SA haai-afskrikkingstegnologie by Réunion getoets

Deur Wiida Fourie-Basson

Sementblokke van 180 kg elk anker die pype op die seebodem. By St Paul op Réunion-eiland, bestaan die seebodem uit ‘n vlak lagie sand met klippies daaronder. Foto: Sara Andreotti

Haai-afskrikkingstegnologie wat deur ʼn span navorsers van die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, word tans aan die kus van Réunion in die Indiese Oseaan getoets.

Die Shark Safe Barrier word beskryf as die gevorderdste haaispesifieke afskrikkingstegnologie wat tans beskikbaar is en wat nie haaie of ander mariene diere beseer of dood nie, terwyl dit terselfdertyd branderplankryers en swemmers veilig hou.

Die tegnologie is oor die afgelope sewe jaar ontwikkel deur die Departement Plant- en Dierkunde van die US se dr. Sara Andreotti en prof. Conrad Matthee, in samewerking met die wêreldbekende bewaringskundige Michael Rutzen, dr. Craig O’Connel van die VSA en Suid-Afrikaanse kusingenieur Laurie Barwell.

Die span het twee welbekende aspekte van haaibiologie gekombineer: hulle natuurlike afkeer aan digte seewierwoude, en hulle sensitiwiteit vir magnetiese velde, ten einde met ’n versperring vorendag te kom wat haaie en mense fisiek van mekaar sal skei.

In die praktyk bestaan dit uit verskeie skuinsgeplante rye hoëdigtheid poliëtileenpype, een meter van mekaar op die seebodem, wat ’n digte seewierwoud naboots. Die rye wat oseaanwaarts front, bevat groot keramiek magnete, wat ’n sterk magnetiese veld skep om die haaie nog meer af te skrik om hierdie gebied binne te kom.

Hierdie konsep is getoets in Gansbaai se stormagtige waters wat beskou word as die mekka van grootwithaaie in Suid-Afrika. Gedurende die twee jaar van toetsing het geen enkele haai hierdie kunsmatig geskepte seewierversperring wat 169 m² beslaan, probeer binnekom nie, selfs al is hulle met aas soontoe gelok.

Sewe maande nadat die SharkSafe Barrier by St Paul, Réunion-eiland, geïnstalleer is, bied dit reeds ‘n kunsmatige habitat vir groot tropiese visse. Foto: Sara Andreotti

Eerste toets buite SA waters

In 2014 is die Shark Safe Barrier met behulp van die US se tegnologieoordragmaatskappy, INNOVUS, gekommersialiseer.

Andreotti, die huidige hoof‑ uitvoerende beampte, is in 2017 deur Réunion se Haairisikobestuursentrum genader om die doeltreffendheid van die uitvinding in die Indiese Oseaan met bull sharks (in Suid-Afrika bekend as Zambezi-haaie) te toets.

“Gedurende Januarie en Februarie 2019 het ons ’n 100 m²‑versperring geïnstalleer aan die kus van Saint-Paul. Navorsers van Réunion plaas twee maal per week aas in die middel van hierdie gebied met die doel om haaie te lok. Alhoewel hierdie struktuur alreeds ’n kunsmatige rif gevorm het en ’n plek van veiligheid vir plaaslike vis geword het, het geen haai nog tot dusver hierdie gebied probeer binnedring nie,” sê sy.

Die veldtoets sal ten einde loop sodra die Réunion-span daarin geslaag het om minstens 20 bull shark-interaksies met die versperring vas te lê.  

Tussen 2007 en 2016 het hierdie branderplankryersparadys sewe noodlottige en 14 nie-noodlottige haai-insidente beleef, met ’n gevolglike 40%-daling in toeristebesprekings ná elkeen van hierdie betreurenswaardige gebeurtenisse.

“In 2014 het toeriste byna die helfte van die eilandbevolking uitgemaak. Maar vandag waarsku die owerhede inwoners en toeriste om uit die water te bly,” sê Andreotti.

Indien die Shark Safe Barrier suksesvol blyk te wees, kan die permanente installering hiervan aan die gewilde kuslyn ’n ommekeer vir die eiland se kwynende toerismebedryf beteken.

Maar selfs belangriker, dit kan ook ’n ommekeer vir die oseane se bedreigde haaipopulasies teweegbring.

“Tussen 2011 en 2016 het 491 haai-aanvalle (wat geregistreer is) wêreldwyd voorgekom, waarvan 43 fataal was. Intussen is duisende seediere dood deurdat hulle in visnette verstrengel geraak het, of deur dromlyne gevang is, sê Andreotti.

Sewe maande nadat die SharkSafe Barrier by St Paul, Réunion-eiland, geïnstalleer is, bied dit reeds ‘n kunsmatige habitat vir groot tropiese visse. Foto: Sara Andreotti

Skarefinansiering vir één verdere toets

Die span werk tans aan die verbetering van die stewigheid van die Shark Safe Barrier se tegnologie deur die ankerstelsel  aan te pas ten einde die pype stewiger te kan anker in meer sanderige seebodems. Hierna moet dit nog één keer aan werklike seetoestande blootgestel word ­– ’n finale toets.

Om hierdie oefenlopie ’n werklikheid te maak, beoog die span om $24 000 deur middel van die skarefinansieringsplatform Thundafund in te samel.

Indien hierdie laaste toets suksesvol is, is die Shark Safe Barrier een stappie nader daaraan om by strande  wêreldwyd geïmplementeer te word – tot voordeel van die mens, sowel as die oseaan se mariene diere, sê Andreotti.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die mooi tropiese vis op die foto is Scorpion familie by name Lion Fish. ‘n Paar honderd meter voor my woonstel is ‘n rif waar massas van hulle woon en broei. Giftig maar nie aggressief nie.

Rudolph van Wyk ·

Dit is hoog tyd dat haainette (en alle ander nette) verban word uit die see. Hierdie is ten minste ‘n eerste stap om ‘n alternatief te kry vir haainette wat soveel onbedoelde lyding en sterftes van seediere veroorsaak. Dankie vir die mense wat soveel werk in sit om dit te laat werk ter wille van die diere.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.