SA ekonomie ‘geknak’

Sommige kennes sê dít wat Suid-Afrika die afgelope paar maande ondervind , is nie net ʼn resessie nie, maar ʼn volskaalse ekonomiese depressie. (Foto: Maroela Media)

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Saterdagaand dat Suid-Afrika se afsonderingsregulasies verder verslap word, is uit verskeie oorde verwelkom, maar kenners waarsku die ekonomie is “geknak”.

“Ek voorsien betreklik vinnige groei in sektore soos die gasvryheid- en restaurantbedryf, maar die Suid-Afrikaanse ekonomie is geknak en dit gaan jare duur om te herstel,” sê Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep.

Roodt waarsku minstens drie miljoen werksgeleenthede is weens die afsonderingstydperk daarmee heen – ʼn miljoen daarvan permanent.

Hy sê hoewel sommige verbruikers byvoorbeeld na hul gunsteling-eetplekke gaan terugkeer, gaan ander die nie doen nie bloot omdat hulle dit nie meer kan bekostig om te gaan uiteet of te reis nie.

“Niemand weet presies hoeveel skuld tydens die afsonderingstydperk aangegaan is nie, maar die feit is dat dit in hierdie stadium waarskynlik meer is as ekonome se beste raaiskoot.”

Volgens Roodt is dít wat Suid-Afrika die afgelope paar maande ondervind het nie net ʼn resessie nie, maar ʼn volskaalse ekonomiese depressie.

“Talle van die sakeondernemings wat hul deure tydens die afsonderingstydperk gesluit he, gaan nooit weer heropen nie en die werksgeleenthede en belasting wat hulle tot die ekonomie bygedra het, is permanent verlore.”

‘n Leë dop wat voor die afsonderingstydperk nog ‘n restaurant was. (Foto: Maroela Media)

Prof. Raymond Parsons, ʼn ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, stem saam dat die uitgerekte afsonderingstydperk ʼn verwoestende uitwerking op die ekonomie gehad het. “’n Gesonde ekonomie en ʼn gesonde samelewing is interafhanklik en ʼn moeilike pad lê voor. Daar is maalkolke aan albei kante en gesondheidsprotokolle bly noodsaaklik.”

Parsons sê die daaglikse Covid-19-statistieke wat bekend gemaak word, moes byvoorbeeld met weeklikse assesserings deur Statistieke SA of die tesourie gepaard gegaan het oor wat die ekonomiese uitwerking van die afsonderingstydperk is.

Parsons sê Suid-Afrika se ekonomie was selfs voor die afsonderingstydperk op die afdraande pad en die land was reeds in ʼn resessie. Dit is vererger deur die uiters streng afsonderingsregulasies en die resessie het vererger.

“Baie ondernemings het hul deure gesluit om nooit weer te heropen nie.”

‘n Sigaretrak word afgestof in afwagting van die verbod op die verkoop van tabakprodukte wat opgehef word. (Foto: Maroela Media)

Hy sê hoewel die opheffing van die verbod op drank- en tabakverkope en interprovinsiale reise verwelkom word, kan dit tot twee jaar duur vir die ekonomie om te herstel.

Suid-Afrika se BBP gaan volgens Parsons vanjaar na verwagting met tussen 8% en 10% krimp. Parsons sê ekonomiese groei van tussen 2% en 3% is wel volgende jaar moontlik.

“Daar is diepe onsekerheid oor Suid-Afrika se vermoë om in een stuk deur die krisis te kom en sake- en verbruikersvertroue moet herstel word. Die hoop dat ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika geleidelik gaan normaliseer, kan verpletter word as beurtkrag aanhou om mense se daaglikse lewe te ontwrig en ʼn streep deur die produktiewe sakesektor trek,” sê Parsons.

Hy sê Ramaphosa se versekering dat daar streng teen korrupsie opgetree gaan word, is belangrik, maar dat die plundery van Covid-19-geld tekenend is van ʼn veel groter probleem. “Beleid en projekte wat in die wiele gery word weens korrupsie doen nie veel nie om beleggers te lok wat verseker wil word dat tenderprosedures by alle staatsinstellings, ook sleutelstaatsbeheerde ondernemings, bestendig, billik en deursigtig sal wees.”

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, stem saam dat korrupsie in bedwang gebring moet word.

“Regerings skep gewoonlik nie rykdom nie, maar hulle vernietig dit deur roekelose besteding. As ons begin deur die miljarde rande op te tel wat verlore gegaan het weens ongebreidelde korrupsie en die ramp wat talle van ons bankrot munisipaliteite is, gaan ons ʼn idee kry van presies hoe benard die situasie is,” sê Roets.

