Die regering het die besluit om sy Sisonke-inentingsprogram met die Johnson & Johnson-entstof (J&J) tydelik te staak, opgehef.
Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Donderdag ná afloop van die kabinetsvergadering gesê die kabinet verwelkom die aanbeveling van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) dat die program voortgaan.
Die regering het die inenting van gesondheidswerkers met die J&J-entstof verlede Dinsdag gestaak nadat enkele gevalle in die VSA aangemeld is van mense wat bloedklonte ontwikkel het nadat hulle met dié entstof ingeënt is.
Nog ʼn rede was J&J se besluit om die verspreiding van die entstof in die Eurosone vrywillig op te skort.
“Die tydelike opskorting in Suid-Afrika was in ooreenstemming met die regering se verbintenis om te verseker dat omvattende veiligheidsmaatreëls gevolg word rakende die verspreiding van die entstof,” sê Ntshavheni.
“Die hersiene data het bevestig dat Suid-Afrika geen skaars bloedklonte ondervind het onder gesondheidswerkers wat reeds ingeënt is nie.”
Ntshavheni sê navorsers sal voortgaan om almal wat die entstof ontvang, te monitor. Meer as 290 000 gesondheidswerkers is teen die middel van die maand reeds teen Covid-19 ingeënt.
Die J&J-entstof sal ook deel vorm van Suid-Afrika se breër inentingsprogram. Die onderhandelings vir die verskaffing daarvan is egter nog nie afgehandel nie.
Ntshavheni sê die regering het nog 10 miljoen dosisse van die Pfizer-entstof bekom, wat die algehele getal dosisse nou op 30 miljoen te staan bring.
“Dit beteken Suid-Afrika sal 15 miljoen mense met die Pfizer-entstof kan inent, pleks van net 10 miljoen.”
Fase 2 van die entstofprogram begin op 17 Mei, en die regering het weer ʼn beroep op diegene ouer as 60 jaar gedoen om op die elektroniese inentingsdatastelsel te registreer.
Diegene sonder internettoegang kan registreer by 3 338 sentrums landwyd. Mobiele spanne sal ook uitgestuur word om bejaardes, haweloses en diegene in landelike gebiede by te staan.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Nee wat nie vir my nie dankie…
Nee dankie. Hou verby my en my gesin.
Interesant om te sien daar is mense wat nie saam stem met die twee kommentare wat aandui dat hul nie die entstof wil hê nie, wil hulle vir die ander besluit waarmee hulle ingespuit moet word?
As jy ‘n kaartjie koop vir ‘n fliek kan jy nie kla as jy dit nie geniet nie… wat nog as jou handtekening daarby pryk.
Wens tog daar was n entstof om die anc reg te ruk…mag droom ne!