SA egpaar se dood in VSA steeds ʼn raaisel

Gerrit by sy ouers Hardus en dalene Scheepers. Foto: Facebook

Gerrit by sy ouers Hardus en dalene Scheepers. Foto: Facebook

Die polisie in Houston, Texas, sê hulle wag op die uitslae van die lykskouings om te bepaal waaraan Hardus en Dalene Scheepers oorlede is.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is dood aangetref in hul huis in die weste van Houston. Volgens die polisie is daar omstreeks 09:10 Donderdag (hul tyd) op die egpaar se liggame afgekom nadat die polisie ʼn oproep ontvang het van ʼn bekommerde persoon wat die egpaar baie lanklaas gesien of van hulle gehoor het.

“Patrolliebeamptes het op die oproep reageer en ʼn persoon bewusteloos in die huis gevind. Paramedici is na die toneel ontbied en het die slagoffers in die huis dood verklaar,” het die polisie in ʼn verklaring gesê.

Volgens die webwerf Click2Houston was daar geen teken van gedwonge toegang tot die huis nie en is die egpaar se liggame in verskillende vertrekke in die huis gevind. “Dit is ʼn baie stil buurt en om al die polisie-aktiwiteit in die omgewing te sien was baie ongewoon,” het Laura Gorten, ʼn buurvrou, aan die webwerf gesê.

Frans Scheepers, ʼn familielid, het vroeër aan Maroela Media gesê dit is nog nie duidelik wat gebeur het nie. “Ons kan nie in dié stadium sê dit is moord nie. Die besonderhede is nog baie vaag en ons weet nie veel nie.”

Hardus was ʼn chemiese ingenieur en het vir Sasol gewerk. Die egpaar het twee kinders. Hul seun, Gerrit Scheepers, studeer in Seattle in die VSA terwyl hul dogter, Anelda Steyn, en haar man in Suid-Afrika woon.

“Ek en sussa is ontsaglik lief vir julle albei,” het Gerrit op Facebook geskryf waar hy ʼn foto van hom en sy ouers gedeel het. Betuigings van medelye stroom intussen in op Facebook.

Maroela Media het die Suid-Afrikaanse departement van internasionale betrekkinge en samewerking se woordvoerder om kommentaar genader, maar hy kon nie bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.