SA ekonomie groei verlede jaar met 4,9%

mynboubedryf-02

Hoër as normale reënval was goed vir landbou, maar nie soseer vir die mynboubedryf nie. (Argieffoto: pixabay)

Suid-Afrika se BBP het met 1,2% in die vierde kwartaal van verlede jaar gegroei, wat die jaarlikse groeikoers vir 2021 nou op 4,9% te staan bring.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het die ekonomie egter steeds nie na die vlak in die tweede kwartaal van verlede jaar – voor die burgerlike oproer en strenger afsonderingsregulasies in die derde kwartaal die ekonomie geruk het – herstel nie.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie is nog lank nie uit die moeilikheid nie, maar die jongste syfers skets ʼn effens meer positiewe prentjie met persoonlike dienste, handel, vervaardiging en landbou wat die sleutelaandrywers van groei was.

ʼn Toename in die vraag na goedere en dienste het besteding opgestoot, terwyl uitvoere en huishoudelike besteding die grootste bydrae tot groei gelewer het.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, sê ekonomiese bedrywighede is tans gelykstaande aan dié van die derde kwartaal van 2017, dus vyf jaar gelede, en die ekonomie is ook kleiner as wat dit was in die eerste kwartaal van 2020.

Huishoudelike besteding styg

Volgens Stats SA het huishoudelike besteding in die vierde kwartaal herstel, met ʼn toename van 2,8%. In ʼn weerspieëling aan die produksiekant van die ekonomie het huishoudelike besteding oor alle produkkategorieë toegeneem.

Die grootste bydrae hiertoe was kos en nie-alkoholiese drankies, restaurante en hotelle, en meublement en huishoudelike toebehore.

Hoewel daar in die vierde kwartaal ʼn toename in produkverskaffing was, teweeggebring deur ʼn styging in produksie en invoere, moes die handel- en vervaardigingsbedryf steeds op hul reserwevoorraad staatmaak.

Uitvoere het met 8,5% toegeneem en was hoofsaaklik te danke aan edelmetale en edelstene soos goud, platinum en diamante, asook ʼn vraag na voertuie, onderdele en bybehore. Invoere het ook toegeneem.

Mynbou, landbou en vervaardiging toppresteerders

Ná ʼn droewige 2020, toe die ekonomie met 6,4% ineengekrimp het, het ekonomiese bedrywighede verlede jaar tot 4,9% toegeneem.

Mynbou, landbou en die vervaardigingsektor het verlede jaar die grootste groei getoon, terwyl finansies, persoonlike dienste en vervaardiging die grootste positiewe bydrae tot algehele groei gelewer het.

Persoonlike dienste, wat ook gesondheidsverwante sake insluit, toon verbetering wat volgens Maluleke hoofsaaklik uit die nasionale inentingsprogram teen Covid-19 spruit. Verskeie hospitale het ook ʼn toename in opnames, wat nie met Covid-19 verband hou nie, in die vierde kwartaal aangemeld.

Nadat afsonderingsmaatreëls verslap is, het handel met 2,9% toegeneem met positiewe neigings in die motorhandel, toeristeverblyf, restaurante, kitskos en spyseniering. “Ekonomiese bedrywighede in die grootmaatsektor was egter effens laer,” sê Maluleke.

Die styging van 2,8% in vervaardigingsuitset word hoofsaaklik toegeskryf aan die produksie van petroleum-, chemiese en plastiekprodukte, sowel as kos en drankies.

Hoër as normale reënval was goed vir landbou, maar nie soseer vir die mynboubedryf nie en Suid-Afrika het minder ystererts en steenkool in die vierde kwartaal geproduseer nadat swaar reën bedrywighede by oopgroefmyne ontwrig het. Ook goud-, mangaanerts, diamante en chroomprodusente het laer syfers aangeteken.

Beurtkrag en infrastruktuurprobleme lê nutsdienste (elektrisiteit, gas en water) steeds aan bande en ʼn daling van 3,4% is ondervind.

Die boubedryf steier steeds en het in die vierde kwartaal met 1,9% ineengekrimp. Dit is die vyfde agtereenvolgende jaar wat ʼn daling in die konstruksiebedryf aangeteken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pietertjie ·

Heng! Verwar hulle nie die syfers met iets anders nie? Dis seker sonder om die 10%+ inflasie en al die skuld wat die regering aangegaan het in berekening te bring.

Marius ·

Ek dink die manne kan nie somme maak nie. Tarief verhogings vir krag, water, erfbelasting, munisipale dienste en styging van pryse van huishoudelike items, voedsel, vervoer, brandstof kan nie as groeiende ekonomie gesien word nie. Dit is hoër besteding weens prys stygings. Almal behalwe die rykes word armer en die regering is bankrot, die wat onder die broodlyn leef het vermeerder en skool en universiteit verlaters kry nie werk nie. Dit lyk eerder na ‘n somber prentjie…

Johann ·

Net toe ek dink die manne by die LOTTO kantoor maak die pap dik aan met al die wenners…TADA!!!!!! STATS SA se Pinocio neus(e) groei vir n eerste prys. WHAT THE FUNNY? Ergste is hulle dink ons glo dit? Niemand gaan hulle 30% STATISTIEKE in twyfel trek nie? Piesang Republiek. Of die verslag het n draai by ZUNPI gaan maak vir editing?

Dirk Mostert ·

Om van die lae basis weens die covid “lockdown” te verbeter is niksseggend.

Samuel ·

Ek glo hierdie statistieke hoegenaamd nie. Inflasie het beslis gestyg.

casper ·

So totale groei oor 2 jaar is ‘n massiewe 0.75% per jaar !!
Viva ANC !!!

Marina ·

Groei, wat groei, dalk die bome ja of die klomp rook boom. Die ekonomie waarna hulle verwys is seker die dik sakke vol geld wat hulle steel

Blikkies ·

Hoe werk hulle die goed uit, dit bleik vir opgemaakte syfers te wees. Ek vermoed hulle verwys slegs na die groei van sekere sektors binne in hulle self, maar sluk swaar aan die persentasies van huishoudelike bestedings? die meeste mense kan skaars ‘n bestaan voer en leef op of onder die broodlyn? Miskien is hierdie statistieke slegs van die Super rykes bekom! Hou op om vir die volk te lieg, vertel hulle die waarheid waar ons staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.