SA gholfspeler toets positief vir Covid-19

Victor Lange. Foto: CJ du Plooy/ANA

Die Suid-Afrikaanse gholfspeler Victor Lange het positief vir Covid-19 getoets.

Die LatinoAmerico PGA-reeks, waarvan Lange deel is, het in ʼn verklaring gesê Lange toon nie veel simptome nie en sal na verwagting ten volle herstel.

Lange (26) word tans onder mediese toesig en in isolasie by sy huis in Johannesburg behandel.

Hy het Mexiko, waar hy aan ʼn toernooi deelgeneem het, op 9 Maart verlaat en is op 15 Maart in Johannesburg getoets toe hy ʼn vriend na ʼn doktersbesoek vergesel het.

Lange is op 17 Maart ingelig dat hy positief getoets het vir Covid-19.

“Ons waardeer Victor se spoedige bekendmaking van sy diagnose aangesien dit die PGA in staat stel om nie net diegene met wie hy in kontak was in kennis te stel nie, maar ook om ondersteuners te herinner aan die nodigheid om gehoor te gee aan die aanbevelings en mandate wat tans in plek is ten einde ander te beskerm,” het die PGA-reeks in ʼn verklaring gesê.

“Victor het ook sy dankbaarheid uitgespreek teenoor sy medespelers en aan sy ondersteuners wat hul kommer uitgespreek het en woorde van bemoediging aangebied het.”

Lange is 1 215de gekeurde op die wêreldranglys.

Die PGA-kampioenskap wat van 11 tot 17 Mei in Kalifornië sou plaasvind en die Meesters wat op 9 April in Georgia sou begin, is reeds uitgestel weens Covid-19.

Verskeie ander gholftoernooie, insluitend die eerste vroue-major van die jaar, is ook afgelas.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.