SA Express wil gou terug in die lug wees

Argieffoto: Facebook via SA Express

SA Express het Donderdag gesê hy werk saam met die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) om veiligheidsprobleme in sy bedrywighede uit te stryk sodat die lugdiens gou weer sy vlerke kan sprei.

Dit volg nadat die BLO Donderdag aangekondig het dat alle vlugte van SA Express met onmiddellike inwerkingtreding opgeskort is weens “oorweldigende bewyse” dat die lugdiens nie aan veiligheidsmaatreëls voldoen nie.

Matsietsi Mokholo, waarnemende uitvoerende hoof van SA Express, het gesê die veiligheid van passasiers is steeds vir die lugredery ʼn topprioriteit en daarom wil die maatskappy saam met die BLO werk om die knelpunte op te los.

Mokholo het gesê die oudit van die BLO, wat die veiligheidsprobleme aan die lig gebring het, het saamgeval met ʼn stabiliseringsprogram by SA Express wat oor die afgelope 12 maande ingrypende leierskapsveranderinge ondergaan het.

Die lugredery sal intussen passasiers op ander lugrederye akkommodeer en die prys van passasiers se vliegkaartjies terugbetaal om te verseker dat dié nuwe verwikkelinge so min moontlik ongerief veroorsaak. “SA Express onderneem om passasiers soveel moontlik by te staan met hierdie proses en ingelig te hou van die jongste inligting oor vlugveranderinge,” het sy gesê.

SAL het ook Donderdag gesê hy het reeds sy sakegebeurlikheidsplanne geaktiveer om sy filiaal by te staan en sy passasiers te akkommodeer. Volgens SAL is spanne by lughawens ontplooi om passasiers by te staan. Amptelike kommunikasie oor SA Express-vlugte sal ook op al SAL se amptelike kommunikasiekanale beskikbaar wees.

Mokholo het gesê die leierskap van SA Express tesame met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal oor die volgende paar dae met die BLO vergader om stabiliseringsplanne vir die lugdiens te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Landie ·

Ag asb WAT ‘n GRAP?? Julle gaan eerder almal TOEMAAK as weer in die lug wees. Luister maar na die eksperts op radio . daar is NIKS om eers oor te neem van die SAL nie ,hulle het GEEN bates nie .. niemand wil die gemors koop nie . maak almal toe .. en begin van voor af ‘n private lugdiens .. Die staat kan nou maar net vir eens en vir altyd nie iets ordentliks run nie .. alles speel bankrot .. van munisipaliteite, Eskom, SAUK, SAL, Denel . alles waar hulle ‘n finger in the pie het val dit plat … kry vir julle!

Eugene ·

Hulle het gister oggend 7:45 vir ons gelieg en gese daar is mis en die vliegtuig kan nie land nie
Toe vat n putco bus ons KS (162km) toe
Die vlug is R1000 goedkoper van daar af Jnb toe, ek soek my geld terug…

Amelia ·

Klip in die bos………..kry SA Express nie meer passasiers nie? Is die SAL nie besig om sodoende mense te dwing om van hul dienste gebruik te maak nie? Dit was my eerste gedagte toe ek die eerste berig gesien het.

sandra ·

Die SAA vir SAE help en hulle kan hulself nie help nie! Ag nee wat, gaan maak grappies op ‘n ander plek! SAA lank nie meer my gunsteling redery nie, Ek vlieg SAF air, baie bekwaam, baie netjies en STIPTELIK!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.