SA fnuik glo terreuraanval

Foto: Al Jazeera

Foto: Al Jazeera

Suid-Afrikaanse owerhede het ʼn terreuraanval gefnuik wat glo in 2010 in die land uitgevoer sou word, volgens intelligensieverslae wat deur die internasionale nuusagentskap Al Jazeera uitgelek is.

Die inligting in glo vervat in twee voorleggings deur die Staatsveiligheidsagentskap (SSA). Volgens die voorleggings het die gefnuikte aanval aan die lig gekom deur Jermaine Grant, wat in Desember 2011 in Kenia in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by terrorisme.

Die polisie het glo tydens Grant se arrestasie toerusting gevind wat soortgelyk is aan die wat in Julie 2005 tydens die selfmoordbomaanvalle in Londen gebruik is.

Volgens die voorleggings het ʼn finansierder wat in April 2011 in hegtenis geneem is, aangevoer dat hy instruksies ontvang het van Harun Al Fadul, wat by Al-Kaïda betrokke is, om na die Verenigde Arabiese Emirate te gaan en daar met iemand te ontmoet oor die aanval in Suid-Afrika.

Die doel van die ontmoeting was glo om geld te kry vir die bomaanval in Suid-Afrika. Vyf selfmoordbomaanvallers sou glo die aanval uitgevoer het. Die aanval was sedert 2007 beplan en daar is glo nagenoeg $1 miljoen benodig om dit uit te voer.

Tydens die ontmoeting het Al Fadul se kontak aan die finansierder gesê die geld is nie beskikbaar nie maar dat hulle hul bes sal doen om dit te kry, hoewel dit tyd gaan vat. Die finansierder het glo later met agente in Dubai ontmoet rakende die aanval in Suid-Afrika.

Grant het Samantha Lewthwaite, wat aan hom as Natalie Faye Webb bekend was, geïdentifiseer as een van die sleutelfigure wat aanvalle in Kenia beplan het. Lewthwaite het in Julie 2008 na Suid-Afrika gekom en is in Junie 2009 na die Verenigde Koninkryk gedeporteer.

Lewthwaite het haar persoonlike besonderhede verander en ʼn paspoort gekry met die naam Asmaa Shahidah Bint-Andrews. Sy het in September 2009 na Suid-Afrika teruggekeer. Sy het glo hierna die identiteit van Natalie Faye Webb aangeneem. Dié naam is in Oktober 2009 op die departement van binnelandse sake se stelsel geaktiveer.

Volgens die dokumente was Lewthwaite glo betrokke by Al-Shabaab en was sy in beheer van logistieke reëlings, veral behuising en vervoer, vir ʼn aanval in Kenia.

Volgens Al Jazeera se berig is Webb, Lewthwaite en Bint-Andrews dieselfde persoon. Lewthwaite is die weduwee van Jermaine Lindsay, een van die Londen-selfmoordbomaanvallers. Lewthwaite het glo tussen 2009 en 2011 in Suid-Afrika gewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wouter ·

As ek dit nie mis het was dit die VSA wat Al Shabaab gespekke gemonitor het en toe agtergekom het hulle beplan n aanval tydens die sokker in 2010. SA het gedink dis n hoax….

Ian ·

Nonsens. Suid Afrika kan nie eens n aanval van n Scottish Terrier fnuik nie.

HEVW ·

Ian, dankie tog vir die humor.Dit is al waaroor ons in dese dae kan lag. Dit wat jy se is waar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.