SA ent te stadig in – kenner

(Argieffoto: Unsplash)

Terwyl sommige ontwikkelde lande waarskynlik vanjaar nog die punt sal bereik waar Covid-19 nie meer ʼn permanente rol in inwoners se lewe speel nie, het Suid-Afrika nog nie eens met sy massa-inentingsprogram begin nie. As Suid-Afrika teen dié spoed voortploeter, sal die land ʼn vierde en selfs ʼn vyfde golf Covid-19 moet trotseer voordat kudde-immuniteit bereik word, waarsku ʼn kenner.

Die regering spog dat meer as 207 000 gesondheidswerkers sedert verlede maand ingeënt is. Dié inentings vorm egter nog deel van ʼn studie genaamd Sisonke – ʼn kliniese proef van die enkeldosis Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), wys daarop dat slegs ongeveer 0,35% van Suid-Afrika se bevolking van byna 60 miljoen tot dusver teen Covid-19 ingeënt is.

Minstens 67% van ʼn land se bevolking moet teen Covid-19 ingeënt word om kudde-immuniteit te kan bereik. Die regering se aanvanklike doelwit was om meer as drie miljoen mense teen die einde van Maart in te ent.

Dít terwyl meer as die helfte van Israel se bevolking van 9,2 miljoen mense reeds albei dosisse van Pfizer/BioNTech se entstof teen Covid-19 ontvang het. Dié land word tans geloof vir sy inentingsprogram.

Mulder voorspel dat Suid-Afrika moontlik selfs ʼn vierde en ʼn vyfde virusgolf sal moet deurgaan voordat genoeg mense ingeënt is om kudde-immuniteit te bereik. Dit is indien die Suid-Afrikaanse regering die enigste aankoper van entstowwe bly en inentings teen die huidige koers voortsleep.

“As ons vir die regering moet wag, gaan ons regtig lank wag. Ons regeringslede het op hul hande gesit. Hulle is aan die skarrel, maar dis te laat.”

Die regering se plan

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Die kabinet het Donderdag in ʼn verklaring gesê 54 inentingspersele oor die land word tans ingespan om die land se gesondheidswerkers as deel van die Sisonke-studie in te ent.

Die regering beoog om as deel van fase 1 van sy inentingsprogram 1,5 miljoen gesondheidswerkers landwyd binne drie maande (vanaf Februarie) teen Covid-19 in te ent.

Luidens die kabinet se verklaring is die departement van gesondheid “op koers” om dié doelwit te haal.

Fase 2 sal dan vanaf Mei tot Oktober ingestel word. Tydens dié fase sal meer as 13 miljoen mense ingeënt word. Dit sluit in kwesbare groepe, noodsaaklike werkers en dié in die gesondheids- en veiligheidsbedryf. Werkers in sektore wat van sleutelbelang is vir ekonomiese herstel soos myne, gasvryheid, die taxibedryf, kleinhandel- en spazawinkels, groente- en vrugteverkopers en die media sal ook geteiken word.

Fase 3 sal oor drie maande tussen November en Februarie volgende jaar ingestel word om die res van Suid-Afrika in te ent. Meer as 22 miljoen mense word gedurende dié fase geteiken.

Die kabinet het die dosisse van Johnson & Johnson se entstof wat reeds in Suid-Afrika aangekom het, verwelkom en gesê dit verseker vordering met die instelling van fase 1 van die Sisonke-inentingsprogram. Die kabinet sê verder hy is optimisties oor die onlangse goedkeuring van Pfizer/BioNTech se entstof deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad.

“Die kabinet wil Suid-Afrikaners daarvan verseker dat die departement van gesondheid, in samewerking met die private sektor, in staat is om met massa-inenting te begin sodra fase 2 afskop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johann ·

So lieg jy jouself uit al die hoeke in n sirkel uit…..ANC LEGACY, maar “the fellow South African people” loop agter die leuns en bedrieg aan.

Nicci ·

Hahahhahahaa. Van ons gaan seker eers ingeent word in ons 50s. Kyk na USA. Hulle het al dubbeld die hoeveelheid mense ingeent as wat ons in SA is. Ons gaan seker ‘n 10de golf ook sien. Lockdown gaan seker nooit ophou nie soos wat dinge aangaan in die land

Kompas ·

Dis omdat die regering alleenreg het op die vaksiene. Stel voor dat privaat instansies en mediese fondse ook begin om vaksiene aan te koop.

Pieter ·

Ons werk met afrika tyd niks snaaks nie kyk hoe lyk die ANC land als val uit mekaar

Karpraat ·

Hier is my siening; die regering wil die inentingsveldtog so lank as moontlik uitrek om hulle in staat te stel om so lank as moontlik beheer te kan uitoefen oor alle inwoners deur middel van die huidige rampwet. Wie weet wat hulle nog alles in donker kamers bespreek tot ons nadeel en hulle geldelike en politieke voordeel.

Tewis ·

Vinnige vraag: dink julle die regering kry ń oproep of e pos van die virus om tesê hy gaan die lang naweek weer harder terug veg.
Want ons probeur hard om alles reg tedoen maar hoor van aandlae maar niks van dankie nie.
Ek dink hulle geniet die inperkings en geld maak skep storie.

Anel ·

Kan maar net vir die sirkus lag. Gelukkig sal niemand in ons familie geent word nie. Wat gaan hulle in elje geval volgende uit dink? Vir hoeveel verskillende siektes wil hulle die mense ent? Hoe lank wil hulle siektevry lewe? Mense gaan siek word, ongeag. En ons gaan almal doodgaan. So kom daaroor.

Mariana ·

Jammer maar ek glo nie ‘n woord wat uit die regering se mond kom nie, hulle lieg vir ons en verwag ons moet als glo. Net die wat ANC stem sal hulle nou nog glo. Nee hulle werk met ‘n slinkse plan maar hulle moet oppas dat die plan nie net soos al die ander in hul gesigte ontplof nie.

Yolande ·

Kon die regering al ooit iets reg doen, hulle is te besig om hulle geld trommels aan te vul. Kopdoek sal nie so maklik die pap prysgee wat lockdown laat reën het nie.

Misky ·

Dis vir die ANC belangriker om dorpe en stede se name te verander.

Dirk Mostert ·

“207,000 Gesondheidswerkers ingeent as deel van ‘n studie”. Word menslike eksperimentering dan nie deur die Nurenberg Kode verbied nie?

Raakvatter ·

Dis baie snaaks. “op koers”. So, as 1.5 miljoen teen einde April ingeënt moet wees, en slegs 207 000 is alreeds geënt, moet daar 40,916 inentings elke dag wees, begginend vandag, om die doelwit te bereik. Oook dan!

Carel Johannes ·

Grappieeee, hoe lekker lag ek nou. Gee hulle ‘n “Bells” dalk sal dit dan gebeur.

Elize ·

Onaanvaarbaar. Hulle moet geforseer word om dit oor te gee aan die privaatsektor om te hanteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.