SA gryp in oor gestrande jongmense in China

Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Sibonelo Ngcobo/ANA

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking werk saam met die Chinese owerhede om tientalle jong Suid-Afrikaners wat in die land gestrand is te help.

Minister Lindiwe Sisulu het haar departement opdrag gegee om saam met die Chinese owerhede te werk en die 51 jong Suid-Afrikaners wat die slagoffers van ʼn visum-slenter is se paspoorte terug te gee sodat hulle so gou as moontlik na Suid-Afrika kan terugkeer.

Volgens die Suid-Afrikaanse ambassade in Beijing is die 51 jong Suid-Afrikaners deur ʼn agent gelok om na China te reis met ʼn studievisum en as Engelse onderwysers te werk. Hulle is glo onder die indruk gebring dat hulle hul werkvisums sou ontvang sodra hulle in China aankom maar dit het nie gebeur nie. Hulle het egter begin werk met die studievisums wat strydig is met China se immigrasiewette.

“Ons ambassade in Beijing is in gesprek met die Chinese owerhede om die saak op te los. Ons is ook in kontak met die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika om die groep se paspoorte terug te kry. Die ambassadeur het onderneem om die saak te bespoedig,” het Sisulu gesê.

“Ons is deeglik bewus dat die Chinese owerheid sy eie regsprosesse sal volg wanneer so ʼn oortreding plaasvind en die saak dienooreenkomstig hanteer. Ons doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om versigtig te wees vir dié soort slenters en by die relevante owerhede seker te maak voordat hulle na ander lande reis.”

Sisulu het gesê haar departement sal voortgaan om konsulêre bystand te lewer aan die groep jong mense en om hul families op die hoogte te hou van die jongste verwikkelinge. Die minister is ook van plan om met die ministers van polisie en binnelandse sake in kontak te tree oor dié soort slenters sodat die skuldiges aan die pen kan ry.

Volgens Sisulu is dit prioriteit dat al 51 Suid-Afrikaners wat in China gestrand is so spoedig moontlik na Suid-Afrika terugkeer.

Van die jongmense wat in China gestrand is. Foto: Verskaf

Intussen is daar al R26 000 ingesamel op die skarefinansieringswebwerf Backabuddy om die groep by te staan. Volgens ʼn mediaverklaring van die webwerf is die agent wat die jong mense na China gelok het in China in hegtenis geneem.

Volgens inligting is al die jong mense onder 25 jaar oud en het die agent hul paspoorte afgeneem toe hulle in China aangekom het.

“Die skole het nooit vir ons kinders oor hul werksvisums gevra nie. Hulle het net die helfte van hulle salarisse ontvang en is aangesê om vir die polisie weg te kruip indien hulle ondersoek word,” het Liza Bold, ʼn ma wie se 21-jarige dogter ook in China gestrand is, gesê.

Lorraine Theron het intussen gesê sy is doodbekommerd oor haar 19-jarige dogter wat ook deel van die groep is. “Alles het so vinnig gebeur. Sy moes vir ʼn onderhoud gaan in Krugersdorp en toe in Roodepoort. Toe moes sy ʼn video indien waarin sy sê hoekom sy in China wil gaan skoolgee. Sy is aanvaar en het onmiddellik ʼn eenrigting-vliegkaartjie na China gekry.”

Volgens inligting mag die groep nie hul akkommodasie verlaat nie en moet hulle op R45 elk per dag oorleef.

“Ons het geen idee wanneer hulle gaan huis toe kom nie. Daar is vroeër vir ons gesê dit gaan nog ʼn maand duur, maar toe hoor ons hulle sal volgende week hul paspoorte kry. Ons vat dit maar dag vir dag,” het Bold gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Linda Gouws ·

Ek bid vir al die kinders se veilige terugkoms. Sterkte!

Ettienne ·

Nou wonder ek net hoekom ons regering toelaat dat meeste chinese in SA werk met toeriste visums? Huawei en ZTE is goeie voorbeelde.

Langjan ·

My pa gee klas in cambodia. Hy reel dat alles 100% korrek is. Hoekom kan due mense nie die reels voor die tyd gan lees nie. Dis in engels ook beskikbaar. Asook jou visa omstandighede en gebruik daarvan. Dis hukom hul in die moeilikheid is. Hul kyk nie alles deur en doen hul eie navorsing voor die tyd nie

Naas Vermaak ·

Heeltemal korrek Langjan…was onlangs 2 mnde in Vietnam, my kinders gee ook skool daar….het hope jongmense teëgekom wat net opdaag en nie rêrig weet wat om te doen nie.

GM ·

Ek is seker nou ‘n natvadoek, maar dit verbaas my nogal dat hul enigsins gehelp word om die proses te bespoedig.

White Rhino ·

Hierdie jognmense het ook ouers wat die papierwerk kon nagegaan het – of die persoon wat in ‘n leierskapsposisie was en dit gereel het.

In elk geval – dit is nou te laat vir trane – ek hoop die jongmense kom veilig terug.

Annezelle Gray ·

Hope for our kids in China

Don De Dieu Cafe is having a Breakfast Buffet on Sunday 1st of July to help the kids in China.

It will be R100 pp for a full buffet breakfast, for every breakfast that gets sold R20 will be donated to the kids.

Please support us.

Breakfast will be from 9- 12
Adress: Don De Dieu Cafe, Corner of First street and Viljoen street, Krugersdorp North

Marius S ·

Dit het my seun sowat 5 maande geneem om die regte prosedure te volg en selfs met ‘n werks visum oor te gaan. Een van die verskeie probleme is dat daar bitter min agentskap verteenwoordeging of enige ander persone wat met die prosedures kan help in SA is.

Daar is een of twee groot probleme in hul eie stelsel wat nie onderskryf is nie.
1) Die skool of universiteit op die visum staan bekend as die “main school” waar die bekendstellings fase plaasvind. Daarna word die persoon na ‘n sateliet skool uitgeplaas. Dit werk so in meeste gevalle aangesien die main school soms tot 20 en meer sateliet skole het.
2) In my seun se geval was die sateliet skool waarna hy gestuur was splinter nuut, ook nie ‘n vreemde verskynsel nie. Daar was vir hom gesê dat hy moet ontken dat hy van SA is en ‘n Amerikaanse aksend moet aanleer. Owerhede doen gereeld ondersoeke.
3) Hy het dit sterk bevraagteken met beide sy agentskap, die skoolhoof en selfs ander skole en agentskappe. Hulle het volgehou dat dit so werk en hy maar net moet eerbiedig wees daaraan.
Hy het met ‘n groot wroeging in sy hart self sy paspoort gaan soek en “gevind” en terug gekeur huistoe aangesien hy andersins die eintlike werk wat hy moes doen baie geniet het.
Ek sê weer, hy was baie versigtig van die begin af om alles volgens die boek te doen.
Ek vermoed daar is baie meer kinders in die moeilikheid.

Tjaart Herbst ·

Ek is ook deur my vorige agentskap gevra om te lieg oor my herkoms en aan die skool en die ouers te se dat ek van Amerika afkomstig is. Ek het egter geweier, maar het ek later wel uitgevind dat die skool se beheerliggaam aan die ouers vertel het dat ek in Amerika gebore is, en dat ek ‘n tyd lank in Suid Afrika gebly en ook daar skool gehou het. Dit word gedoen omdat die skool baie meer skoolgelde kan hef vir ‘n Amerikaanse onderwyser omdat die ouers bereid is om dan baie meer te betaal. Ouers is egter onkundig en betaal die ekstra gelde omdat hulle self nie die verskillende aksente ken nie.

Tjaart Herbst ·

Ek voel jammer vir die groep jongmense, want ongelukkig – soos dit vir my voorkom – is die agentskap se besonderhede nie nagegaan voor hulle uit SA is nie. Hier in China (waar ek ook skoolhou) is daar soveel skelms wat geld uit mense maak. Hulle belowe jou die wonderlikste lewe maar is net daarop uit om hul eie sakke te vul. Vir elkeen wat uitgeplaas word na een of ander skool, kry die ‘agent’ kommissie. So hulle gee nie om wat met jou gebeur nadat hulle die kommissie ontvang het nie. En baie van hulle verander hul agentskap se naam wanneer daar probleme opduik, net om later weer onder ‘n ander naam te begin bedryf. Daarom is dit van uiterste belang om alle inligting voor die tyd te verifieer, en weer, en weer na te gaan. Daar is wel eerbare agentskappe, maar daar is ook die wat weet wat die huidige klimaat is in SA waar werkloosheid ‘n groot kwessie is. En die sogenaamde agente teer op daardie wat onkundig en desperaat is. Daar is honderde sulke stories waarvan ons daagliks hier in China hoor wat met ander jongmense van ander lande ook gebeur. So hierdie is nie ‘n ‘eerste’ nie en is daar soveel ander wat ook in die strik getrap het, en nog sal trap – ongelukkig. Maak daarom dus eers seker van alles voordat dit aanvaar word as eerbaar en waar!

Koos ·

Klink vir my na flou verskonings. As jy jou intelligent genoeg ag om te gaan Engels aanbied oorsee moet jy seker tog weet jy kan nie met ‘n studentevisum oorgaan om daar te werk nie? Ek dink die Chinese begin nou moeg raak vir nat agter die ore kansvatters. Nee wat, ek sou ook sulke mense vasvat. En dan gaan hulle met ‘n eenrigtingkaartjie oor? Tyd dat mense en hulle gesinne verantwoordelikheid neem vir hulle blapse.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.