SA gaande oor pragsneeufoto’s in reservaat

Pragtonele in ‘n Oos-Kaapse reservaat ná ongewone sneeuval in die gebied (8 September 2018). Foto: Kitty Viljoen

Prentjiemooi foto’s van olifante en kameelperde tussen sneeubedekte bome wat die afgelope naweek in ʼn Oos-Kaapse natuurreservaat geneem is, het sosialemediagebruikers behoorlik gaande.

Dié foto’s is deur Kitty Viljoen, die bestuurder van ʼn private natuurreservaat naby Graaff-Reinet, vasgevang. Die foto’s het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei met selfs internasionale nuusagentskappe wat die foto’s gedeel het.

Viljoen het Maandag aan Maroela Media gesê sy weet nie eens hoe die foto’s op sosiale media beland het nie en is oorweldig deur die reaksie. “Dit is eintlik nogal oorweldigend. Die foto’s word oral gedeel en almal bel my,” lag sy.

Sy sê sneeu is nie ongewoon in dié gebied, waar sy al jare lank woon, nie. Die sneeu kan egter gewoonlik net hoog in die berge gesien word. “Die laaste keer dat dit op grondvlak gesneeu het, was in 2010,” sê Viljoen.

Volgens haar het dit Vrydagnag regdeur begin sneeu tot Saterdagoggend en het sy die foto’s omstreeks 09:00 Saterdag geneem. Sy sê daar het die afgelope naweek ook 50 mm reën in die reservaat geval en dit het die sneeu vinnig weggewas.

Vandag is temperature in die reservaat reeds warmer en is daar geen teken van die spierwit tonele wat Saterdag daar sigbaar was nie.

En hoe hanteer die reservaat se diere-inwoners die koue? “Hulle is heeltemal oukei met die sneeu, veral omdat dit kortstondig is. Ons weet wanneer daar koue op pad is, want ons kan dit aan die diere se gedrag sien. Hulle beweeg gewoonlik na warmer dele van die reservaat soos die valleie waar hulle nie aan die koue wind blootgestel is nie.”

Sy sê personeel op die reservaat tref ook voorsorg vir die koue weer deur aanvullende voer vir die diere te gee om te verseker dat hulle sterk genoeg is om die koue te trotseer.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het verlede week gewaarsku dat die Wes-Kaap, Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap die afgelope naweek onder uiters koue toestande gebuk sou gaan. Volgens die weerdiens verlaat die kouefront reeds stelselmatig die land, maar laer dagtemperature sal steeds die volgende paar dae gevoel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

alida ·

Dit is so mooi maar mens kry die diere ook maar jammer in die koue.

Elvira ·

Te pragtig. So lekker om so n pragtige berig op Maroela te lees. Dankie.

LB S ·

BAIE mooier en indrukwekkender as “Die wêreld in fotos”.

Daan Erasmus ·

Sneeu is net mooi op ‘n foto. Die werklikheid is lastig. Ons klere is nie vir sneeu ontwerp nie.

Lizan Burger ·

Knap gedaan Kitty. Jy het ‘ n ware aanvoeling vif die natuur

Elsa ·

My hartlike gelukwensing aan Kitty Viljoen met hierdie besondere foto’s. Dis baie raar om foto’s van Afrika se wilde diere in die sneeu te sien. Dankie ook aan Maroela Media vir die plaas van hierdie pragtige artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.