Daar was die afgelope ruk toenemende woede oor die miljarde rande wat weens korrupsie met Covid-19 tenders in korruptes se sakke beland het. Ramaphosa het aan die begin van die maand ʼn kabinetskomitee aangestel om korrupsie met Covid-19-tenders te ondersoek. Die taakspan se verantwoordelikheid is egter nié om hierdie tenders te ondersoek nie. Dit is om ʼn verslag oor die besonderhede van alle tenders en kontrakte aan staatsinstellings saam te stel en dan bekend te maak.

Sommige kenners het egter reeds gewaarsku daar is geen hoop dat lede van die komitee – soos Nkosazana Dlamini-Zuma en Bheki Cele – enigsins gaan toelaat dat inligting oor tenderkorrupsie werklik bekendgemaak word nie.

(Foto: pixabay)

Roets sê die situasie onder verbruikers op voetsoolvlak is kommerwekkend en al hoe meer mense sukkel om hul skuld terug te betaal. “Die omvang van hulle skuld het ook beduidend toegeneem in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar,” sê Roets.

Hy sê wat selfs meer kommer wek is die feit dat top-verdieners, soos dokters, prokureurs en uitvoerende hoofde, nou aan skuldberaders se deur klop vir hulp.

“Dit is die mense wat gewoonlik die meeste belasting betaal om die regering aan die gang te hou. Sonder hulle bydrae gaan die regering die pyn voel wat die res van ons reeds ervaar.”

Roets sê die enigste manier om die huidige krisis te oorkom, is vir die regering om te doen wat verbruikers al lankal doen – op ʼn strenger begroting werk.

ʼn Onlangse opname van Debt Rescue het gewys tot 85% van alle Suid-Afrikaners benodig finansiële of emosionele hulp, of albei. Nog 55% benodig geldelike hulp, maar het geen toegang tot krediet nie.

Soveel as 85% van die mense wat aan die opname deelgeneem het, het gesê die Covid-19-pandemie het ʼn direkte uitwerking op hul finansies gehad, ʼn aanduiding dat die meeste verbruikers in dieselfde benarde geldelike bootjie is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Cornelius ·

Jammer maar die werklikheid is dat dit nie gaan herstel onder die huidige politieke stelsel,
korrupsie en kriminaliteit nie.

Harry ·

Hier is die verskil. Die ekonomie mag geknak wees. Die sakeman se gees nie. Hy is net wyser en meer ingelig. Dis nie die eerste keer nie. Ook nie die laaste keer. As jy die passie het vir besigheid en SA sal jy daar wees. Kom ons maak n verskil.

Tong in die kies ·

Ek verstaan die inplikasie van finansiële druk op die ekonomie en al die mense wat nie hulle skulde kan betaal nie. Hoekom kan SA nie almal se skuld afskryf soos in sekere lande wat ek (dink) elje 7jaar doen nie.

Francois Le Cochon ·

Hoekom skuld aangaan. Die enigste skuld wat iemand behoort te he^, is huisverband skuld. Enige ander skuld beteken dat jy bo jou vermoe leef.

Ou gees ·

Die statestiek is verkeerd opgesom.

Hoegenaamd het ‘n virus nie veroorsaak dat die ekonomie ‘geknak’ het nie, dit was drakoniese inperkingsmaatreels en die besluite van die regering.

Maar die pap, hy’s klaar…… gister.

Ons regering kan nie verantwoordelikheid neem nie omdat hul geen gesag het nie.

Die regering probeer ‘n virus beskuldig want hulle wil nie hulself veroordeel nie. En as hulle dit erken, is hulle bang vir wat die mense aan hulle gaan doen.

Ons regering is bang vir ons, elke keer as hulle skuld ontken in blatante optrede.

Jacques ·

Ja, stem saam, kom ons almal wees eerlik met mekaar. Die virus het nie die ekonomie geknak nie – die inperking het die ekonomie geknak. En ek kan my nie indink dat die regering NIE geweet het dat dit die gevolg sou wees nie. Hulle het baie goed geweet.

Boksombende ·

Dink daaraan: As meeste van die ekonomie werklik nog in die hande van die “minderheid” was, dan wat het die sogenaamde “meerderheid” gehad om te verloor tydens die inperking? Die antwoord: Meestal, baie min.

Dan, vir die groep wat wel iets sou verloor, was daar baie gerieflik ‘n vereiste dat jou maatskappy ‘n sekere BBBEE status het voordat hulp aan jou verleen word.

