SA en wêreld se rykes kies Australië

Sydney, Australië. Foto: Pixabay

Daar het verlede jaar meer as 10 000 miljoenêrs na Australië verhuis, onder wie honderde Suid-Afrikaners.

Dit is volgens die jongste AfrAsia Bank Global Wealth Migration Review-verslag. Miljoenêrs word beskryf as hoënettowaarde-individue wat netto bates van $1 miljoen of meer het.

Volgens ʼn berig van The Sydney Morning Herald is 90% van die miljoenêrs wat na Australië verhuis het van China afkomstig, gevolg deur Maleisië, Suid-Afrika (1,3%) en Viëtnam.

Visum-aansoeke ingevolge Australië se program vir sake-innovasie en beleggings, wat beleggers met meer as $1 miljoen in bates insluit, het in 2016/17 met 74% van 5 781 tot 9 051 gestyg.

Die verslag wys ook dat China nagenoeg 10 000 miljoenêrs verloor het. Die miljoenêrs het hoofsaaklik na Amerika, Kanada en Australië verhuis.

Volgens die verslag verhuis miljoenêrs hoofsaaklik na Sydney, Melbourne, die Goue Kus, die Sonskynkus, Perth en Brisbane. Die hoofredes hoekom miljoenêrs na Australië trek, is volgens die verslag weens die land se ligging wat dit ʼn beter basis maak om sake te doen in opkomende Asiatiese lande soos China, Japan, Suid-Korea, Hongkong, Singapoer en Viëtnam.

Melbourne, Australië. Foto: Pixabay

Nog ʼn groot rede is veiligheid. Australië is vroeër as die veiligste land in die wêreld vir vroue aangewys en word beskou as ʼn veilige land om kinders groot te maak. Australië se erfbelasting is ook laer as dié van Amerika. Onderwys en die klimaat tel ook onder die redes hoekom miljoenêrs Australië verkies.

Australië verskyn in die negende posisie op die verslag se lys van die tien rykste lande wêreldwyd met $6 142 miljard. Die rykdom verwys egter na die private rykdom wat gehou word deur al die individue wat daar woon. Dit sluit al hul bates (eiendom, kontant, aandele, sakebelange) minus enige laste in.

Op die lys van die tien rykste lande in die wêreld per kapita beklee Australië die vyfde posisie met ʼn rykdom van $279 200 per kapita.

Die verslag raak ook die vlak van rykdom-ongelykheid in die wêreld se grootste lande aan. Dit is gedoen deur te kyk na die hoeveelheid rykdom wat deur miljoenêrs beheer word – hoe hoër die verhouding, hoe meer ongelyk is die land. As die miljoenêrs meer as 40% van die land se rykdom beheer, dan is daar baie min ruimte vir ‘n betekenisvolle middelklas. Ideaal gesproke moet die verhouding minder as 30% wees. Hiervolgens is Japan (23%) eerste op die lys, gevolg deur Nieu-Seeland (26%), Noorweë (27%) en Australië op 28%.

Brisbane, Australië. Foto: Pixabay

Die verslag  is al moontlike negatiewe faktor daaraan verbonde om ‘n welgestelde persoon in ʼn land te laat kom vestig, dat hulle eiendomspryse kan opstoot tot vlakke wat plaaslike inwoners nie kan bekostig nie. “Daar is egter beheermatreëls wat ingestel kan word om te verhoed dat dit handuit ruk, soos die maatreëls wat in Australië ingestel is waarvolgens buitelanders verhoed word om tweedehandse huise te koop.

Australië het teen einde 2017 reeds 376 600 miljoenêrs gehad, 12 340 multimiljoenêrs (individue met bates van $10 miljoen of meer) en 36 miljardêrs (individue met bates van $1 miljard of meer).

Sydney is ook op die lys van die wêreld se top-20 duurste eiendomsliggings met die gemiddelde vierkante meter wat jou tot $25 000 uit die sak kan jaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Wessel ·

Is “Oestralië” besig om ‘n provinsie van China te word?
Is Ysland nie veiliger vir vrouens as “Oestralië” nie?
Ek was so rukkie gelede in “Perffontein” vir werk. Nie ‘n te slegte plekkie nie. :):)

John ·

Is Perffontein die nuwe naam vir die plekkie oos van Bloemffontein? Daar waar die mense perfform as die vliegtuie nie betyds wil opstyg nie… G’n kangeroesse vir my nie, dankie. Miljarders of te not.

Nettie ·

@John, ek gee nie om oor die kangaroo’s nie. Dit is die haaie, spinnekoppe, slange en ander gifterige goggas in Australië wat my pla …………………..

Cherokee ·

Maar Nettie, jy woon in Suid Afrika wat vervuil is van giftige goggas!

Hanna Hoekom ·

En dan is daar nog mense wat Australie kap oor sy streng immigrasie beleid? Hier is die suksesverhaal agv n streng immigrasie beleid. Dit is egter te laat vir Suid Afrika met sy miljoene ongewenstes uit ander toilet-lande.

anton ·

Ek sal darm wat wou gee om ook daar te kan gaan woon, maar ek is heeltemal te arm.
Of as ek maar net daar kon gaan werk het, al is dit besem stoot en n lewe daar kan maak en veilig lewe en eendag my oudag daar kan afsluit, sal dit hemels wees dink ek.
Maar ja, mens kan seker net droom.

Nouja ·

Portugal. Diegene wat immigrasie ernstig oorweeg, maar nie Australië kan bekostig nie – Portugal. Dit is een van die mees onderskatte en bekostigbaarste EU lande waarna die gemiddelde middelklas Suid Afrikaner kan emigreer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.