SA Express se vlerke geknip

Argieffoto: Facebook via SA Express

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het met onmiddellike inwerkingtreding alle vlugte van SA Express opgeskort.

Dié owerheid het in ʼn verklaring gesê dit volg nadat daar “oorweldigende bewyse” aan die lig gekom het dat die lugdiens nie aan veiligheidsmaatreëls voldoen nie.

Die BLO het SA Express se operateursertifikaat en onderhoudpermitte teruggetrek, asook die lugwaardigheidspermitte van nege van die lugdiens se 21 vliegtuie.

Die owerheid het gesê dit beteken in effek dat SA Express van vandag af nie meer as ʼn lugdiens mag dienste lewer nie. Indien SA Express weer sy vlerke wil sprei, sal die lugredery van voor af moet aansoek doen vir die betrokke goedkeuring, insluitend ʼn bedryfsertifikaat, goedkeuring vir vliegtuiginstandhouding en lugwaardigheidspermitte vir die vliegtuie waarvan die permitte teruggetrek is.

Volgens die BLO volg dié ingrypende besluit nadat die owerheid die afgelope paar dae ʼn oudit by die lugredery en sy instandhoudingsorganisasie gedoen het. Die owerheid sê erge gevalle van nienakoming van regulasies wat ernstige veiligheidsrisiko’s inhou, het aan die lig gekom.

“Hoewel die BLO nie die besonderhede van sy ouditbevindinge aan die publiek bekend maak nie, kan daar wel bekendgemaak word dat van die 17 bevindinge, vyf gekategoriseer is as Vlak 1-bevindinge in burgerlike lugvaartterme. ʼn Vlak 1-kategorie bevinding kan beskryf word as ernstige nienakoming of nie-ooreenstemming met regulasies wat ʼn baie ernstige risiko vir die publiek inhou en die onmiddellike afdwinging van diskresionêre afdwingbare magte van die gemagtigde persone vereis in belang van die veiligheid van lugvaartsekuriteit,” lui die verklaring.

Die BLO het gesê SA Express kon nie aan die nodige bedryfsvereistes en veiligheidsverpligtinge voldoen nie en daarom was dit onvermydelik dat die lugredery se bedrywighede opgeskort moes word. Volgens die owerheid was die vliegveiligheidstelsels van die lugredery “gebrekkig”.

Die BLO het gesê as beskermheer van lugvaartveiligheid in die land kan die owerheid nie ʼn blinde oog draai wanneer daar “oorweldigende bewyse” is dat daar nie aan veiligheidsmaatreëls voldoen word nie.

Die BLO het verder gesê daar word verwag dat SA Express met die owerheid die nodige reëlings sal tref om al die geaffekteerde vliegtuie terug te vlieg na die tuisbasis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kilroy ·

Ek wonder net wie nou die skuld gaan kry hiervoor, en of enige koppe ooit gaan rol?

willie ·

Ek is oortuig daarvan dat regstellendeaksie die grootste enkele faktor is wat natuurlik sal lei tot onbevoegdheid!

I Marais ·

Ons het so pas ‘n motor moes huur op OR Tambo om terug te ry huistoe, nadat ons 2 ure gesit en mors het by die lughawe voor ons gehoor het ons vlug is gekanselleer. Kon hulle ons nie ingelig het vóór ons ingeboek het nie, dan was ons voor donker al by die huis ?

janneman ·

Uiteindelik. Hoop daai selfde oudit span gaan SAL se vliegtuie en dokumentasie ook bietjie onder oë neem?……..het al heel partye grillerige stories vanuit instandhoudingspersoneel se eie monde gehoor…….en daarom sal ek nooit SAL vlieg nie, al is die kaartjies ook hoe goedkoop

Eish ·

Na 24 jaar van demonikrasie, is my gevolgtrekking dat die regerende partie, nie kan regeer of bestuur nie. Nie eers bietjie nie.
Dankie vir die berig, ek sal verseker nie VAL vlieg nie.

Charles ·

Wonder aan wie behoort S A Express of sal dit ook geheim gehou word.

Johan ·

Ek het al op aansluit SAL vlugte gevlieg en dit was swak gewees. Die sitplekke was stukkend gewees. Die Radio stelle in die sitplekke was stukkend gewees. Absoluut n bewys dat hulle nie die nodige aandag aan die onderhoud gee nie. As dardie goed stukkend is, hoe weet ek dat die nodige onderhoud en dienste aan die vliegtuie gedoen is? s

Sê maar net ·

Wie van julle weet dat SAL…is in ‘n alliansie met Australië en New Zeeland…my broer het van Perth kom kuier en die vlugkaptein het dit aangekondig…daar was nog niks op ons nuus kanale..

Francois ·

Met ander woorde mense het vir n lang tyd rond gevlieg in vliegtuie met ou en defekte parte ? Dis mos malligheid. As selfs die sitplekke stukkend is; dan moet jy vlug boet !

bgj van der westhuizen ·

so ver ek vestaan het is sal ,sa expess en mango behoort almal aan die staat ek vlieg beslis nie nei hulle nie

Wanda Beneke ·

Wonder net wie die slapende hond wakker gemaak het. En die vorige oudit? Daar was die BLO toe? Gebrekkige veiligheidstelsels kom oor n tyd. BLO het dalk bietjie ander pad gekyk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.