Wie besit meeste van die wynplase? Wat van ander soortgelyke ondernemings?

Daar was vir seker ‘n groter plan gewees agter die strenge, lang inperking. Die regering lag lekker.

Mariana ·

En so kom daar een naam op wat altyd aan die voortou is vir probleme DLAMINI-ZUMA. Hoekom het sy so baie mag om ‘n hele land lam te lê?…. Hoekom is sy nog daar? Watse houvas het sy op die president. Maar net paar vrae wat vir my en ek dink baie ander onbeantwoord bly. Sy is ‘n probleem en moet weg. Te lank al hou die Zuma’s hierdie land as hul eie spaarvarkie vas. Kan die regering dan nie sien dat sy al opneuk nie. Kom mnr die president, trek aan jou president pakkie en doen jou werk.

Francois Le Cochon ·

DZ is net die boodskapper. Sy word geadviseur deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes.

Adam Adriaan ·

Hierdie moet nie gesien word, dat dit net tot SA beperk is nie. Dit is deel van die Global Elite se strategiese plan. SA is toevallig voor die pandemie al so deur die sosialistiese/ kommunistiese beleid verrot, dat dit ‘n bonus was. SA het nou toe getree tot die IMF se fondse. Die volgende stap is nog lenings, met die kee; streng voorwaardes, wat SA entlik, onder administrasie van die IMF(Global Elite) plaas. Hulle sal nou dikteer wat hier gebeur. met hulle(Gobal Elite) se oorweegend linkse libirale/sosialistiese kultuur, moet die SA bevolking aanvaar dat daar nog ‘n gekners van tande sal wees in die land van ons.

Francois Le Cochon ·

Snert. Moenie jou ore uitleen aan die wat samesweringsteorie versprei nie. Gebruik jou eie “common sense” in terme van die feite.

Francois Le Cochon ·

Die hele wereld se ekonomie is geknak. Voor Covid was daar op enige gegewe tyd 1 miljoen vliegtuie in die lug. Covid het veroorsaak dat seker 99.9 % van alle vliegtuie al vir maande lank op die grond staan.

Stefan ·

Ekonomie geknak, geld is op, maar ons bly mos in afrika, kan mos gewoon geld begin druk.
Maar net nie deur die staatsdrukkery nie, hulle kan dit nie hanteer nie, ons druk/print dit somer van die huis af, geld probleem opgelos, elkeen het weer baie geld.

Wielspore ·

My werkgewer het verliese gehad sederd die inperking en die vooruitsigte vir die toekoms lyk goed met ons mark wat intussen weer met tot 26% opgetel het. Net gister het ons gesien hoe die boere nuwe Makadamia lande en bome ontwikkel vir die toekomstige mark, ek praat van groot stukke grond. Met drankverkope wat weer toegelaat is, is daar ook van vandag af bestellings vir verpakkings materiaal vanaf die wynboere in die Kaap.
Laat sak maar die wit vlag, dit is nie nou die tyd vir oorgee, dit is nou die tyd om die seile te span op pad na ‘n beter toekoms.

Anoniem ·

Ja Wielspore die Blanke het nog altyd die vermoe gehad om op te staan en aan te beweeg

Miskruier ·

Ons weet mos nou, dis nie meer n blanke ekonomie nie, sou die ekonomie verbeter, gaan die ANC hom op die skouer klop.

Persheks Adri ·

Cyril het gesê daar gaan streng opgetree word teen korrupsie ja right tata ma chance ne! Ons wag in spanning vir die kaders om te gaan sit in die tronk… Ons bedank die ANC se korrupsie vir die ekonomie!

johan ·

Dit is onmoontlik om die regering te oortuig hul maak droog, hul is mags behep en sien net geld,geld en nogmaals geld.

JohanR ·

And who do we have to thanks? Nee man, nie Boland Bank nie…..niemand anders as die DIE ANC! Suid Afrika sal weer eendag regkom waaneer die ANC weg is. Hopelik is dit nie lank nie! Die land is nog toegesluit tussen 10 en 4 snags. Kan enigeiemand dit verstaan. Is die virus meer bedryfwag tussen 10 en 4, of is die ANC nog nie klaar met hulle donker middernag planne nie!

Piet ·

So amper asof dit ‘n verskrilikie slegte idee is om ‘n ekonomie te struktureer om oneindige verbruik. Die kapitalistiese Keiser het nie klere aan nie.

Fluisterwind ·

Die Zondo-kommissie het ons R700 miljoen gekos tot dusver…….en wie gaan tronk toe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.