SA ekonomie nog nie uit gevaarsone

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Hoewel Suid-Afrika ʼn tegniese resessie vrygespring het deur 3.3% ekonomiese groei in die tweede kwartaal te toon en daardeur twee opeenvolgende kwartale van negatiewe groei vermy het, lyk die ekonomiese omstandighede steeds onseker.

Stats SA het Dinsdag aangekondig die groei in bruto binnelandse produk (BBP) het beduidend omgekeer teenoor die eerste kwartaal van 2016, toe ʼn inkrimping van 1,2% aangedui is. Hoewel ander oorwegings ook gewoonlik geld, is ʼn land tegnies gesproke in ʼn resessie as sy ekonomie vir twee opeenvolgende kwartale ʼn negatiewe BBP-groeikoers getoon het.

Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het aan Maroela Media gesê hoewel Suid-Afrika nie twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe BBP-groei beleef het nie, was ekonomiese toestande sedert die tweede kwartaal van 2015 soortgelyk aan ʼn resessie.

“Hoewel die jongste BBP-groeikoers goeie nuus is, het die koers in vier van die afgelope vyf kwartale negatiewe of baie swak groei getoon. Vergeleke met die gemiddelde ekonomiese groei tussen byvoorbeeld 2011 en 2014, presteer ons ekonomie eintlik nog baie swak,” het hy gesê.

Volgens Van Onselen het die gouduitvoere in die tweede kwartaal, tydens die Brexit-onstuimigheid en ʼn toename in vervaardigingsbedrywighede, ʼn groot bydrae gelewer tot die jongste positiewe BBP-groeikoers. “Ná die sogenaamde Nenegate in Desember, het die rand aansienlik teenoor die dollar verswak in die eerste kwartaal. Dit is denkbaar dat ʼn relatief sterker rand in die tweede kwartaal tot vervaardigingsgroei en gepaardgaande ekonomiese groei bygedra het,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg hoewel die jongste BPP-groeikoers positief is, sal dit te vroeg wees om te dink dat die ekonomie ʼn keerpunt bereik het. “Die onderliggende faktore, soos kommer oor die onafhanklikheid van die tesourie, tesame met die voortslepende konflik tussen die Valke en finansiesminister Pravin Gordhan en die vraagtekens oor sake by van die groot staatsbeheerde instellings, is nog nie voldoende bygelê nie.”

Van Onselen het gesê kwalitatiewe oorwegings, soos ʼn verbetering in regeringsbeleid wat sake strem, ʼn werklike aanduiding sal wees dat die ekonomie ʼn positiewe rigting inslaan.

“Die 3,3% groei kan wel tot die positiewe oorwegings bydra wanneer die kredietgraderingsagentskappe oor Suid-Afrika se kredietgradering besluit, maar ʼn mens moet onthou dat die agentskappe baie verskillende faktore in ag neem, nie net BBP-groei nie. Die graderingsagentskappe kyk ook na politieke onsekerheid, regeringsbeleid, die begrote belastinginkomste, staatskuldvlakke, ensovoorts.”

Van Onselen het gesê dit is te vroeg om ʼn voorspelling te waag of Suid-Afrika hierdie ekonomiese groei sal kan volhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Ek sien die groei vir die 2 de kwartaal maak nie ‘n vaal kol nie, want verlede week het R10 Biljoen die land uit gevloei as gevolg van die Gordhan sage. Die ANC manne kan maar ophou om mekaar geluk te wens en hande klap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.