SA gesin wat sou emigreer, nou gestrand weens Covid-19

Die Richter-gesin (Foto: Verskaf)

“Dit voel soos die einde van die wêreld.”

Só vertel Johannes Richter (41) van Kempton Park in Gauteng oor die oggend toe hy wakker word met die nuus dat Nieu-Seeland sy grense binne enkele ure vir alle buitelanders sou sluit. Richter was veronderstel om later dié dag saam met sy vrou, Wilmien (36), en die egpaar se baba ’n vlug te neem om na dié land te emigreer.

Die Richters het in dié stadium reeds uit hul werk bedank, hul huurkontrak beëindig en byna al hul besittings, waaronder hul motors en meubels, verkoop – dít teen ’n appel en ’n ei.

Johannes verduidelik aan Maroela Media dat sy gesin van plan was om eers in April na Nieu-Seeland te verhuis. Uit vrees dat presies dít met hulle sou gebeur, het Johannes egter sowat twee weke gelede noodgedwonge hul vlugkaartjies na verlede Donderdag vervroeg om so gou moontlik in Nieu-Seeland te kom te midde van die onsekerheid rakende Covid-19.

Dit het die gesin met ’n week gelaat om hul laaste reëlings te tref. “Ons het besef dat ons nie langer kan wag nie en het al ons goed inderhaas begin verkoop. Ons het die meeste van ons goed weggegee. Ons het nét ’n week gehad.”

Volgens Johannes is hy die oggend van die vlug wakker gebel deur familie in Nieu-Seeland. Dié familielede het hom ingelig dat die Nieu-Seelandse regering pas aangekondig het dat die land binne ure sy grense sou toemaak in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 te bekamp. Dit het ook beteken dat alle werksvisums in daardie stadium nie meer sou geld nie.

Inwoners van Nieu-Seeland sal vir die volgende maand in ’n staat van inperking geplaas word. Dié streng regulasie tree Woensdag in werking. Meer as 100 Covid-19-gevalle is in dié land aangemeld.

Johannes sê die aanvanklike reëling was dat jy steeds kon vertrek indien jy binne ses uur vanaf die aankondiging by jou vlug kon inboek. Daar is ook gesê dat gesondheidswerkers die land sal mag binnekom. Wilmien is ’n arbeidsterapeut van beroep en haar werkgewer in Nieu-Seeland het inderhaas ’n brief vir emigrasie geskryf in ’n poging om haar darem alleen op die vlug te kry.

Die gesin is met dié hoopvolle vooruitsig lughawe toe. Daar gekom, het emigrasiebeamptes die brief afgekeur. Die “sesuur-reël” het skynbaar ook nie bestaan nie.

Wellington in Nieu-Seeland was Sondag grafstil. (Foto: ANA)

Die vlug waarop die Richters veronderstel was om te vertrek, was die eerste vlug wat nié kon opstyg nie, verduidelik Johannes. “Ons is nie die enigstes wat agtergelaat is nie. Daar het ’n vrou voor ons gestaan wat op pad was na Nieu-Seeland om by haar man aan te sluit. ’n Ander vrou was in trane.”

Johannes verkwalik homself. “Ek dink heeltyd wat ek anders kon gedoen het. Kon ons nie dalk vroeër gevlieg het nie? Maar die lugredery het ons tog voorheen verseker dat ons betyds sou vlieg.”

Die gesin kan tot die einde van die maand in hul huurhuis aanbly voordat hul huurooreenkoms verstryk. Vriende het intussen ’n paar kampstoele vir hulle gebring om op te sit. Iemand het ook vir hulle ’n mikrogolfoond geneem om hul kos mee warm te maak.

Johannes sê dit is egter nie in dié stadium duidelik waar hulle volgende maand gaan bly nie. “Familie het wel aangebied om ons te huisves.” Die gesin het ook geen benul hoe lank hulle by familie sal moet bly en of hulle nog sal kan emigreer nie.

“Ons weet nie wanneer die land se grense gaan heropen en of ons dan nog werk het nie. Ons moet voor Junie daar wees om ons werksvisums te aktiveer, anders verval dit. Ons het nie antwoorde nie. Ons vertrou nou net op God vir ’n uitkoms,” sê Johannes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Kan net dink hoe julle as gesin nou moet voel. Sterkte en ek vertrou dat julle vinnig sal kan voortgaan met julle toekoms planne.

