SA gaan Mosambiekse oudminister aan tuisland uitlewer

Manuel Chang vroeër in die Kemptonparkse landdroshof. Foto: ANA

Suid-Afrika het besluit om die voormalige Mosambiekse minister van finansies, Manuel Chang, aan sy tuisland uit te lewer.

Michael Masutha, minister van justisie en konstitusionele ontwikkeling, het dié besluit geneem ná ʼn hofbeslissing oor Chang se uitlewering. Mosambiek én die VSA het gevra dat Chang aan hulle uitgelewer word.

“Ek het kennis geneem dat die Verenigde State se versoek ʼn paar weke voor dié van die Republiek van Mosambiek gerig is. Nadat ek die kwessie in die geheel beskou het, en die maatstawwe van die VSA-SA-uitleweringsverdrag aan die een kant en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se Protokol oor Uitlewering aan die ander kant in ag geneem het, is ek van mening dat geregtigheid ten beste sal geskied as aan Mosambiek se versoek voldoen word,” het Masutha in ʼn verklaring gesê.

Masutha sê hy het verskeie ander punte oorweeg. Dit sluit in dat Chang ʼn Mosambiekse burger is, dat die beweerde oortreding begaan is terwyl hy ʼn minister in dié land was, die erns van die beweerde oortreding, asook Chang se versoek dat hy aan sy tuisland uitgelewer word.

Chang is in Desember verlede jaar, op grond van ʼn internasionale lasbrief, in Suid-Afrika in hegtenis geneem.

Hy word in die VSA én Mosambiek gesoek vir beweerde sameswering om bedrog te pleeg en omdat hy glo miljoene dollar in omkoopgeld aanvaar het.

Die beweerde oortredings hou verband met ʼn $2 miljoen-leningskandaal wat ook twee internasionale banke betrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Joe ·

Weereens ANC se anti VSA sentiment! Die VSA het eerste uitlewering versoek en SA het tans nie eers ‘n uitleweringsooreenkoms met Mosambiek nie!!!

PJC ·

Masutha weet goed dat hy swaarder gestraf sal word in die VSA.

Koos de Meyer. ·

Hulle sal altyd toegee aan hulle kamerade se versoek. Mosambiek het mos gehelp met die bevryding, hoe dan nou.

Gert van Wierdapark ·

Siestog. Die ou het “kleingeld” gevat as dit vergelyk word met die korrupsie, staatskaping ens in SA.!! Kon die a en see nie maar net die ou na die Zuptas se plek gedeporteer het nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.