SA gholf-wendroogte kan nog lank duur

Suid-Afrikaanse beroepsgholf beleef tans sy naaslangste major-wendroogte sedert Bobby Locke in die laat veertigs sy én sy geboorteland se eerste grote ingeoes het.

Suid-Afrika se laaste major-kampioen was Ernie Els, wie se sege in 2012 se Britse Ope op Royal Lytham & St. Anne’s die 22ste keer was dat ʼn Suid-Afrikaner ʼn major-titel verower het.

Net drie lande, Amerika (281), Skotland (55) en Engeland (36), het meer major-kampioene as Suid-Afrika opgelewer.

Die huidige Suid-Afrikaanse wendroogte van 11 jaar word slegs oortref deur die 16 jaar tussen Gary Player se Amerikaanse Meesters-sege in 1978 op Augusta in Georgia en Els se oorwinning in 1994 in die Amerikaanse Ope op Oakmont in Pennsilvanië.

Suid-Afrika spog met sewe major-kampioene. Afgesien van Locke, Player en Els het Retief Goosen, Trevor Immelman, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel almal ook major-sukses gesmaak.

Goosen het die Amerikaanse Ope in 2001 en 2004 gewen, terwyl Immelman in 2008 die Amerikaanse Meesters-titel verower het.

Oosthuizen was 2010 se Britse Ope-kampioen op die magiese St. Andrews, met Schwartzel wat in 2011 op Augusta die Meesters se groen wennersbaadjie oor sy skouers getrek het.

Immelman, Oosthuizen en Schwartzel is drie van altesame 144 spelers wat in hul loopbane net een major-titel kon wen.

Trevor Immelman. (Foto: AP/Chris Carlson).

Player is met nege titels Suid-Afrika se voorste major-wenner, met Locke en Els wat albei vier keer as ʼn major-kampioen gekroon is.

Player se nege major-seges bestaan uit drie Amerikaanse Meesters- (1961, 1974 en 1978), twee Amerikaanse PGA- (1962 en 1972), een Amerikaanse Ope- (1965) en drie Britse Ope-titels (1959, 1968 en 1974).

Locke se vier oorwinnings was almal in die Britse Ope (1949, 1950, 1952 en 1957), terwyl Els twee Amerikaanse Ope- (1994 en 1997) en twee Britse Ope-titels (2002 en 2012) agter sy naam het.

Met die Amerikaanse Meesters- en PGA-toernooie van 2023 agter die rug, lê die Amerikaanse Ope aanstaande maand voor.

Plaaslike gholfliefhebbers wonder oor wanneer en óf daar ooit weer ʼn SA wenner van een van die spel se vier grotes gaan wees.

Wie staan kans?

Suid-Afrika se Thriston Lawrence. (Foto: Gabriel Monnet/AFP)

Tans is slegs vier SA spelers verseker van hul deelname aan die Amerikaanse Ope, wat van 15 tot 18 Junie by die Los Angeles-buiteklub in Kalifornië beslis word.

Die viertal wat reeds in die uitsoekveld van 156 spelers is, is Thriston Lawrence, Deon Germishuys en Wilco Nienaber, asook die amateur Aldrich Potgieter.

Lawrence het ʼn uitnodiging na die Ope ontvang danksy sy drie oorwinnings op die DP World-reeks die afgelope seisoen, terwyl die 18-jarige Potgieter as die Britse amateurkampioen regstreeks tot die toernooi toegelaat is.

Germishuys en Nienaber het verlede week op Walton Heath in Surrey onderskeidelik eerste en tweede geëindig in die Ope-kwalifiseringstoernooi wat op Engelse bodem beslis is. Dit is geen geringe prestasie nie.

Soos die geval met die komende Ope het ook net vier SA spelers vir die pas afgelope Amerikaanse PGA-toernooi gekwalifiseer nadat 11 SA spelers verlede jaar in dié major meegeding het.

Toegegee, SA sterre soos Oosthuizen, Schwartzel, Branden Grace en Dean Burmester is deesdae op die kantlyn weens hul deelname aan die omstrede LIV-reeks. Hulle sou afgesien van die Amerikaanse Meesters heel waarskynlik vir die ander drie grotes gekwalifiseer het.

