SA Express-werknemers sal betaal word

Argieffoto: Facebook via SA Express

Vakbonde en die regering het Donderdag bevestig dat die Junie-salarisse van werknemers van die staatsbeheerde Suid-Afrikaanse lugredery SA Express betaal sal word.

Die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa) het in ʼn verklaring Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, bedank vir die verkryging van noodbefondsing sodat die salarisse vir die lugdiens betaal kan word. Adrian Lackay, Gordhan se woordvoerder, het bevestig Gordhan het befondsing gekry.

Die lugredery se vlugte is in Mei opgeskort nadat die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) sy lugwaardigheidspermitte, bedryfsertifikaat en goedkeurings vir vliegtuiginstandhouding teruggetrek het. Dít volg nadat daar “oorweldigende bewyse” aan die lig gekom het dat die lugdiens nie aan veiligheidsmaatreëls voldoen nie, wat ʼn groot openbare veiligheidsrisiko inhou.

“Die minister het met verskeie instellings in gesprek getree om SA Express se onmiddellike likiditeitsbeperking te verlig, wat die lugredery se uitvoerende hoof, Matsietsi Mokholo, in staat gestel het om aan personeel te bevestig dat hul Junie-salarisse nou betaal sal word,” het Fedusa gesê.

Fedusa het Gordhan se ingryping versoek nadat hulle deur Mokholo ingelig is dat werkers nie op 25 Junie betaal kan word nie.

Die BLO het nie besonderhede van die bevindinge van die oudit wat by die lugredery en sy instandhoudingsorganisasie gedoen is aan die publiek bekend gemaak nie. Daar is wel in ʼn verklaring bekend gemaak dat vyf van die 17 bevindinge gekategoriseer is as Vlak 1-bevindinge wat beskryf kan word as ernstige nienakoming van regulasies wat ʼn baie ernstige risiko vir die publiek inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Callie van der Merwe ·

Ek neem aan die werknemers wat nie hul werk gedoen het nie word ook betaal. Lekker plek die…..

GM ·

Ek het simpatie met die werkers, maar díe is weereens dubbele standaarde wat toegepas word. Hoeveel ander maatskappye is gelikwideer sonder dat die eienaars gehelp is om salarisse te kan betaal? Hoeveel mense het hul pensioengeld verloor sonder dat die regering ingespring het om te help? Ek kan raai hoekom daar nou uitgehelp word…

John Samuel ·

Nog ‘n Suid Afrikaanse ANC regering-beheerde sukses storie!

Kom belastingbetalers – HOES!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.