SA Express sprei weer sy vlerke

Argieffoto: Facebook via SA Express

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) het SA Express toestemming gegee om sy vlugte te hervat nadat ʼn bedryfsertifikaat weer aan die lugredery toegeken is.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het gesê dié besluit kom nadat SA Express daarin geslaag het om sy Vliegtuiginstandhoudingsorganisasie (AMO)-goedkeuring weer ingestel te kry.

Volgens Ledwaba het die lugredery ook reeds daarin geslaan om sertifikate vir lugvaardigheid vir twee van sy vliegtuie te kry. Die lugredery word dus vir nou toegelaat om slegs die twee vliegtuie vir kommersiële vlugte te gebruik.

Maroela Media het vroeër berig die BLO het in Mei vanjaar SA Express se vlugte opgeskort nadat daar “oorweldigende bewyse” aan die lig gekom het dat die lugdiens nie aan veiligheidsmaatreëls voldoen nie.

Volgens die BLO het die besluit gekom nadat ʼn oudit by die lugredery en sy instandhoudingsorganisasie gedoen is. Die owerheid het destyds gesê erge gevalle van nienakoming van regulasies wat ernstige veiligheidsrisiko’s inhou, het aan die lig gekom.

Die BLO het SA Express se operateursertifikaat en instandhoudingspermitte teruggetrek, asook die lugwaardigheidspermitte van die lugdiens se vliegtuie. Die lugredery moes van voor af aansoek doen vir al die nodige goedkeuring om dienste as ʼn kommersiële lugredery te lewer.

“ʼn Sleutelboodskap aan alle operateurs en lugvaartpersoneel is dat finansiële volhoubaard te alle tye versigtig gebalanseer moet word met die noodsaaklikheid daarvan om deurentyd aan aanvaarbare vlakke van lugvaartveiligheid en sekuriteit te voldoen,” het Poppy Khoza, direkteur van burgerlike lugvaart by die BLO, gesê. “Wanneer die skaal heeltemal na die een kant toe kantel, sal die lugvervoernetwerk soos ons dit vandag ken tot niet gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lerato ·

n Oudit het bevind dat hulle vliegtuie nie vliegwaardig is nie.

Lyk my daar is EEN eerlike ouditeurs firma in die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.