SA Express voorlopig gelikwideer

SA Express (Foto: Facebook)

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) sê hulle is tevrede dat daar ʼn verbintenis van die regering is om voor Junie ʼn volhoubare oplossing vir die tallose probleme by South African Express (SAX) te help vind.

Die hooggeregshof het die sukkelende redery Dinsdag onder voorlopige likwidasie geplaas nadat die sakereddingspraktisyns aangevoer het daar is “geen vooruitsig” dat die redery weer op sy voete gaan kom nie, het eNCA berig

Rolspelers het nou tot Junie om insette te lewer voordat ʼn permanente bevel oor die toekoms van die redery gemaak word. Indien die voorlopige bevel nie teengestaan word nie, sal daar met die proses begin word om ʼn likwidateur aan te stel.

SAX is verlede maand in sakeredding geplaas, skaars enkele maande nadat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat soortgelyke finansiële probleme ondervind, ook in sakeredding geplaas is. SAX het meer as R1,2 miljard in die 2019-’20-boekjaar ontvang. Dit sluit R300 miljoen in wat in September aan die redery vrygestel is.

Numsa en Sacca sê hulle wil sien dat die twee rederye herstruktureer word en vra dat die regering finansiering van albei rederye moet oorweeg om uit hul huidige geldelike verknorsing te kom.

Die regering het tot onlangs nog aangedui dat hy geen verdere reddingsboeie aan SAL beskikbaar gaan stel nie, nadat miljarde rande aan staatsgeld die afgelope paar jaar in die redery gestort is.

Die afgelope naweek het die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, egter gesê wat betref die SAL is die regering verbind tot ʼn “nasionale bate wat internasionaal mededingend, lewensvatbaar, volhoubaar en winsgewend” is. Daar is ook met die SAL se sakereddingspraktisyns ooreengekom dat ʼn aansoek vir die likwidasie van die SAL en die afleggingsproses van werkers tot Vrydag opgeskort word.

Numsa en Sacca sê hulle sien hoe “gewetenlose” sakereddingspraktisyns die Maatskappywet misbruik om eng belange en plundery te bevorder, eerder as om die ondernemings te red.

Hulle sê daar moet nou dringend ʼn oplossing gevind word sodat ʼn sakereddingsplan opgestel kan word wat vir alle belanghebbendes aanvaarbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hekwag

As Lufthansa steier onder die druk, het ek nie veel hoop vir SA Express nie.

Danie

Numsa, Sacca en mnr Gordhan kan maar herstruktureer solank hul dit NIE met belastingbetalersgeld doen. Die vakbonde is so uit voeling met werklikheid en hul kamerade in die regering ook daarom dat laasgenoemde konstant u- draaie maak en val vir hul emosionele tirades. Dit toon 2 dinge nl. 1) hul voel ‘n veer vir die ekonomie(hul verstaan dit nie) en 2) hul is bevrees dat hul gemarginaliseer gaan word.

Hennie

Versoek die “slim” manne van die vakbonde om die reddingsboei te voorsien aan beide die entiteite. Slegs dan kan hulle aanspraak maak om sg in- en aansprake te maak. Die besluite lê defnitief nie by hulle nie!

Kobus

Regtig mnr Gordhan? Nog ‘n staatsinstelling wat geplunder en geroof kan/gaan word? Wat gaan julle die nuwe SAL noem? Ky eers die land weer aan die gang.Lufthansa en Virgin het besef hulle is in die moeilikheid en ‘n besigheidsbesluit gemaak,maar die ANC is steeds besig met populistiese agendas

Anel

Daar is gelg vir niks meer nie. Verkoop dit en kom daaroor.