SA ekonomie begin weer kop optel

(Foto: Maroela Media)

Nadat die Covid-19-pandemie en die afsonderingstydperk chaos in die Suid-Afrikaanse ekonomie veroorsaak het, begin sake nou weer verbeter.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag aangekondig die Bruto Binnelandse Produk (BBP) het in die derde kwartaal met 13,5% toegeneem wat tot ʼn geannualiseerde groeikoers van 66,1% gelei het. Dit volg ná die geannualiseerde daling van 51,7% in die tweede kwartaal.

“Die styging in ekonomiese aktiwiteit in die derde kwartaal lyk dalk indrukwekkend, maar dit begin op die baie lae basis wat in die tweede kwartaal aangeteken is. Suid-Afrikaanse bedrywe het nog ʼn lang pad om te stap voordat vlakke van vóór die pandemie bereik word,” het StatsSA gesê.

Ondanks die verbetering is die ekonomie steeds 4,5% kleiner as in dieselfde tyd verlede jaar.

Die vervaardiging-, handel- en mynbedryf was die grootste aandrywers van groei in die derde kwartaal. Die vervaardigingsbedryf het teen ʼn geannualiseerde koers van 210,2% gegroei en is meestal aangevuur deur toenames in die produksie van basiese metaalprodukte, petroleum, voertuie, kos en drank.

Handel was die naasgrootste bydraer. Daar was ʼn toename in grootmaatverkope, verkope by kleinhandelaars en ander motorverkope en dit is gesteun deur ʼn toename in verbruikerbesteding.

Die styging in mynbedrywighede is veral moontlik gemaak deur die toename in die produksie van platinum, ystererts, goud en mangaanerts.

StatsSA sê die landboubedryf en die staatsektor was die twee bedrywe wat die Covid-19-pandemie tot dusver die beste die hoof gebied het. ʼn Vergelyking van vanjaar se eerste drie kwartale met verlede jaar se eerste drie kwartale wys dat landbou met 11,3% toegeneem het en die staatsektor met 0,8%. Alle ander bedrywe het dalings ondervind.

Verbruikersbesteding het in die derde kwartaal toegeneem en die verslapping van Covid-19-regulasies het Suid-Afrikaners aangemoedig om hul beursies ʼn bietjie wyer oop te maak.

(Foto: Helena Yankovska/Unsplash)

Die grootste bydraers tot huishoudelike besteding in die derde kwartaal was vervoer, alkoholiese drankies en tabak, kos en nie-alkoholiese drankies, asook klere en skoene. Besteding by restaurante het ʼn geannualiseerde styging van 7 043% ondervind.

In vergelyking met die derde kwartaal verlede jaar was besteding vanjaar steeds maar effe traag. StatsSA sê die styging in besteding by restaurante en hotelle lýk dalk meteories, maar dit is steeds net die helfte van dít wat in dieselfde tydperk verlede jaar bestee is.

Uitvoere het weer begin toeneem, grootliks danksy ʼn toename in die handel van voertuie en vervoertoerusting, edelmetale en edelstene, masjinerie en toerusting, asook minerale.

StatsSA sê ʼn daling in invoere sedert die begin van die pandemie het beteken daar is minder goedere in die ekonomie beskikbaar. Dit het baie ondernemings gedwing om ander planne te maak om in die vraag na sekere goedere te voldoen.

*StatsSA sê die kwartaallikse groeikoers kan “geannualiseer” word om te wys wat die jaarlikse groei (met ander woorde jaar-op-jaar-groei) sal wees as die kwartaallikse groeikoers vier keer agtereenvolgens voorkom. Die geannualiseerde koers gee ʼn rowwe vooruitskattingsmodel wat nuttig is wanneer die ekonomie bestendig is, maar in mindere mate in ʼn wispelturige ekonomiese omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nie Verbaas ·

Dit beteken absoluut niks nie. Die land se skuld het met hoeveel gegroei? Met korrupsie, wanbestuur en wanbesteding is die ekonomie oor die afgrond en ANC besit nie die vermoe om dit reg te stel nie.

Jaco ·

Die ekonomie tel miskien bietjie op, maar dis VER vanaf ‘n gesonde ekonomie of vanaf ekonomiese vlakke voor inperking begin het. Intussen is die Kangogrotte steeds gesluit en Tafelberg se kabelkarretjie maak al 4uur in die middag toe. Konsertsale bly toe. Meeste kerke se Sondagskole bly toe. Is dit die nuwe normaal, selfs ná almal die entstof teen Corona gekry het? Is maskers en sosiale afstand ook hier om te bly?
As dít is hoe die tou toekoms permanent gaan lyk, dan is dit maar ‘n boring lewe wat voorlê. Indien die Antichris en die illuminati en die wêreld se groot geldmagte agter dié hele corona ding sit, dan is ek maar terleurgesteld in dáárdie organisasies se vindingrykheid. ‘n Bietjie meer “sonde” en net gewone teruggekeer na pret en plesier sou baie beter gewees het.

Dirk Mostert ·

Daardie instansies is baie vindingryk. Dis hul doel om die massas te verarm en sodoende wereld-diktatuur teweeg te bring. Covid-19 is ‘n meesterskuif.

Dirk Mostert ·

Dis g’n styging in groeikoers nie, maar ‘n gedeeltelike terugkeer na normale toestande voordat die regering die ekonomie geruineer het met die onsinnige covid-19 inperking. Buitelandse reserwes daal ook.

Adam Adriaan ·

Soos die ANC regering nou aangaan is dit die laaste “kop optel” om die laaste bietjie suurstof in te kry voor die laaste asem uitgeblaas word.

Mrs H ·

Ek sukkel om enige geloof in die syfers te he. Sal nie verbaas wees as dit ook gedokterde nommers is nie. Daar is amper geen werk, land het meer skuld as wat betaal kan word….

Hendrik ·

Die ekonomie werk van ‘n baie lae basis en dit is maklik om te groei as die die JSE die laaste 5 jaar negatiewe groei gehad het. Baie besighede maak toe en ry maar net rond in Centurion en kyk vir jouself. Ek kry vir die laaste 2 jaar dubbelsyfer groei in oorsee se belegging en almal kla oor die tradisionele maatskappye se groei. Groot probleem is pensioenfondse se Artikel 28 beperkinge en ons probleem is dat pensioenfondse net eenvoudig nie groei nie en maatskappye moet hul werkers verlos van hierdie beperkinge deur nie gebruik te maak van ons tradisionele pensioenfondse. Ek sit bin dieselfde knyptang…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.