SA ‘gereed’, sou gevreesde koronavirus uitbreek

Zweli Mkhize en Aaron Motsoaledi vanoggend by die mediakonferensie. (Foto: Twitter)

Die departement van gesondheid het Woensdagoggend gesê Suid-Afrika is op die hoogs moontlike gereedheidsgrondslag geplaas, sou die gevreesde koronavirus wat reeds 132 lewens in China geëis het, in die land uitbreek.

Daar is tot dusver geen gevalle van die virus in Suid-Afrika aangemeld nie. Daar word wel vermoed dat ’n persoon in Zambië die virus onder lede het.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vanoggend die media saam met Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, in Johannesburg toegespreek in ’n poging om gemoedere oor dié virus te kalmeer. Gevalle van die virus is reeds in verskeie lande soos Japan, Duitsland, Amerika en Kanada aangemeld.

Volgens Mkhize het Chinese owerhede aangedui dat dit nog nie nodig is om buitelanders, soos Suid-Afrikaners, uit dié land te verwyder nie. Die minister raai wel Suid-Afrikaners aan om hul reisplanne na China te kanselleer of uit te stel.

Dít te midde van honderde buitelanders wat uit Wuhan, waar die eerste geval aangemeld is, na veiligheid gebring word.

Mediese werkers praat Maandag met ‘n vrou wat vermoedelik die virus onder lede het n Wuhan, China. (Chinatopix via AP)

BBC berig Australië beplan tans om 600 van sy burgers wat uit China terugkeer vir twee weke op Kerseiland (Christmas Island), ongeveer 2 000 km van sy vasteland, in kwarantyn te plaas.

Japan, Amerika en die Europese Unie help ook tans hul burgers om terug te keer huis toe.

Mkhize verseker mense dat die departement van internasionale betrekkinge (Dirco) in verbinding is met die Chinese owerhede, asook Suid-Afrikaners in China, veral diegene in Wuhan.

Die DA het egter vanoggend ’n beroep gedoen op Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, om in te gryp by die Suid-Afrikaanse ambassade in China. Dit is omdat die ambassade dae lank gesluit is weens die Chinese Nuwejaar.

Die party sê hy is tans in verbinding met sowat 100 Suid-Afrikaners in China, van wie baie in Wuhan vasgevang is. Openbare vervoer is daar opgeskort.

Die gesondheidsdepartement sê hy het op eie bodem reeds ’n plan van aksie in werking gestel om te verhoed dat die virus na Suid-Afrika versprei. Dit behels dat internasionale reisigers, veral vanuit Asië, se temperatuur gemeet word wanneer hulle Suid-Afrika binnekom.

Spesiale maatreëls is ook by die Internasionale Lughawe OR Tambo in Johannesburg in werking gestel, aangesien dié lughawe die besigste in Afrika is.

Volgens Mkhize word die passasiers van direkte vlugte vanaf China in die afgelope 14 dae nou verplig om ’n vraelys te voltooi om moontlike kontak met die virus op te spoor.

‘n Pasiënt word by Zhongnan-hospitaal behandel (24 Januarie 2020) (Foto: Xiong Qi/Xinhua via AP)

Sou die virus wel na Suid-Afrika versprei, is riglyne aan dokters en verpleegsters in die private asook openbare sektor gestuur, wat medici in staat sal stel om ’n pasiënt met die koronavirus te diagnoseer en behandel. ’n Noodhulplyn is ook reeds in werking gestel waar medici hul vrae oor die virus kan rig.

Volgens Mkhize is drie hospitale aangewys om gevalle te behandel. Die hospitale is die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg, Tembisa-hospitaal digby Johannesburg en die Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria.

Dít in die lig van ’n dringende personeeltekort wat onlangs veral by Tembisa-hospitaal uitgewys is. Dié hospitaal was boonop die afgelope weke in die media nadat tien babas hiér aan ’n bakteriële infeksie dood is.

Mkhize sê hy ontken nie dat daar moontlik ’n tekort aan hulpbronne en personeel by dié hospitale kan wees nie. ’n Gespesialiseerde eenheid sal egter wel na die pasiënte van die koronavirus in isolasie omsien. Dié span is spesifiek opgelei vir gevalle van die koronavirus.

‘n Waarskuwingsteken in Langfang, China. (Foto: Verskaf)

Meer oor die gevreesde virus

Mkhize sê navorsing dui daarop dat die virus wel van mens tot mens oorgedra word, hoewel dit ’n oorsprong by diere het. Simptome sluit in koors en asemhalingsprobleme.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) kan die virus se inkubasietydperk ongeveer twee tot tien dae duur. Volgens ander navorsing kan dit egter tot 14 dae duur.

Die minister sê die meeste sterftes in China kom onder ouer mense of mense met bestaande siektetoestande voor.

Mkhize sê daar is geen bewyse dat die genotipe van die virus se organisme muteer nie, wat beteken dat die virus steeds dieselfde lyk as in Desember 2019 toe dit die eerste keer aangemeld is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ag asseblief tog!

Julle kan nie eers basiese goed verstaan nie, hoe gaan julle ‘n pandemie hanteer?

Martin

Moet nie bekommer nie. Hulle gaan hom verduister as hy hier sou uitbreek.

Vonkprop

Hahahaha SA is gereed. Gereed vir wat, om die ligte af te sit sodat die virus in die donker verdwaal?

Dirk

SA gereed??? Ag, asseblief tog… en dan nogal in drie Staatshospitale, een waarvan hulle nie eers bakterieë suksesvol kan beheer nie?!

marous

Ja . Twee anti – histamine en ‘n voltaren inspuiting . Genees van slang byt tot korrupsie ….