SA het klaar gestem: Só word stemme getel

Die stembriewe word nou getel. (Foto: Twitter via @IECSouthAfrica)

Die eerste voorlopige uitslae van die sesde nasionale demokratiese verkiesing sal na verwagting net voor middernag bekend wees.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het gesê die tellery van stemme het amptelik begin nou dat die grootste aantal stemstasies gesluit het.

Volgens die kommissie het die stemproses vandag oor die algemeen goed verloop hoewel daar op sommige plekke uitdagings ervaar is. Dié uitdagings sluit in verkiesingsbedrywighede wat op enkele plekke deur onder meer ongure weer, onluste, kragonderbrekings en logistieke uitdagings ontwrig is.

“Swaar donderstorms in die Vrystaat is vroeg vanaand aangemeld en 16 tydelike kiesstasies in Mangaung is deur sterk winde beskadig,” lui die OVK se jongste verklaring.

“In Nelson Mandelabaai en Cradock in die Oos-Kaap het swaar reën en sterk winde ook die bedrywighede van meer as 30 tydelike stemstasies geraak. In verskeie gebiede is die stemproses ná sonsondergang deur kragonderbrekings geraak, insluitend in Umlazi in KwaZulu-Natal, Vuwani en Giyani in Limpopo en gedeeltes van Johannesburg.”

Volgens die OVK is dit nie onmiddellik duidelik wat die oorsaak van dié kragonderbrekings was nie, maar is dit vermoedelik onder meer deur kabeldiefstal en swaar weer veroorsaak.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se nasionale uitslagsentrum in Pretoria op stemdag. (Foto: Tania Heyns)

Die tel van stemme sal nou in die stemlokale ten aanskoue van party-agente en waarnemers plaasvind. Die OVK het verduidelik die eerste stap in die proses is om na te gaan of die stembokse behoorlik geseël is waarna die bokse oopgemaak sal word.

“Die stemme in die boks word dan vergelyk met dié stembriewe wat uitgereik is, enige ongebruikte stembriewe en alle stembriewe wat gekanselleer is. Stembokse wat spesiale stemme bevat word ook oopgemaak en die inhoud word vergelyk met die lys van goedgekeurde spesiale kiesers voordat dit by die telling gevoeg word.

“Sodra dié vergelykings gedoen is, word die stembriewe in hopies verdeel volgens die party waarvoor gestem is. Om die tellery te vergemaklik, word die stembriewe in bondels van tien en dan honderd verdeel.”

Indien ʼn kieser se keuse van party nie onmiddellik duidelik is nie, word dié stembrief eenkant geplaas om verder bestudeer te word. Indien die keuses op dié stembriewe wel bepaal kan word, word dit by die korrekte party se stemme gevoeg. Waar ʼn kieser se keuse nie met redelike sekerheid bepaal kan word nie, of waar ʼn stembrief ooglopend bederf is, word hierdie stembriewe saamgesit in ʼn groep van bedorwe stembriewe. Die voorsittende beampte by die stasie maak dan ʼn finale beslissing oor elkeen van hierdie stembriewe.

“Die stembriewe vir elke party word getel en wéér getel om akkuraatheid te verseker en die uitslae word dan vasgelê op twee identiese uitslaestrokies waarop die besonderhede van die kiesstasie, die getal stembriewe, die getal stemme vir elke party en die getal bederfde stembriewe aangebring word.”

Dié uitslaestrokies word dan deur die party-agente teenwoordig onderteken. Die party-agente kan ook dié uitslae self neerskryf of ʼn foto van die uitslaestrokies neem.

(Argieffoto)

Een van dié strokies word dan op die deur van die kiesstasie geplak, terwyl die voorsittende beampte die ander strokie na die plaaslike OVK-kantoor neem. Hier word die strokie skandeer en die data word in die uitslaestelsel ingevoer deur middel van ʼn dubbel-invoerstelsel om die kans vir foute te minimaliseer.

Sodra die uitslae deur onafhanklike ouditeurs geoudit is, word die uitslae aangekondig en sal dit op die uitslagstelsel sigbaar wees vir alle waarnemers, politieke partye en verslaggewers om te sien. Partye kan dan die uitslae verifieer teenoor die uitslaestrokies om die akkuraatheid daarvan te verseker.

“Hoe lank hierdie proses sal neem hang af van ʼn reeks faktore insluitend die getal stemme wat by elke kiesstasie uitgebring is, die getal politieke partye op die stembriewe, en die getal stembriewe wat onduidelik gemerk is. Die toestande van die kiesstasie – of dit ʼn tent of permanente struktuur is, asook die kwaliteit van die beligting – het ook ʼn invloed op die duur van die proses,” sê die OVK.

Sodra die finale uitslae op die stelsel ingevoer is, word al die stemmateriaal in die kiesstasies opgepak en na persele vervoer waar dit aangeteken en veilig geberg word. Volgens wet moet alle stembriewe vir minstens ses maande gestoor word in geval daar besware aangeteken word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SjN ·

Met hedendaagse tegnologie kon uitslae al uitgewees het met sluiting

B ·

Inderdaad, selfs net om OKH (OCR) te gebruik sou dit 10 000x vinniger en meer akkuraat kon wees.

Logika ·

Sssshhh! Moenie dat iemand hoor nie! Daar kan dan mos nie met die uitslae gepeuter word op die blockchain nie!

Netnou ontstel jy iemand in die ANC!

Martin ·

Stem saam, ekektroniese eeu, stem net n druk van n knoppie of n “keyboard” en uitslae direk op TV uitgesaai soos stemme uit gebring word.

Martin ·

Wonder net hoe regverdig gaan dit wees, vorige verkiesings was jou ID ge- scan om seker te maak jy is ge registreer om te stem, m. a. w. gelink met binnelandse sake, hierdie jaar niks, kyk net na jou ID om te bepaal watter kant jy moet ingaan om te stem????????. Hoekom word daar nie van ekektroniese stelsel gebruik gemaak word nie.

LBS ·

Ek weet nie waar jy gestem het nie, maar ons ID’s was gescan. MAAR, ek het in die middag gegaan en my man vroeg die oggend. Toe my naam doodgetrek word, sien ek mos maar my man se naam is nie doodgetrek nie en ek sê haar toe hy was dan reeds daar. Reaksie: “Dis snaaaaaaks”. Ek het natuurlik by die huis gaan kyk of hy sy strepie het, en hy het toe ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.