SA Express se lisensie opgeskort

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika - SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika – SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het SA Express se vliegtuig-bedryfsertifikaat (AOC) opgeskort nadat dié lugredery versuim het om aan die toepaslike burgerlike lugvaartregulasies te voldoen.

Die BLO het Saterdag gesê die opskorting tree onmiddellik in werking.

“Dit is noodsaaklik om te noem dat die opskorting slegs as ʼn voorsorgmaatreël dien en in die belang van veiligheid gedoen word om moontlike katastrofiese voorvalle te voorkom,” het die BLO gesê.

Die opskorting van die sertifikaat volg ná ʼn “reeks voorvalle van nienakoming” en die BLO se ontevredenheid met die operateur se veiligheidsmoniteringstelsels wat enige veiligheidstekortkominge moet aanspreek. Die BLO het ook bevind dat die operateur se voorgestelde korrektiewe aksieplan nie voldoende is nie, aangesien dit nie die betrokke bevindings aanspreek nie.

“Die BLO wil graag daarop wys dat onlangse inspeksies en oudits op die lugredery se bedrywighede op onvoldoende veiligheidsmoniteringstelsels dui en ʼn vlak van versuim deur die operateur om die besware aan te spreek,” het die owerheid in ʼn verklaring gesê. “Die BLO beskou die ondoeltreffendheid van die veiligheidsmoniteringstelsel in ʼn ernstige lig, aangesien dit ernstige veiligheidsrisiko’s vir die bemanning, passasiers en die publiek inhou. Die BLO kan nie die operateur toelaat om met sy bedrywighede voort te gaan totdat dié veiligheidskwessies voldoende aangeroer is nie.”

Die BLO het gesê hy ontvang volle samewerking van SA Express en sal bystand verskaf waar nodig en binne die reguleerder se mandaat om seker te maak dat die kwessie so gou as moontlik opgelos word.

“Die BLO is ten volle bewus van die invloed en ontwrigting wat die opskorting vir passasiers inhou, maar dit is belangrik om in gedagte te hou dat die besluit nie ligtelik geneem is nie, en dat dit in die belang van die veiligheid van die passasiers en bemanning geneem is.”

SA Express het op sosiale media bevestig dat die BLO hul lisensie opgeskort het en dat hulle die saak so gou as moontlik probeer oplos. Klante word versoek om met die lugredery in verbinding te tree deur ‘n e-pos te stuur aan [email protected] of skakel 0861 729 227 of 011 978 2355/5096/6384 tussen 06:00 en 23:00. Klante kan ook SA Express se webwerf besoek.


ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lance ·

Genade kan mens nog verseker wees dat onderhoud deeglik gedoen word indien wel veral as daar nie geld is …ek vlieg maar eerder nie SA nie

Marous ·

BLO sal dit nie doen as daar nie ernstige waarskuwings uitgereik , en sperdatums gegee is nie . Daar is aangehou met vlieg ????? Daar is nou mense gestrand wat toerisme en besighede ongelooflike skade gaan aandoen.Hier gaan skadevergoedings eise kom vir miljoene waarvoor die belastingbetalers gaan moet opdok !

Dirk Kroonstad ·

Seker nie polities korrek om te vra nie: Groot vraag is : ” Het BEE ń rol gespeel of nie?” Of steek ek nou my kop te vêr uit. Wil maar net weet. Vra net kinderlik ń sensetiewe vraag. Mag mens so ń vraag vra? Dis die eintlike vraag. Mag mens so ń vraag vra.

Piet Snot ·

Nee Dirk, jy mag nie. Jy sal van allerhande dinge beskuldig word.
Aan die ander kant, dis nie nodig om die vraag te vra nie. Ons het almal gedink wat jy dink.

Cobusp ·

SA express is n privaat lugredery en het niks met SAL te doen het. So enige skade vergoeding en Eise met die opskorting van vlugte sal nie uit belasting geld kom nie…….die vraag is was die besluit nie politiek gedrewe om sa express de lisensie op te skort om SAL te bevoordeel………..Skywise het ook onder gegaan met hulle opskorting om te vlieg………laat mens wonder…..

Marous ·

Deel van South African Airline Holdings wat deur die Staat besit word. Hulle opereer onafhanklik van SAL maar is dieselfde groep.

Anton ·

SA Express is nie privaat nie – Transnet, dus die staat is die grootste aandeelhouer.

cobusp ·

Mourus en anton…….julle is heeltemal korrek sa express is deel van sal groep en in staats besit………..ek het aan SA Airlink gedink wat in privaat besit is……onverskoning vir die verwarring.

Peet Benoni ·

Die keer moet die BLO asseblief voet by stuk hou en verseker die hele SA Express bedryfs vloot is volledig veilig toegerus en behoorlik lugwaardig onderhou en dus gerusstellend volledig veilig gesertifiseerd alvorens die lisensie opskorting eensklaps (nie geleidelik nie) opgehef word. Veiligheidsmonitering sluit ook menslike ooreising en/of ongeskiktheid in.

Mr P ·

Hallo Maroela. Ek het n boodskap na julle gestuur ivm die volkslied wat by die bokstoernooi gesing was. Gaan julle dit post. Groete

Sune van Heerden ·

Dagsê Mr P

Dankie, ons het jou e-pos ontvang en stuur dit aan die redaksie vir oorweging.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

jakob ·

“..kan mens nog verseker wees…” nee vlieg lankal nie meer SAL oorsee nie.

Joann ·

Dis nie snaaks nie niks in onse land is meer in werkende toestand nie,net die sous trein hol nog lekker.

hans ·

Wat ek vreemd vind is dat die verbod skielik in die midde van n ‘langnaweek’ plaasvind. Sou daar sulke ernstige probleme bestaan hoekom is die verbod nie lankal ingestel nie sodat die passasiers betyds altenatiewe vlugreelings kon tref en niemand verontrief is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.