SA Express vlieg teen volgende week weer

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika – SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

Die staatsbeheerde lugdiens SA Express sal weer teen volgende week vliegtuie in die lug hê, het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Woensdagoggend aangekondig.

Die lugdiens is reeds sedert 24 Mei nie meer operasioneel nie en het ʼn ongeouditeerde netto bedryfsverlies van R202 miljoen (sowat 8%) aangeteken in die mees onlangse finansiële jaar.

Die lugdiens het 24 vliegtuie waarvan nege tans lugwaardig is. Die sowat duisend werknemers sal dus een van die dae weer produktiewe werk vir hul hande hê wanneer die lugdiens weer twee roetes sal bedryf.

Ander roetes sal te gelegener tyd volg, het Gordhan gesê.

Die minister het vanoggend tydens ʼn omvattende voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings gesê die regering oorweeg dit om die drie staatsbeheerde lugdienste – SAL, SA Express en Mango – saam te voeg ten einde beter pryse vir brandstof, onderdele en dies meer te beding.

SA Express het volgens Gordhan steeds groot likiditeitsprobleme, ondanks ʼn inspuiting van R1,74 miljard uit die sentrale fiskus. Die lugdiens se finansiële state vir die afgelope twee jaar is nie afgeteken nie, maar sal binnekort afgeteken wees, het hy belowe.

Hoë kostestrukture en die negatiewe gevolge daarvan dat personeel steeds betaal moet word al word geen vlugte onderneem nie, het SA Express se posisie verswak, maar kaartjieskantore behoort teen volgende Woensdag weer oop te wees.

Gordhan het erken dat ʼn groot hoeveelheid korrupte en betwyfelbare kontrakte deur SA Express aangegaan is, onder meer betreffend bagasiehantering, onderdele en brandstofaankope. Ongeoorloofde besteding het in die afgelope twee jaar toegeneem van R35 miljoen tot ʼn skrikwekkende R91 miljoen – hoewel Gordhan darem meen dit is deels weens strenger oudits.

ʼn Nuwe beheerraad is in Mei vir die lugdiens aangestel, en ʼn nuwe hoofamptenaar en finansiële hoof sal eersdaags aangestel word.

Forensiese oudits word tans onderneem om die skuldiges aanspreeklik te hou. Bedryfskontrakte word teen voordeliger terme onderhandel, onder meer vir die verskaffing van brandstof.

Die Burgerlugvaartowerheid het die tersaaklike lugwaardigheidsertifikate reeds uitgereik, wat SA Express in staat stel om vlugte te hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik van George ·

Al die werknemers het lekker by die huis gesit teen volle betaling. SA Express is al baie jare om my persoonlike “moenie vlieg” lysie…..

Michelle ·

Nee hulle sit nie by die huis op salaris nie. Families is reeds al maande lank sonder inkomste. En daar is onsekerheid want hulle weet nie wat vir hulle voorlê nie. Ook nie n situasie waar jy net aanbeweeg en by ander lugdiens gaan werk nie. Daar is nie poste in die bedryf nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.