SA het eerste suiwer ANC-kabinet

ANC-se-vlag-deur-ANA

ANC Foto: ANA.

So in die harwar van die Ramaphosa-bewindsaanvaarding het ‘n geskiedkundige oomblik die meeste Suid-Afrikaners verbygegaan: Suid-Afrika het sy eerste volkome ANC-kabinet, waarin niemand van ‘n opposisieparty dien nie, gekry.

Voor 1994 was die ANC nooit in regering nie, maar ná 1994 het die ANC altyd gesorg dat die opposisiepartye óf as ministers óf as adjunkministers in die regering verteenwoordig was.

Van 1994 tot 1996 het die Nasionale Party ‘n adjunkpresident en ses ministers, en die Inkatha Vryheidsparty drie ministers tot die regering bygedra, soos dit hul reg was kragtens die Oorgangsgrondwet. Daardie waarborg het met die aanvaarding van die finale Grondwet verval, hoewel dit as oorgangsmaatreël tot 1999 sou geld.

Die Nasionale Party het nietemin in 1996 hul ministers en adjunkpresident onttrek, hoewel die IVP hul ministers tot 1999 laat dien het.

In 1999 het pres. Thabo Mbeki die IVP-ministers behou. Hoewel geen formele ooreenkoms in die proses bereik is nie en albei partye dit ten sterkste ontken, meen baie politieke waarnemers Mbeki se besluit was dalk verwant daaraan dat geen party daardie jaar ‘n volstrekte meerderheid in die KwaZulu-Natalse provinsiale verkiesing behaal het nie, en die IVP as grootste KwaZulu-Natalse party ‘n koalisievennoot in die provinsie gesoek het.

Dis dalk nie die grootste politieke verrassing ooit nie dat die IVP toe vir die ANC as provinsiale koalisievennoot verkies het, terwyl IVP-leiers in die nasionale kabinet bly dien het tot in 2004 nie.

In 2004 het Mbeki die IVP-ministers uit die kabinet gelaat, maar twee ander opposisiepartye by die hek ingelaat. Mosibudi Mangena van Azapo het minister van wetenskap en tegnologie geword (en bedank toe Mbeki in 2008 bedank het), en die UDM van Bantu Holomisa het verseker dat die ANC ‘n werkbare meerderheid in KwaZulu-Natal kry deur saam met die ANC te stem in die wetgewer.

Terselfdertyd (die kousale verband word nogmaals heftig deur alle betrokke politieke partye ontken, so mens kan nie skryf “dus” nie), het die UDM se onderleier, Ntopile Kganyago, ‘n adjunkminister in die Mbeki-regering geword (en dit trouens onder presidente Kgalema Motlanthe en Jacob Zuma gebly tot en met sy dood in 2012).

In 2009 het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Mulder, ‘n adjunkminister in die Zuma-regering geword en dit gebly tot 2014. In 2014 het Zuma vir Mulder uitgelaat maar die NFP se leier, Zanele ka Magwaza-Msibi- as adjunkminister ingelaat in ‘n stap wat klaarblyklik nie onverwant was aan die NFP se besluit om op munisipale vlak met die ANC saam te werk in KwaZulu-Natal nie.

Ramaphosa het egter tydens sy kabinetskommeling in Februarie vanjaar geen opposisielid in die kabinet opgeneem nie, wat Suid-Afrika vir die eerste keer met ‘n suiwer ANC-kabinet laat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Dink nou net wat sou gebeur as Cyril ‘n VF Plus lid van die parlement as adjunkminister van grondhervorming sou aanstel.

Lolla ·

Niks om oor te spog as jy jou eie ANC geskorste probleem kindtjie soos EFF Malemma nie kan beheer of in die bek ruk nie! Op die stadium laat hy dit lyk of HY regeer en vir die “volle ANC kabinet” ore aan sit, deurdat dit nou meer as ooit duidelik is dat ANC (vol of nie) geheel en al ongeskik is vir hul regerende werk.

cb ·

Eish eina, Cyriie, is jou nou heeeeltemal laf , ek se maar net onse mense hetttt gehoop maar lyk soooos mishoop, ek se maa nett

ChrisE ·

Ek is seker naief maar ek kan nie verstaan hoekom almal so opgeklits raak nie. Ek kyk na die algemene ekonomiese en maatskaplike situasie in die land. Is ons wittes slegter af as voor 1994. Hoeveel buitelandse maatskappye het belange in die land. Wat sê dit. Iemand het vertroue in die ekonomie. Aan wie behoort die groot finansieeële instellings. Sover my kennis strek s die groen Nederlandse bank sonder enige buitelandse aandeelhouding. Waar gaan die grondstowwe heen. Waar oral is die groot ontbondelde maatskappye genoteer. Dit is hoekom die mense onrustig is. Die land sal nie of nooit aan die gepeupel behoort nie, want Afrika word nou ekonomies gekolinialiseer. So kry vir julle EFF en ANC alhoewel laasgenoemde reeds in iemand se sakke is. Geld wat stom is maak reguit wat krom is.

Oom Kalahari ·

Laat jou aan die dink waarom net ANC en geen ander party verteenwoordiging in sy kabinet nie. Dit kan sekerlik nie wees dat almal nie aan vereistes voldoen nie en dit is ook diskriminerend met geen blanke verteenwoordiging nie. CR het sy eie agenda en strategiee met interne besluite en operasies wat nie met ander verteenwoordiging kan uitlek nie. JM gaan nog ‘n groot rol speel in sy kabinet en tyd sal leer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.