SA hoor vanaand oor moontlike rommelstatus

Dawie Roodt. Foto: Facebook

Dawie Roodt. Foto: Facebook

Suid-Afrika sal na verwagting net ná 18:00 vanaand hoor of Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) die land se kredietgradering tot onder beleggingsgraad, oftewel tot rommelstatus, sal afgradeer.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het aan Maroela Media gesê hy verwag soos baie ander ekonome dat die graderingsagentskap Suid-Afrika se kredietgradering waarskynlik onveranderd sal laat. “As ons met mekaar eerlik is, verdien Suid-Afrika om afgegradeer te word na rommelstatus. Dit is natuurlik nie wat ons wil hê nie, maar dit is wat ons verdien,” het hy gesê.

“Ek het egter ʼn vermoede dat S&P ons ʼn paar maande gaan gee om te kyk of ons nie ons sokkies sal optrek nie voordat hulle ons afgradeer. Maar as ons nie dadelik iets doen nie, is ʼn afgradering na rommelstatus voor die einde van die jaar onvermydelik.”

Moody’s Investors Service het verlede maand besluit dat hy Suid-Afrika se kredietgradering op Baa2 gaan hou, twee vlakke bó rommelstatus, hoewel die uitkyk van stabiel na negatief verander is. Roodt meen dat dit teoreties nie ʼn aanduiding moet wees van wat S&P se gradering sal wees nie, maar dat dit tog in praktyk ʼn invloed kan hê.

“In die praktyk kyk die agentskappe natuurlik maar wat die ander ouens doen, maar teoreties is dit nie een van die bepalende faktore wanneer hulle oor ʼn land se kredietgradering besluit nie,” het hy gesê. “Daar word natuurlik na al die harde goed soos ekonomiese beleidstellings en staatskuld gekyk, maar ook na sagte faktore soos politieke onsekerheid, arbeidsonrus, en so meer. Ek dink die gradering van ander agentskappe is een van daardie sagte faktore wat hulle besluit kan beïnvloed.”

Volgens Roodt kan S&P besluit om Suid-Afrika nog ʼn paar maande kans te gee voordat daar na rommelstatus afgegradeer word, weens die krag van die land se instellings. “Ek dink die graderingsagentskappe het vroeër vanjaar gesien dat ons instellings nie so swak is soos daar aanvanklik gedink is nie,” het hy gesê.

Hy verduidelik dat daar “aanvalle teen Suid-Afrika se instellings is” deur die president en die parlement wat hofbevele minag (soos in die geval van die Soedannese president, Omar al-Basjir), die openbare beskermer ondermyn (Nkandla-verslag), en pres. Jacob Zuma wat sy presidensiële eed oortree het (Nkandla). “Die konstitusionele hof se besluit om Zuma en die parlement oor hul vingers te tik, wys dat ons instellings nie so swak is soos wat almal gedink het nie en dit is ʼn positiewe aspek waarna graderingsagentskappe sal kyk,” het hy gesê.

ʼn Afgradering na rommelstatus is natuurlik slegte nuus vir Suid-Afrika se ekonomie, maar kan dalk net wees wat die land nodig het om die nodige veranderinge te maak, meen Roodt. “Die finansiële markte hou nie van onsekerheid nie en om Suid-Afrika se gradering vir eers onveranderd te laat, beteken daar hang steeds ʼn swaard oor ons kop oor die onsekerheid dat ons binnekort afgegradeer kan word. As ons nou afgradeer na rommelstatus, dan weet ons en beleggers ten minste waar ons staan en kan ons nou dringend begin om ons sokkies op te trek. In daardie opsig sal rommelstatus dalk nie ʼn slegte ding wees nie.”

Wat rommelstatus beteken:

kredietgradering

Grafika verskaf deur AfriSake

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Crinkles ·

Nee, ons as die publiek verdien dit nie…..maar dit is ongelukkig buite ons beheer!

m ·

Ons kan maar net die regering blameer vir al die agteruitgang…….. Hierdie land is in die moeilikheid en hoe gouer hierdie spul dit besef en dit begin regkry hoe beter vir ons almal……

johann cb ·

Dawie, dit is hoe jy persoonlik en as sakeman voel. Jy, tesame met al die ander welgestelde sakelui, kan die afgradering bekostig wanneer dit ons tref. Die gewone persoon wat nie beleggings dwarsoor die wêreld het nie, kan nie kompeteer nie. Ons en die armstes van die armes, word negatief beïnvloed net deur jou artikel te lees. Wees meer positief en doen iets daadwerkliks aan die situasie – jy is immers ‘n baie invloedryke en gesiene persoon.

Loeis ·

johann cb, het vir vir twee sekondes gedink voor jy bg geskryf het?

Dawie Roodt gee ‘n opinie met die beskikbare inligting, dit is nie asof hierdie besluite syne is om te maak nie.

EKKE ·

Kan maar net sowel nou al rommelstatus gee.!!! Wat is kans dat sokkies opgetrek gaan word????

KarooKlong ·

Viva rommelstatus Viva.
Laat hy kom.
Dit is die enigste manier hoe hulle gaan regkom.

alida ·

Ons is lankal rommel verby rioolstatus is beter. Danksy ons liewe JZ !!!!

arm landsburger ·

Daar word AFGEBREEK nie GEBOU jonges sonder werk moet opgeroep en verpligte diens in weermag doen terwyl hul opleiding kry. DiÉ wat nie tonne BELEGGINGS het (soos meeste) ..beteken rommelstatus nie veel behalwe SKAAMTE en pyn.Die geld spesialiste moet geveg geniet.

vierkleur ·

En so het die anc ons eens wonderlikke ZAR, af gebreek totop die grond.
Nou gaan die massas begin honger ly, en dan gaan die moeilikheid begin

Die duh ·

Wat wil hulle gradeer ? die meest eis ge suspend of op strike LOL

Thanks ·

Dan lag Zumpies weer sy uit sy maag en se dit is n plan van die media hom by te kom.

Jef ·

Oor n paar jaar sien ons die ryk regering op die tv en staan hulle almal en gryns, dan gaan dit honger grynse wees.

Vaderlandloos ·

Die soustrein het lekker gery , maar die wiele begin nou afval. Duisende nuwe motors en luukshede is met gesteelde geld gekoop deur mense in hoë poste sonder die nodige kennis en vermoë. So wat verwag hulle , nog “hand outs” vir die arme verdruktes , glo nie. Rommel status hier kom ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.