SA-hoërskoolkoor land kort ná bomaanval op lughawe

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Die Hoërskool Menlopark se koor het Woensdagaand op Istanboel se Ataturk-lughawe in Turkye geland, kort nadat selfmoordbomaanvallers minstens 36 mense gedood en meer as 140 beseer het.

Nico Erasmus, een van die skool se adjunkhoofde, het aan Maroela Media gesê die sowat 100 leerders wat in die koor sing het Dinsdag omstreeks 18:15 van OR Tambo-lughawe saam met ses personeellede na Istanboel vertrek. Die koor is op pad Sochi in Rusland waar hulle aan die Wêreld-koorspele gaan deelneem.

“Hulle was nog in die lug toe die bomme op die lughawe ontplof het. Toe hulle op die lughawe geland het, is hul na ʼn wagvertrek van die Turkse lugredery geneem om veiligheidsredes.” Volgens Erasmus weet die leerlinge nie presies wat gebeur het nie, maar weet hulle wel daar was ʼn bomontploffing.

Erasmus het gesê die koor het weens die vertragings op die lughawe ná die ontploffings hul aansluitingsvlug na St. Petersburg in Rusland verpas. “Hulle het egter ʼn later vlug gekry en is nou op pad.” Volgens Erasmus was die Suid-Afrikaanse ambassade in Turkye met die koor en personeel in verbinding om bystand te verleen.

Erasmus het gesê die skool het Woensdagoggend ʼn SMS-boodskap aan al die skool se ouers gestuur om hulle op hoogte te hou van die situasie. “Daar is sowat 100 leerlinge van gr. 8 tot 12, seuns en meisies, wat saam is op die toer.”

Binali Yildirim, Turkye se eerste minister, het vroeër gesê volgens alle aanduidings was die Islamitiese Staat (IS) verantwoordelik vir die aanval. Die drie selfmoordbomaanvallers het met ʼn taxi by die lughawe aangekom en op mense begin losbrand voordat hul hulself opgeblaas het.

Volgens ʼn beampte van die Turkse regering het die aanvallers die ploftoestel by die ingang van die internasionale terminaal laat ontplof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Felicity ·

Dankie liewe Heer dat ons kinders en personeellede veilig is. Ons is nie eens meer veilig in ons eie land nie en nou voel ‘n mens nie eens meer veilig om na ander lande te reis nie. Dit word net erger elke dag. Ons moet net aanhou bid en vashou aan ons geloof.

Paul ·

Ek sien julle gebruik die woorde “leerders” en “leerlinge” verwisselend in die artikel. Goeie Afrikaans is “leerlinge”. Die woord “leerders” is ‘n swak, anglisistiese verdringer wat spruit uit die onlangse gebruik van “learner” in Engels eeder as “pupil”. Daar is geen rede om “learner” na “leerder” te vertaal eerder as na “leerling” nie.

Mags ·

Paul, Lees liewer die inhoud van die artikel en wees dankbaar saam almal eerder as om spel-adjudant te wil wees. Ai!

Paul ·

Die frase in Afrikaans is “saam met almal” en nie “saam almal” nie. Die gebruik van “saam almal” is ook eenvoudig ‘n anglisistiese verdringer.

Dis moontlik om gelyktydig verskillende aspekte van ‘n artikel, soos die inhoud en ook die grammatika, in oënskou te neem.

Gwen ·

Kyk net weer na die laaste sin van die tweede paragraaf. Dit moet seker lees “… is op pad na Sotsji …” Die woord “na” makeer en ek dink ampet ons het ’n Afrikaanse skryfwyse vir Sotsji.

Jakes ·

Dit lyk of julle ‘taalkumdiges’ net sit en wag om taalkundige kritiek te lewer. Asseblief lees weer die berig baie aandagtig deur. Hopelik kom julle dan agter dat 100 kinders en 6 personeellede van Menlopark hoërskool ń bomontploffing met minute gemis het. En as julle nie geweet het nie, Menlopark hoërskool is in Pretoria. Dink beslis julle fokus in die geval op die verkeerde plek.

Paul ·

Hulle het die bomontploffing naastenby soveel gemis soos jy dit gemis het, Jakes. Besef jy hoe groot is die lugahwe? Besef jy dat die aanval by die straat-ingang van die aankomsterminaal was en nie buite waar die vliegtuie parkeer, of in die oorstapterminale nie? As jy op daardie lughawe land vanaf Suid-Afrika, parkeer die vliegtuig doerrrrr vêr van enige geboue en jy word met ‘n bussie na die oorstapterminaal geneem, waar jy dan op die volgende vliegtuig klim. Jy kom nie naby die aankomsterminaal nie.

Jakes ·

Paul… jy sit nog steeds die pot mis.
Lees asb die berig aandagtig deur.
Die berig is nie geplaas vir ons om die taal korrektheid te kritiseer nie, maar om ons in te lig oor die gebeure.

Paul ·

Verduidelik hoe.
Dis ‘n feit dat die leerlinge deurgaans baie vêr weg van enige van die geweld was, en ook dat hulle nie naby die geweld sou gewees het selfs al was hulle reeds in die (reusagtige) lughawegebou nie. Hulle sou in geen verhoogde fisiese gevaar gewees het nie.

Geskrewe kommunikasie se doel is om in te lig – korrek. Geskrewe taal het ook spesifieke norme wat gewoonlik gehandhaaf word en help om duidelike kommunikasie te verseker. Dis moontlik om die berig te lees en die inligting daarin te waardeer, en terselfdertyd oor taalkwessies daarbinne besorg te wees. Mens kan twee dinge gelyk doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.