‘SA Express net nóg ʼn bodemlose put’

SA Express (Foto: Facebook)

Die VF Plus meen dit is kommerwekkend om te sien dat daar onlangs ook stilweg ʼn reusereddingsboei aan SA Express gegee is terwyl die aandag op Eskom, die SAL en die SAUK toegespits was.

“Volgens die Vryemarkstigting het SA Express in November verlede jaar ʼn reddingsboei van R1,24 miljard van die staat ontvang en nou weer staatsgewaarborgde finansiering van R300 miljoen,” het Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, in ʼn verklaring gesê. “Dit blyk dat die Vryemarkstigting SA Express deur die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting moes dwing om die inligting in sy finansiële state en bestuursrekening bekend te maak.”

SA Express het nou net nog ʼn groot gat geword waardeur belastinggeld uit die fiskusdam sypel en op die huidige trant sal dit aanhou totdat daar niks oor is nie, sê Alberts. “Die ANC sal die een of ander tyd moet besef daar is nie ʼn onuitputlike bron van geld in die land nie en staatsondernemings kan nie onbepaald gered word nie.”

Hy het bygevoeg soos met e-tol gaan belastingbetalers ʼn drempel bereik vanwaar hulle nie meer bereid sal wees om belasting te betaal en daarna toe te kyk hoe dit vermors word nie. “Die onvermydelike gevolg is belastingvermyding wat tot belastingontduiking sal lei.

“Die regering sal bedag moet wees daarop dat staatsondernemings wat soveel geld kry, uiteindelik tog verkoop en ontbondel sal moet word om te sorg dat die staat stabiel bly. Soos die staatsondernemings is die staat self naby die punt waar hy ʼn reddingsboei sal moet kry van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).”

Die Sjinese ambassadeur het reeds aangedui dat dié land nie bereid is om verdere lenings aan Suid-Afrika toe te staan nie met die implikasie dat Suid-Afrika nie beleggingsgraad-kwaliteit is nie. Indien dit gebeur, sa die staat gedwing word om by die IMF geld te leen.

“Dit sal lei tot ʼn situasie waar streng voorwaardes gestel sal word oor geldelike hulp aan Suid-Afrika wat op die lang termyn goed sal wees aangesien dit ongetwyfeld sal vereis dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie (RA) afgeskaf word en dat meriete onder meer gebruik sal word om die ekonomie te herstel. Onder ʼn ANC-regering is sulke maatreëls al wat die ekonomie weer sal kan regruk.

“Hierdie reddingsboei aan SA Express is maar net nog ʼn spyker in die ANC-doodskis wat daartoe sal lei dat Suid-Afrika se ekonomie oorgegee sal moet word in die hande van die IMF om die land te red van ʼn Venezuela en Zimbabwe-uitkoms,” het Alberts bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan

If so the sooner the better!

Dafer

STOP DIT – TERSTOND VF Plus as julle kan!!!!!

Gert van Wierdapark

Dit sal beter wees om so Miljard Randjies in so Express te pak en sopaar kilometer die Lug in, die note te begin uitstrooi/gooi, dan sal baie meer mense by die bodemlose put se vermorsing kan baat!!!

Alfreda

Hoe lekker sal dit wees as ek kan nominate aan wie my belasting geld betaal word. Ek sal veel eerder my belasting geld aan iemand betaal wat actually DAAR is vir die mense en nie vir self verryking en vermorsing van fondse nie.

Kan ons nie ons eie provinsie stig nie? n Provinsie soos wat die ou dae was net sonder die apartheid deel. Ek is seker as die ouens van Steinhof en Bossasa eerlik was kon ons n plan gemaak het.

Janneman

Nee wat, hierdie een kan maar gaan. Ons het klaar vir Mango en Kulula. Net nog ‘n plek waar CEO’s hulself kan inwurm en verryk! Wie was daai vorige ou nou weer… Victor something…