SA Express ‘funksioneer normaal’

SA Express (Foto: Facebook)

Die streekslugdiens SA Express sê sy bedrywighede gaan normaalweg voort, al het die hof beveel die lugredery moet in sakeredding geplaas word.

“Ondanks ʼn verskeidenheid geskiedkundige probleme verklaar SA Express dat sy raad en uitvoerende span positiewe vordering gemaak het om te verseker dat die lugdiens op lang termyn volhoubaar is,” het die maatskappy Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Die hooggeregshof in Johannesburg het verlede week beveel dat SA Express in sakeredding geplaas word, ná ʼn hofaansoek van Ziegler SA, ʼn internasionale logistiekmaatskappy. Die lugredery het toe gesê hy gaan appelleer teen dié bevel.

Maroela Media het ook in Januarie berig dat SA Express gehoop het om van die geld wat SAL hom skuld, terug te kry. Dít nadat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) R3,5 miljard aan SAL gegee het.

“Ondanks die manier waarop die proses van sakeredding ingestel is, word die ideale omgewing nou geskep waarin verskeie inisiatiewe wat lank reeds deur raadslede begin is, tot volvoering kan kom,” lui die verklaring.

SA Express sê die lugredery lewer ʼn belangrike bydrae op grondvlak en is ʼn strategiese nasionale bate van “onskatbare waarde”, wat ekonomiese ontwikkeling én werkskepping voorstaan.

Die lugdiens sê ook die sakereddingsproses sal geen ongerief aan verbruikers en werknemers veroorsaak nie. “Die lugdiens sal voortgaan om hierdie nasionale bate te beskerm deur klagte in te dien teen dié wat betrokke is by wanpraktyke en onregmatige optrede.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae