SA feitesending na Maputo oor skietery op Mosambiekse grens

Die minister in die presidensie, Jackson Mthembu, spreek die media toe. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

ʼn Feitesending met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is na die Mosambiekse hoofstad Maputo gestuur nadat twee Mosambiekse polisielede deur Suid-Afrikaanse weermaglede doodgeskiet is in ʼn skermutseling op die grens van Mosambiek en KwaZulu-Natal.

Die aankondiging oor die Suid-Afrikaanse hoëvlak-afvaardiging na Maputo is vanoggend op ʼn inligtingsessie ná die tweeweeklikse kabinetsvergadering gemaak deur die minister in die presidensie, Jackson Mthembu.

Benewens die weermag se hoof van gesamentlike operasies is die adjunkkommissaris van polisie ook onder andere by die Suid-Afrikaanse afvaardiging ingesluit.

ʼn Groot deel van die kabinetsvergadering is deur sake voortspruitend uit pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede oorheers. Die belangrikheid van ekonomiese groei is voorop gestel, veral wat die industriële sektor, mynbou, landbou, toerisme en jeugwerkskepping betref.

Volgens Mthembu sal die regering se presiese planne met ekonomiese groei blyk uit die departementele begrotingsposte wat ministers van aanstaande week af in die parlement sal behandel.

Hy het erken dit sal harde werk verg om die ekonomiese trajek na groei om te draai vanuit die huidige situasie van agteruitgang en inkrimping.

Wat die hersamestelling en verkleining van die kabinet betref, het Mthembu gesê dis gedoen om inklusiewe ekonomiese groei te verseker, die stryd teen korrupsie te versterk en die gevolge van staatskaping teen te werk.

Verlede week is 93 handelsooreenkomste met China gesluit, wat veral Suid-Afrikaanse uitvoer tot voordeel sal strek. Daar is ook ʼn samewerkingsooreenkoms aangegaan tussen die Chinese en die Suid-Afrikaanse motorbedryf.

Die kabinet het sy kommer uitgespreek oor die syfer dat daar reeds vanjaar 26 polisielede vermoor is. Nege van die skuldiges is al lewenslange tronkstraf opgelê.

Suid-Afrika is aan die voorpunt van pogings om Afrika tot die grootste vryhandelgebied in die wêreld verklaar te kry, en die 12de AU-spitsberaad daaroor, in Niger se hoofstad, Niamey, sal aanstaande maand deur pres. Ramaphosa bygewoon word.

ʼn Kabinetstaakspan om die gladde funksionering van die munisipale verkiesing van 2021 te verseker, is saamgestel. Hulle sal saamwerk met die Onafhanklike Verkiesingskommissie en die Munisipale Afbakeningsraad.

Mthembu wou nie sê of die probleme met dubbelstemmery, ink wat afgewas kon word en ander struikelblokke met die Kieswet deur die taakspan bespreek sal word nie.

Mthembu het heelwat klem geplaas op pres. Ramaphosa se bywoning vandeesweek van die G20- ekonomiese beraad in Osaka. Nasionale belang en handelsgroei sal die voorste punte op die Suid-Afrikaanse agenda wees.

Vorderingsverslae oor Eskom en grondhervorming het nie vandeesweek voor die kabinet gedien nie, maar ʼn witskrif oor Eskom is onderweg, het Mthembu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

Een kommentaar

marous ·

Hulle was onwettig oor Mosambiek se grens en het hul Polisie geskiet . Nou is dit ‘n gehoes en geproes want daar is geen verduideliking nie . Dis die waarheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.