SA Express vlieg weer

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika - SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

SA Express (Argieffoto) (Foto: Bob Adams vanaf George, Suid-Afrika – SA Express DHC-8-315 ZS-NMA via Wikimedia Commons)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Sondag bevestig SA Express se vliegtuig-bedryfsertifikaat (AOC) is weer geldig verklaar.

“Dit beteken dat die lugredery weer, met onmiddellike effek, vlugte op sy 26 vliegtuie hervat,” het die BLO in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het Saterdag berig die BLO het die lisensie opgeskort nadat SA Express versuim het om aan die toepaslike burgerlike lugvaartregulasies te voldoen.

“Ná verskeie, intensiewe gesprekke tussen die lugredery en die reguleerder, het SA Express ʼn hersiende korrektiewe aksieplan aan die BLO voorgehou en nadat dié plan deeglik bestudeer en oorweeg is, is daar bevind dat dit die groot besware aanspreek wat die reguleerder aangeroer het,” lui die verklaring. “Die BLO sal steeds die volle inwerkingstelling van SA Express se korrektiewe aksieplan monitor. Die BLO sal ook sy oorsigtelike pligte van die lugredery se bedrywighede verskerp.”

Die BLO het gesê oornaginspeksies en oudits word op ʼn steekproefbasis gedoen en operateurs moet seker maak hulle het voldoende veiligheidsbestuurstelsels gereed.

“Suid-Afrikaners kan gerus wees dat hul land se lugvaartveiligheid en sekuriteitstandaarde aan wêreldwye vereistes voldoen en in sommige gevalle dit oortref, en daarom word dit gunstig vergelyk met die beste internasionale standaarde en praktyke,” het die BLO gesê.

SA Express is ‘n staatsbeheerde lugredery, maar word onafhanklik van die Suid-Afrikaanse Lugdiens bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Lance ·

Net n kwesie van tyd dan gebeur so iets maar net weer ….die mense leer netnie al was hulle op skool ……al so moeg vir al die groot praat en niks gebeur nie ….en die korrupsie wat al n kultuur geraak het ….tragies

Amber ·

Ek is net dankbaar die vlugte is weer op koers. Vlieg môreoggend Walvisbaai toe vir n heerlike vakansie in Swakopmund. Moet dalk volgende keer met Air Nambia vlieg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.