SA gebore draaiboekskrywer sterf

Sir Ronald Harwood (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaans gebore dramaturg en draaiboekskrywer sir Ronald Harwood, veral bekend vir sy Oscar-bekroonde draaiboek vir The Pianist, is oorlede.

Harwood was 85 jaar oud.

Sy agent, Judy Daish, het bevestig Harwood is Dinsdag by sy huis in Sussex, Engeland, aan natuurlike oorsake dood, berig BBC.

“Sy vrou, Natasha, is in 2013 oorlede en sir Ronald word oorleef deur hul kinders, Antony, Deborah en Alexandra,” het Daish in ’n verklaring gesê.

Harwood is in 1934 in Kaapstad gebore waarna hy in die vroeë 1950’s na Brittanje verhuis het.

Van Harwood se bekende toneelstukke sluit in The Dresser en Quartet wat albei tot rolprente verwerk is, berig The Guardian.

Harwood het ook die draaiboek vir die film The Diving Bell and the Butterfly in 2007 geskryf waarvoor hy in 2008 ’n Bafta-toekenning ontvang het. Dié film is dieselfde jaar vir ’n Oscar-toekenning benoem.

Harwood is in 2010 deur koningin Elizabeth II tot ridder geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LANA is ELANè ·

” The Pianist” was en is een van my groot gunsteling flieks gewees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.