SA gewaarsku oor dodelike longpes

Vrywilligers van Red Cross praat met inwoners van ʼn nedersetting buite Antananarivo in Madagaskar (16 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Alexander Joe

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê Suid-Afrika is een van nege lande wat moontlik deur die dodelike longpes getref kan word.

Die plaag, ook bekend as die “swart dood”, het reeds die lewens van meer as 120 mense in Madagaskar geëis terwyl meer as 1 000 mense aangesteek is. Volgens die WGO is nege lande en oorsese gebiede geïdentifiseer as prioriteitslande in die Afrika-streek vir paraatheid en gereedheid op grond van handels- en reisverbindings met Madagaskar.

“Die lande en oorsese gebiede sluit in die Comore, Ethiopië, Kenia, Mauritius, Mosambiek, Réunion, die Seychelles en Tanzanië.” Volgens die WGO het die Comore, Mauritius en Suid-Afrika reeds maatreëls in plek gestel om hul bevolkings te beskerm, naamlik toegangskeuring en die verskaf van inligting aan passasiers oor hoe om mediese sorg te kry in geval hul simptome het.

Die WGO het gesê daar is twee vorms van die infeksie, naamlik builepes en longpes. Madagaskar het sedert Augustus ’n groot uitbreking van die plaag en hoewel dit endemies is tot sekere dele van die land, is daar vanjaar ook gevalle aangemeld in ander areas en veral stedelike gebiede, onder meer die hoofstad Antananarivo.

Volgens die WGO is die algehele risiko op nasionale vlak beskou in Madagaskar baie hoog as gevolg van die verhoogde risiko van verdere verspreiding en die ernstige aard van die siekte. “Die risiko van streeksverspreiding is matig weens die voorkoms van gereelde reise via lug en see na die naburige Indiese Oseaan-eilande en ander suidelike en oostelike Afrika-lande, en die waarneming van ‘n beperkte aantal gevalle in reisigers.”

Chirurgiese maskers word om kinders se gesigte geplaas in Antananarivo, Madagaskar (3 Oktober 2017). Foto: AP Photo/Alexander Joe

Die WGO het gesê die risiko word egter verminder weens die kort inkubasieperiode en die implementering van keuringsprosesse in Madagaskar en die gereedheid van naburige Indiese Oseaan-eilande en ander Afrika-lande. “Die algemene wêreldwye risiko word as laag beskou.”

Volgens die WGO is daar tussen 2010 en 2015 meer as 3 240 gevalle aangemeld en is 584 mense daaraan dood. “Die plaag kan ’n baie ernstige siekte onder mense wees met builepes wat ’n sterftesyfer van tussen 30% en 60% het terwyl longpes altyd dodelik is indien dit nie behandel word nie.”

Builepes is die mees algemene vorm van die plaag en word gekenmerk deur pynlike geswelde limfknope wat in etterige oop sere kan ontwikkel. Die plaag word oorgedra tussen diere en mense deur die byt van besmette vlooie, direkte kontak met besmette weefsel en inaseming van besmette respiratoriese druppels.

Die plaag het tydens die 14de eeu as die “swart dood” bekendgestaan en meer as 50 miljoen sterftes in Europa veroorsaak. Vandag kan die plaag maklik behandel word met antibiotika en die gebruik van standaardvoorsorgmaatreëls om te verhoed dat infeksie opgedoen word.

Simptome sluit in die skielike aanvang van koors, kouekoors, kop- en lyfpyn, swakheid, braking en naarheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.