SA ‘erken’ Islamitiese terroriste in Mosambiek bedreig gasontginning

(Argieffoto: Club of Mozambique)

Die regering se voortgesette versuim om ʼn gekoördineerde streekspoging van stapel te stuur om die toenemende bedreiging van Islamitiese insurgente in Mosambiek te beveg, hou ʼn direkte bedreiging vir Suid-Afrikaanse belange daar in.

Dr. Mimmy Gondwe, die DA se woordvoerder oor staatsveiligheid, eis nou antwoorde van die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, oor watter stappe haar departement, asook die departemente van onderskeidelik internasionale betrekkinge en staatsveiligheid, gaan doen om te verseker Suid-Afrikaanse belange in die buurland word teen Islamitiese insurgentebedrywighede beskerm.

Gondwe het Mapisa-Nqakula in die parlement gevra om groter duidelikheid te gee oor of Suid-Afrika se weermagintelligensie enige moontlike bedreiging gevind het vir Total Suid-Afrika se gasprojek van $23 miljard (R401 miljard) wat 60 km suid van Mocimboa de Praia langs die kus geleë is.

Die minister se antwoord was kripties.

“Verdedigingsintelligensie dui daarop dat bedrywighede van Islamitiese insurgente op kort en medium termyn na verwagting gaan voortduur en veral gaan uitbrei na gebiede waar gas ontgin word,” lui Mapisa-Nqakula se antwoord.

Die minister het geen verdere besonderhede verskaf nie.

Gondwe sê die minister se stille erkenning van die bedreiging wat die insurgente vir Suid-Afrikaanse belange in die streek inhou, noodsaak ʼn intelligensiegedrewe reaksie – nie net van die weermag se intelligensieafdeling nie, maar ook van die staatsveiligheidsagentskap.

“Die Suid-Afrikaanse regering het ʼn verpligting om te verseker tasbare stappe word gedoen om die risiko vir die ekonomie en die streek, asook vir Suid-Afrika se ekonomiese en beleggingsbelange in die noorde van Mosambiek, te verminder. Die verdere vermeerdering van terroristegroepe in die streek – asook op Suid-Afrikaanse bodem – moet ook gestuit word,” het sy gesê.

Gondwe sê die regering moet Suid-Afrikaners in sy vertroue neem en ʼn omvattende plan voorlê oor hoe die Islamitiese insurgensie in Mosambiek gepak gaan word voor dit die streek oorweldig en ʼn negatiewe uitwerking op ekonomiese vooruitsigte sal hê.

(Foto: Google Maps)

Maroela Media het vroeër berig die terreurgroep Islamitiese Staat (IS) het net minder as twee weke gelede ʼn openlike waarskuwing aan Suid-Afrika gerig indien hy enigsins sou beoog om betrokke te raak by die verslegtende veiligheidsituasie in Cabo Delgado, Mosambiek se mees noordelike kusprovinsie.

Die veiligheidsituasie daar het sedert 2014 stelselmatig versleg weens ʼn insurgensieveldtog en skrikbewind vanuit Tanzanië deur Ahlus Sunnah wal Jamaah, ʼn ekstremistiese Moslemgroep met bande met IS.

Tot dusver is meer as 1 000 mense reeds dood in die gewelddadige aanvalle, met 210 000 inwoners van die verarmde, landelike Mosambiekse bevolking wat uit hul huise gevlug het en as vlugtelinge elders woon.

Cabo Delgado is tot betreklik onlangs as van weinig strategiese belang beskou. Alles het egter in 2007 verander toe ʼn natuurlike gasbron in die gebiedswaters ontdek is wat tans as die derde grootste gasvonds in die wêreld gereken word.

Islamitiese militante het Woensdag met dagbreek die sleutelhawe by Mocimboa da Praia oorgeneem ná dae lange aanvalle, het die webwerf Moz24Horas berig. ʼn Militêre bron het aan AFP gesê die klein dorpie en sy hawe het “geval”.

Mosambiekse verdedigingsmagte het bevestig “terroriste” het die afgelope week aanvalle op verskeie nedersettings om die hawe uitgevoer in ʼn poging om die dorp te beset.

“In dié stadium is daar voortgesette optrede om die terroriste wat die plaaslike bevolking as skild gebruik, te neutraliseer,” het die weermag in ʼn verklaring gesê.

