SA Heldesaal: ’n Interaktiewe ervaring soos min

Hugh Bladen en Frik du Preez is van die legendes wat reeds in die SA Heldesaal opgeneem is. Foto: Verskaf.

Joost van der Westhuizen, Frik du Preez, Shaun Thompson en Gary Player is net ’n paar van die sportlegendes wat in die Suid-Afrikaanse Heldesaal (Hall of Fame) opgeneem is.

Voeg daarby aartsbiskop Desmond Tutu, Gé Korsten en Laurika Rauch en jy kan maar weet dat Suid-Afrikaanse legendes hier vereer word.

Terselfdertyd word dit hoegenaamd nie om dowe neute gedoen nie.

“Die SA Heldesaal vier die buitengewone prestasies van plaaslike helde met die doel om die jeug te inspireer en te bemagtig; om hulle selfvertroue en hoop te gee om hul drome te verwesenlik,” kry ’n mens ná ’n vinnige internetsoektog.

Deesdae spog die blink inisiatief met ’n splinternuwe hoofkwartier by die FNB-stadion in Johannesburg.  ’n Permanente uitstalling sorg dat besoekers op ’n interaktiewe wyse deel van die aksie sal word: Hetsy deur middel van verskillende sportsimulators, virtuele realiteitservarings en ander pretaktiwiteite.

In ’n onderhoud met Maroela Media het die Heldesaal se Johnny Burger gesê dat dit ’n rukkie geneem het voordat die droom ’n werklikheid geword het: Tien jaar om presies te wees.

Foto: Verskaf.

“Wanneer jy ’n verskil in ander se lewens wil maak, moet jy eerstens geloofwaardigheid opbou. Integriteit is belangrik want baie mense sal só ’n geleentheid vir hul eie gewin misbruik, maar ons bewese rekord en die verskil wat ons reeds gemaak het, spreek boekdele,” het Burger gesê.

Hy het die punt beklemtoon dat almal welkom is om die uitstalling te besoek.

“Dit is nie ’n museum nie, maar ’n interaktiewe ervaring waar besoekers onder meer kan abseil en ander wonderlike ondervindings kan geniet. Dit gee almal die geleentheid om op ’n unieke manier hul helde te leer ken.”

Volgens Burger word die amptelike opening binne die volgende paar weke gefinaliseer en dan sal die Suid-Afrikaanse sokkerlegende Kaizer Motaung ingehuldig word.

Foto: Verskaf.

Daar is sekerlik al ’n hele paar sterre in die heldesaal opgeneem, maar op wie is hy self die trotsste?

“Daar is baie spesiale mense, maar vir my staan Gary Player en Desmond Tutu uit net omdat hulle soveel vir ons land beteken het.”

Van spanbou-aktiwiteite tot ’n konferensiefasiliteit wat selfs die verveligste vergadering kan ophelder – die Suid-Afrikaanse Heldesaal-ervaring by die FNB-stadion sal ongetwyfeld die besoek werd wees.

  • Van die legendes wat reeds in die heldesaal opgeneem is:

Rugby: Joost van der Westhuizen, Springbokspan wat die Webb Ellis-trofee in 1995 gewen het, dr. Danie Craven, Danie Gerber en Frik du Preez.

Motorsport: Ian Scheckter, Sarel van der Merwe, Wayne Taylor en Rory Byrne.

Gholf: Gary Player, Sally Little en Dale Hayes.

Kunste: Laurika Rauch, Bles Bridges, Ladysmith Black Mambazo en Gé Korsten.

Spesiale erkenning vir hul bydrae tot sport: Hugh Bladen, Nelson Mandela, dr. Irvin Khoza, dr. Danny Jordaan, dr. Molefi Oliphant, Jomo Sono, Reg Park en aartsbiskop Desmond Tutu.

Branderplankry: Shaun Thompson.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Misky ·

Nelson Mandela vir sy bydrae tot sport…….. As mens mooi daaraan dink, het hy regtig groot sports in ons land veroorsaak. En nie die goeie soort nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.