat lande steenkool tydens volgende maand se beraad “tot die geskiedenis sal laat behoort”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Madeleine ·

Politiese gedrewe seker. As iemand al by n steenkoolmyn was Sal Jul stem Dat dit so Sleg is vd omgewing.

Di ·

Ja, want die ANC regering wil nie daarvan ontslae raak nie, maak te veel geld hieruit. Andre de Ruiter het in ‘n vorige onderhoud dit duidelik gestel dat alternatiewe daar is maar die goedkeuring van die Regering vereis. Iewers maak iemand baie geld uit hierdie steenkool bedryf uit, dis so duidelik soos daglig.

JohanR ·

SA een van min wat volhou met ‘n polietike party en ministers met geen breins nie!

Johann ·

Waar daar n steenkool te myn is sal die ANC sy sakke vol pak met “tenders vir kaders”. Maak LEKKER geld uit BEEEEEEEE. Ter wille van hul.eie magsmal geld en rasmal beleid….ten koste van n land en die klimaat. En HOE verduidelik jy iets soos dit aan n ANC MINISTER?

Di ·

EISH, hulle verstaan NIKS behalwe om korrupsie te pleeg en die land in die afgrond te dryf

Hendrik ·

Dit is algemene kennis dat Eskom se beheerkamer in Simmerpan glad nie die groen energie wil inskakel nie en dat gehawende steenkoolkragstasies gebruik word omdat die kaders die steenkool tenders het. Ja daar moet basiskrag wees in Suid-Afrika vir nywerhede maar IPP met hul groenkrag kan baie van die druk afhaal. Die 14 Oop siklus gasturbines loop ook baie en beurtkrag is maar net daar om hulle dieselreserwes aan te vul.

Rupert Ashford ·

Hendrik, dit is nie so maklik soos “net die groen energie inskakel” nie. Son en Windkrag sinchroniseer nie soos ander bronne nie en jy moet ongelooflik baie geld spandeer aan infrastruktuur om die netwerk stabiel te hou. Miskien het de Ruiter ‘n goeie rede waarom hulle versigtig om ‘n alreeds kwesbare netwerk onder addisionele stres te plaas.

Shakespeare ·

Wat China seker besef of moet besef is dat Afrika 100 jaar agter die tyd is.

VaalDonkie ·

Kyk hier man, kom ons kry eers ons kragnetwerk reg voordat ons wegbeweeg van steenkool. Daar is ‘n rede waarom ons steenkool gebruik: dis volop, dis goedkoop, en dis maklik. Dink jy nou Eskom gaan sonkrag en goeie bedoelinge-gedrewe opwerkers instand kan hou?

Rupert Ashford ·

China het 1085 steenkoolkragsentrales, en beplan om ‘n verdere 43 te bou. Indie het 281 en beplan om nog te bou “omdat dit die goedkoopste bron van elektrisiteit is”. Die prys van steenkool bereik tans rekordhoogtes. Duitsland moes van hulle steenkoolstasies weer aanlyn bring omdat wind en son nie die netwerk kon stabiliseer nie, en hulle voer gas in van Rusland teen watter prys Vladimir Putin ookal vra omdat hulle nie ‘n ander keuse het nie as gevolg van mislukte groen beleide wat hulle netwerk verlam. Ontwikkelde lande is ewe skielik baie geinteresseerd in kernkragsentrales – Frankryk was tot onlangs van plan om hulle kernkrag tot 50% van die netwerk toevoer af te bring, maar het in die laaste weke van plan verander en gaan weer kernkragsentrales bou. Die enigste “skoon” energiebron wat ‘n netwerk stabiel kan hou is kernkrag. Watter opsie moet Suid-Afrika kies?

Rupert Ashford ·

Met ordentlike beheer en regulasies kan dit op ‘n verantwoordelike manier gedoen word. En nie orals nie.

Samuel ·

Die dierbare ANC kan nie vernuwend dink nie. Hulle gee ook geen snars om vir die omgewing nie. Pffffft.

Suzette ·

Die regering het nie ORE nie. Net jammer dat die res van Suid-Afrikaners, met spesifieke verwysing na die belastingbetalers saam daaronder moet ly.

marius ·

Want hul Sjinese pelle dring daarop aan . Daar sal van die hool net ‘n swart gat oorbly .

Dirk Mostert ·

Dis dwaasheid om van steenkool na groenkrag oor te slaan. Kyk wat hierdie winter in Europa gaan gebeur. “Klimaatsverandering” is gebaseer op vals wetenskap.

Jack ·

Daar is soveel korrupsie fondse vir regte betaal dat die sogenaamde regering nie anders kan nie. Wat hulle belowe kan jy maar dadelik vergeet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.