Bykomende bron: Seychelles News Agency

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Cornel ·

Ons HET NIE ‘n weermag nie….ons het net sirkus dwergies

JohanR ·

Kan nie verstaan hoekom Mozambiek en SA nie saam werk en ‘n paar helikopter geweer skepe, veg vliegtuie en troepe in stuur en skoonmaak. Gaan lees op die internet van die ou Rhodesie en Operation Dingo se sukses met ‘n aanval op ‘n terroriste kamp in Mozambiek. As iemand jou, en ander lande bedreig dan gaan maak jy skoon! Die langer wat die ISIS gemors sit in Mozambiek, die groter word die bedreiging vir die res van Suider Afrika, Operation Dingo was a major raid conducted by the Rhodesian Security Forces against the Zimbabwe African National Liberation Army (ZANLA) headquarters at Chimoio and a smaller camp at Tembue in Mozambique from 23–25 November 1977, While only one Rhodesian SAS soldier died in the operation, more than 3,000 ZANLA fighters were reported as killed. 5,000 ZANLA were wounded, compared to only six SAS.

Danie ·

Wanneer gaan ons. Ek soek n R1 ek is old school glo nie in ak, r4of r5 nie

Adam Adriaan ·

Die hele regering is uit hulle diepte uit. Hulle het nie die vaagste benul wat hulle moet doen en waarvoor hulle daar is nie. Staan net elke oggend op, ry kantoor toe, as dit nie teveel moeite is nie? Gaan sit daar en drink tee en koffie, ginnegaap, praat twak,wag dat die tyd moet om gaan om huistoe te gaan. Met ‘n vet salaris elke maand. Hulle dwaal soos spoke in ‘n grot rond. Help my mamma!!!

JohanR ·

Dankie vir die glimlag vanmore Adam. En daar beskryf jy die ANC goverment tot ‘n T!

Rentia ·

O tog… SA hou asb vir ons eie relatiewe “veiligheid” julle neuse uit plekke waar dit nie hoort nie. ISIS is nie jou speelmaat nie, beslis nie met so weermag soos ons het nie. Ons kan dan nie eers o.a Afrika uit die land hou wat onwettig hier inkom nie?

Kokerboom ·

Die Staat is in ‘n ontkenningsfase. Die paar hopelik parate soldate is nodig in strate om te verhoed dat sigarette en drank verkoop word. Die vyand kan nie terugskiet . Iemand gepraat van “bang”?

Annelize ·

Hierdie Regering van ons (lees sirkus) het nie ‘n idee wat dit behels om ‘n land te regeer, te beheer en te beskerm nie. Iemand anders hier het dit so mooi gestel, “hulle is uit hulle diepte uit”, en bitter sleg ook as jy my vra. Die wielietjie draai, maar die Hamster is lankal dood.

En ons weermag? Watter weermag? Isis sal net se “boe”, en die lot hardloop vir hulle uit hulle stewels uit. Dis net ‘n kwessie van tyd voor Isis hier ook kom nesskop en oorvat, as hulle nie alreeds hier is nie.

B-Man ·

Noordelikste, asseblief. Waarom is daar hierdie alewige gebruik van “mees” om dinge te beskryf? Ons taal verarm.

Excalibur ·

Die blitzkrieg slaankrag en suidelikste magtige dreuning wat tot in die noordelikste lande gehoor en gevoel was is al vanaf 1992 grafstil en leef slegs in gedagte; nie omdat hul enige geveg verloor het nie maar omdat verneukpolitiek hul as gerespekteerde militere oorwinningsmag in 1994 doodversmoor het. Die AU met sy sogenaamde militere Afrika Bystandsmag wil Afrika sake self bestuur maar maak nie ‘n duik nie want diktators en “vryheidsvegters” staan in beheer. Die “WW2” heldhaftige VN is so neutraal soos sout wat laf geword en kan nie eens die jarelange DRK burgeroorlog neutraliseer nie wyl NATO slegs na eie belange omsien. So, wat bly oor as die Media die beste intelligensiebron huidiglik bleik te wees…Vra liefs nederig vir Oom Trump om te kom help want Amerika het mos nie te lank terug GLOBAAL OORLOG op TERRORISME verklaar en sy tande gewys toe hy Mnr Bin Laden & Kie van ISIS uitgewis het met Brittanje & Frankryk se steun of wag SA tot die groukat in die duiwehok is…

Karel Lourens ·

En hoe lank dink die ANC gaan daai spul uit SA bly as dit vir hulle so maklik gemaak word om Mosambiek so in te neem? Waar is die dae toe ons nog n trots land met n regering en weermag was?

My siening ·

Het ons n weermag? Hulle wil hul voertuie geel verf want die kamofleur kleur laat hulle soek na hul eie vakansie voertuie. Hulle weet ook nie hoe jy weerstand bied nie maar dalk is SADECK NOG n lid by ISIS. DIE LAND IS N GRAP WAAR OOR NIEMAND KAN LAG NIE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.