Maar met die LIV-spelers in die koue is dit teleurstellend dat die SA aanslag in majors beperk is tot ʼn  handvol of minder spelers.

Suid-Afrika se Branden Grace. (Foto: Steve Dykes/Getty Images via AFP)

Inteendeel, die huidige flou SA aanslag op die major-titels is kommerwekkend vir diegene wat hoop om gou weer ʼn SA wenner te sien.

Die huidige groep SA sterre wat internasionaal – grootliks in Europa – meeding, is doodeenvoudig nie vergelykbaar met ʼn Oosthuizen, Schwartzel en Immelman van vroeëre dae wat op alle suiers vuur nie.

En as jy van Els en Goosen praat en vergelykings wil tref met vandag se voorste plaaslike spelers, is daar doodeenvoudig niemand wat naby Ernie en Retief kom nie.

Hulle was op hul dag van die bestes wat die wêreld nog gesien het en veral Els was jare lank naas Tiger Woods die speler wat die wêreld aan sy voete gehad het.

Dit is hartseer, maar die werklikheid is dat die land tans ʼn baie gemiddelde groep top-spelers het wat nie oor die talente beskik om op die heel grootste verhoog te presteer nie.

As Woods, Els of Goosen ʼn balletjie geslaan het, het dit anders geklink as die stok en balletjie kontak gemaak het.

En in ʼn tydperk toe spelers die absolute minimum tyd in ʼn gimnasium deurgebring het en natuurlike talent die grootste pyl in ʼn speler se koker was, het Els en Goosen gedy in hul strewe na sukses in die grootste geselskap wat daar was.

Ernie Els en Tiger Woods. (Foto: AP/Andy Brownbill)

Els was ook baie meer toegewyd as waarvoor hy ooit krediet gekry het.

In die vroeë negentigs voordat hy plaaslike gholf oorheers en wêreldgholf met ʼn storm getref het, het hy sy tande manalleen in die VSA in die Yanks se kleiner voerderreekse gaan slyp.

Hy het byna geen sukses behaal nie, maar wel op die harde manier geleer wat dit verg om die boonste sport in die strawwe Amerikaanse PGA-reeks te bereik.

En toe hy die eerste keer in 1992 in Suid-Afrika en daarna in 1993 in Japan die eerste keer internasionale sukses geproe het, was daar geen keer aan Els nie.

Lig in die tonnel?

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout. (Foto: SA Open/Twitter)

Op die oog af is daar nie ʼn duidelike opvolger wat Els se plek op die wêreldverhoog kan inneem nie.

Oosthuizen en Schwartzel was moontlike kandidate, maar is nou tot die kantlyn verdoem.

Dit maak Christiaan Bezuidenhout die land se top-speler, maar dié boorling van Delmas se spel is in hierdie stadium te wisselvallig om van hom ʼn ware major-kandidaat te maak.

Só ook Erik van Rooyen, MJ Daffue, Dylan Frittelli en Garrick Higgo, wat óf warm óf koud blaas in Amerika en nie oortuig as ware gerekende sterre nie.

Ander SA sterre soos Lawrence en kie wat in die Sonskynreeks uitblink en finansieel suksesvol in die Europese reeks is, het ongelukkig nog ʼn baie ver pad om te stap.

Die suid-Afrikaanse gholfspeler Dylan Frittelli. (Foto: Darren Carroll / GETTY IMAGES )

Diegene wat weet, sê die blikkie is tien keer kleiner as jy aanlê in ʼn major-toernooi. En net die heel bestes wat die bruisende adrenalien in hul are kan beheer, is tot sukses bestem.

Om ʼn major te wen, sit gevolglik nie in enigiemand se broek nie. Jy kort durf, jy moet die regte temperament hê en afgesien van die natuurlike talente wat noodsaaklik is, moet jy ook oor die nodige toewyding beskik om harder as jou teenstanders te slyp.

Alles in ag genome blyk daar nie veel lig in die tonnel vir SA gholf te wees wat betref spoedige major-sukses nie en die huidige wendroogte in die spel se vier grotes kan ʼn bitter lang en uitmergelende episode wees.

Aanhouer wen is al wat weer die sjampanjeproppe gaan laat klap.

  • Fotobronne: AFP, golfbible.com, ANA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.