SA gedreig oor invalle in Mosambiek

isis terreur

Argieffoto.

Die ekstremistiese groep, die Islamitiese Staat (Isis), het ’n openlike waarskuwing tot Suid-Afrika gerig indien hy beoog om betrokke te raak by die verslegtende veiligheidsituasie aan die noordkus van Mosambiek.

Volgens Isis sal hy wraakaanvalle teen Suid-Afrika van stapel stuur indien die land sou besluit om betrokke te raak by die situasie in sy buurland.

Mosambiek se mees noordelike kusprovinsie aan die grens met Tanzanië is Cabo Delgado. Die veiligheidsituasie daar het reeds sedert 2014 stelselmatig versleg weens ’n insurgensieveldtog en skrikbewind vanuit Tanzanië deur Ahlus Sunnah wal Jamaah, ’n ekstremistiese Moslemgroep met bande met Isis.

Tot dusver is meer as ʼn 1 000 mense reeds dood in die gewelddadige aanvalle, met 210 000 van die verarmde, landelike Mosambiekse bevolking wat uit hul huise gevlug het en as vlugtelinge elders woon.

Cabo Delgado is tot relatief onlangs as ’n plek van weinig tot geen strategiese belang nie beskou, maar dit het alles in 2007 verander toe ’n natuurlike gasbron in die gebiedswaters ontdek is wat tans as die derde grootste gasvonds in die wêreld gereken word.

Die impak van die onstabiele situasie in Mosambiek op die land se bure het onder die aandag van die Suid-Afrikaanse buitelandse intelligensiedienste gekom. Die Suid-Afrikaanse minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, het onlangs in die parlement in antwoord op ’n vraag deur die DA-LP dr. Mimi Gondwe gesê Suid-Afrikaanse agente is wel in die gebied ontplooi.

Dit het daartoe gelei dat Isis in ’n reguit en dreigende verklaring, waarop die Suid-Afrikaanse regering nog nie gereageer het nie, gesê het Suid-Afrika moet sy neus uit Mosambiek hou, of die gevolge dra.

Isis is betrokke by verskeie moorddadige terreurveldtogte in lande wat hulle as vyandig beskou; so dis beslis nie noodwendig koue pampoen nie.

Verlede week het Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte juis toegeslaan op ’n kleinhoewe by Kliprivier suid van Johannesburg, waar verskeie lede van ’n beweerde Isis-sel in hegtenis geneem is. Hulle teiken glo Suid-Afrikaners in gebiede soos Fordsburg vir ontvoerings met die doel om lospryse se opbrengs vir Isis te bekom. Dit is die jongste konfrontasie in ’n ontluikende stryd tussen Suid-Afrika en Isis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

johanf ·

ISIS is lankal in SA, ek verneem van ń opleidings basis op ń plaas, nie ver van hier nie, hoe waar dit nou is, kan ek nie bevestig nie.

Eerlik ·

SA “veligheids magte” kan nie eers hulle eie burgers onder bedwang hou of beveilig nie, wat n grap!!!

Strandloper ·

Het ons regtig veiligheids magte?…hul doen en late stem meer ooreen met n kindertuin.

Veronika ·

Goeie genade! Wat gaan aan met ons wereld!? Siek!! Ek wonder of SA die waarskuwing ter harte sal neem, ek dink daai spul is ernstig!!

Bigshow ·

Dit sal nou n grap en n half wees, ons “veilgheidsmagte” is nie opgewasse teen hierdie Isis outjies nie. Klap die skote dan hol hulle. Al waarvoor hul goed is is vir ???? aanjaag en dan sit ???????? weer met die verleentheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.