SA entstowwe ‘beskerm’ teen Delta-variant

Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane. (Foto: GCIS)

Laboratoriumdata dui daarop dat die Covid-19-entstowwe wat tans in Suid-Afrika toegedien word, selfs beter teen die hoogs aansteeklike Delta-variant sal werk as teen die Beta-variant van die koronavirus wat vroeër op tuisbodem versprei het.

Só het prof. Penny Moore van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) Vrydagoggend gedurende ʼn mediakonferensie gesê.

Johnson & Johnson (J&J) het gister bekend gemaak dat sy enkeldosis entstof teen Covid-19 doeltreffend is teen die Delta-variant met ʼn immuunrespons (teenliggaampies) wat minstens agt maande duur.

Byna 480 000 Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers is teen Mei ingevolge die Sisonke-program met dié entstof ingeënt.

Die waarnemende minister van gesondheid, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, sê nog 1,2 miljoen dosisse van die J&J-entstof het verlede week in die land aangekom. Al dié dosisse moet teen 11 Augustus toegedien word voordat dit verval.

Pfizer se Covid-19-entstof is ook doeltreffend teen die Delta-variant. Dié maatskappy het reeds byna 4,5 miljoen dosisse gedurende die tweede kwartaal aan Suid-Afrika gelewer en het hom daartoe verbind om net meer as 15,5 miljoen dosisse gedurende die derde kwartaal te lewer.

Sowat 2,1 van dié dosisse word vandeesmaand verwag.

Gauteng is in dié stadium steeds verantwoordelik vir die meeste nuwe gevalle (59%) te midde van die derde virusgolf, gevolg deur die Wes-Kaap (11%) en Noordwes (7%).

 (Foto: Michele Spatari/AFP)

Volgens die minister word ʼn soortgelyke neiging as in Gauteng nou ook in daardie twee provinsies opgemerk.

Die departement van gesondheid is ook bekommerd oor Limpopo se hoë positiwiteitskoers van byna 42% terwyl die situasie in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal fyn dopgehou word.

“Ons kan dus sê dat baie provinsies amper op ʼn sogenaamde vlak van rooi waarskuwing vir ons is.”

Die infeksies in Gauteng word gedryf deur die hoogs aansteeklike Delta-variant wat kop uitgesteek het en stadig maar seker die oorheersende variant in die land word.

Kubayi-Ngubane sê voorts haar departement is steeds baie bekommerd oor die toename in hospitaalopnames in Gauteng weens die druk wat dit op die provinsie se gesondheidstelsel plaas.

Inentings

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, sê meer as 354 000 Suid-Afrikaners ouer as 50 het teen middernag reeds geregistreer om teen Covid-19 ingeënt te word. Meer as 7 000 is reeds Donderdag ingeënt, selfs voordat die ouderdomsgroep se inentings amptelik afgeskop het.

Daar is sowat 4,8 miljoen Suid-Afrikaners in dié ouderdomsgroep en die departement van gesondheid beoog om minstens 65% (sowat 3,3 miljoen) van hulle in te ent.

Die departement maak ook reeds planne vir die ouderdomsgroep van 40 tot 49 jaar oud. Sowat 7 miljoen Suid-Afrikaners val onder dié ouderdomsgroep.

Volgens Crisp registreer al hoe minder mense ouer as 60 in dié stadium om die entstof te ontvang. Daar is ook opgemerk dat baie meer 60-plussers in landelike gebiede tot dusver geregistreer het, vergeleke met dié ouderdomsgroep in stedelike gebiede. Daar word gehoop dat diegene ouer as 50 moontlik ander mense wat ouer as 60 is na inentingspersele sal saambring om ingeënt te word.

Lede van die polisie sal na verwagting van Maandag af teen Covid-19 ingeënt word, gevolg deur die weermag.

Die lede sal almal van J&J se entstof teen Covid-19 ontvang omdat die dosisse voor 11 Augustus gebruik moet word.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madeleine

Wees gereeld om vd res van jou lewe ingeeent te word. Maak ingeligte besluite.
Bid vir wysheid! Hierdie inentings is van die bose.

Andre

SNERT!!!!!!

Riaan

Sal nogal interessant wees om iets te lees oor wat die uitvinder/ ontdekker van die mRNA entstof – Dr Robert Malone te sê het oor sy eie entstof is. Maar o wee…, hy is ook verban…

Anel

Want ons wat oor 60 is en in stede woon en nie in die boendoes nie het meer as een breinsel wat ons gebruik. Ons is nie skape nie. En soos hulle sê, die goed werk net vir 8 maande. So volgende jaar as die winter begin moet die wat nou geënt is weer gaan? Hoekom?

Samuel

Sal ‘n mens ooit agter die kap van die byl kom oor hierdie coronavirus?