Hanel ·

Ek en my man sit in presies dieselfde situasie! Ons moes môre Australië toe vlieg! Het reeds bedank, alles verkoop, huis opgegee, geld oorgeplaas in rekeninge daardie kant en nou sit ons gestrand. Dankbaar vir familie en vriende waar ons nou kan bly.

Jo ·

Hanel. Kyk net op. Moenie skuldig voel nie, en moenie dat mense julle skuldig laat voel oor julle keuse nie en bygesê sal mense hierdie situasie gebruik om te sê dit was nie God se wil nie daarom kan julle nie meer vlieg nie. Byt net vas. Julle planne en toekoms is nogsteeds in Sy hande. Dis dalk net n ruk tot stilstand gebring. Maar hou moed. Kyk net na bo en ek wil eintlik julle uitdaag vandag, raak opgewonde en sê vir die Here julle is opgewonde om te sien wat Hy nou gaan doen in die situasie. Sterkte.

Agter die skerms..... ·

My God gee hulle asseblief die uitkoms my God – al die reelings was getref. Als was reg gedoen. Asseblief my God ons bid op ‘n uitkoms vir die Richter gesin. Asseblief my God hou U hande oor hulle. Hulle wou net ‘n ander lewe vir hulle kind lewe, nie in ‘n bekommerde land waar mens nie weet wat volgende is nie. Laat daar net ‘n uitkom wees my God. Amen

Agter die skerms..... ·

Lig almal hande na bo en se asseblief My God wys ons die weg vorentoe asseblief my God. Amen

SwartBees ·

Mag ek vra dat die persoon wat die af duimpie gegee het ook in gebed gehou kan word.

My Mening ·

Ek hoop van harte julle kom reg en als werk ten goede uit.

Ek kan nooit verstaan hoekom daar mense is wat altyd negatiewe kommentaar moet lewer nie. Mense neem sekere besluite op gronde van hul omstandighede, denkwyse en ervarings.

As jy nie daarvan hou of meer saamstem nie om welke rede is dit regso. Maar ai om so ongevoelig te klink is darem ook nie reg nie.

ooknetmens ·

Ons is in dieselfde bootjie. Gelukkig transfer ek in dieselfde maatskappy en het hulle my baie temoet gekom en mag ek nou langer in huidige pos bly tot ons US toe mag gaan. Sterkte vir julle, dit sal uitwerk

Jaco ·

Die een wat negatiewe kommentaar lewer, is seker 200% TEVREDE met goed soos beurtkrag, regstellende aksie, plaasmoorde, ontvoering van kinders, swak of geen munisipale dienslewering ens ens.

Oujongvrou ·

Ai tog, hoe jammer voel ek nou vir julle almal wat hier gestrand sit. Hoop dat dit vir julle almal gaan uitwerk, sodat julle n beter toekoms kan gaan he. God sal julle nooit voor n berg sit waar julle nie kan oor nie. Sterkte in die tyd wat julle nou maar in familie se oe moet kyk.

Wonder net ·

Nou verstaan ek nie. Die einste landwat jy wil verlaat as gevolg van geweld, politieke redes en watter persoonlike redes ookal, beskerm jou en jou vrou en julle baba deur julle nie te laat vlieg nie. Indien jy wel so ver kom om op n vlug te kom, staan jy n baie groot risiko om jouself en jou gesin bloot te stel aan die virus en dan nog daar in kwarentyn geplaas te word vir n minimum van 21 dae. Ek verstaan julle goed is als verkoop en dis moeilik want jy is afhanklik van mense (wat jy anyway verlaat). Maar wat gaan moeiliker wees? Om hier te sit met niks en jy het familie en vriende se ondersteuning, of om in die vreemde te sit met moontlike Covid-19 sonder ondersteuning?

Wynand ·

Ek het baie simpatie met julle! Emigrasie is klaar stresvol genoeg. Maar wil julle aanmoedig. Hierdie sal verbygaan – dis net korttermyn. Julle is in dieselfde bootjie as duisende ander. So moenie nou bekommerd wees oor bv visums en werke nie. Alle lande staan nou stil. Baie sterkte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.