SA in ‘moeilike posisie’ oor Rusland – kenner

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Foto: Alexander Zemlianichenko / POOL / AFP)

Suid Afrika gaan beslis nié die vredemaker tussen Oekraïne en Rusland wees nie.

Maroela Media het vroeër berig pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand die president van Rusland, Wladimir Poetin, gebel om oor die konflik tussen dié land en Oekraïne te praat. Dié gesprek was glo sodat Ramaphosa ʼn beter begrip van die situasie tussen Rusland en Oekraïne kon kry.

Ramaphosa het vroeër ook gesê dat Suid-Afrika aan die kant van vrede staan en dat Suid-Afrika genader is om ʼn bemiddelingsrol in die situasie te speel.

“Suid-Afrika geniet nie die statuur om die rol van vredemaker te vertolk nie,” sê prof. André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit.

En prof. Dirk Kotzé, ʼn politieke ontleder verbonde aan Unisa, beaam dit.

“Suid-Afrika het ’n uiters beperkte rol in die bemiddelingsproses te speel. Hierdie situasie raak baie groot rolspelers waaronder die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo).

“Suid-Afrika is nie in dieselfde liga nie.”

Die vraag ontstaan dan waarom Ramaphosa sy Russiese eweknie gekontak het.

“Ek dink hy het gebel om te please en explain,” sê Duvenhage aan Maroela Media.

“Suid-Afrika is in baie moeilike posisie aangesien ons baie ideologiese bande met Rusland het. Rusland is een van ons strategiese politieke vennote en het al baie in Suid-Afrika belê. Die Russe het in daardie sin ’n houvas op ons. Dít terwyl ons ook gevestigde belange in die Weste het.

“Hierdie is wat ʼn mens noem ’n Catch 22-situasie.”

Suid-Afrika se pres. Cyril Ramaphosa en Russiese pres. Wladimir Poetin tydens ‘n beraad in 2019. (Argieffoto: Sergei Chirkov/AFP)

Duvenhage meen Suid-Afrika se pleidooi vir onderhandeling is bloot ’n poging om die morele status te beskerm “omdat Ramaphosa nie die guts het om kant te kies nie”.

“Ek dink persoonlik Suid-Afrika neig na die Weste.”

Kotzé meen weer daar is niks vreemd aan die oproep tussen die leiers van dié twee Brics-lande nie.

“Presidente bel mekaar. Dit is deel van internasionale diplomasie.”

Hy sê Ramaphosa se pleidooi vir onderhandelinge is nie ’n nuwe konsep nie en hy wys daarop dat daar reeds ’n mate van dialoog tussen die twee lande plaasvind.

Die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, het net Donderdag met sy Oekraïense eweknie, Dmytro Kuleba, in Turkye vergader terwyl die twee strydende lande tot dusver ook op ʼn laer vlak in Belarus vergader het.

Kotzé glo wel glad nie dat Ramaphosa se oproep na Rusland beteken dat die Suid-Afrikaanse regering hom by die Russe skaar nie.

“Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) en die regering het uitdruklik gesê dat Rusland geen reg het om geweld te gebruik en Oekraïne binne te val nie en menseregte behoort te respekteer.

“Ramaphosa het wel nié gesê dat Rusland sy troepe moet onttrek nie. Dít is die enigste aspek waar ons van ander lande se uitsprake verskil.”

Suid-Afrika was een van die 35 lidlande van die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) wat verlede week buite stemming gebly het oor die resolusie waarin Rusland veroordeel is vir sy inval in Oekraïne en daar geëis is dat hy sy magte onttrek.

Kotzé sê Suid-Afrika het ook destyds buite stemming gebly omtrent Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014.

“Dit is nie ’n nuwe posisie nie,” herinner hy.

Op die vraag of Ramaphosa, wat volhou dat Suid-Afrika nie kant gaan kies nie, ’n oproep na Wolodimir Zelenski, die Oekraïense president, ook behoort te maak, antwoord Duvenhage en Kotzé “ja”.

“Indien jy werklik belangstel in bemiddeling, moet jy met albei partye praat,” sê Duvenhage. Hy sê die kans is egter skraal dat Ramaphosa na Zelenski sal uitreik.

“Ek weet ook nie of Zelenski in só ’n oproep sal belangstel nie,” sê Kotzé op sy beurt. “Ons is so ’n klein en relatief onbelangrike land in hierdie hele situasie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Pieter9 ·

So die kriminele sindikaat leier wil nou vrede maker speel; sy eie party kan nie ‘n vergadering reel sonder konflik, tweedrag en hofsake nie – verstommend!

Pietertjie ·

Ramaphosa ‘n bemiddelaar? Mens moet ‘n goeie draadsitter wees in hierdie geval.

Chris dupreez ·

Die anc steun rusland want hulle het op dieselfde manier gewerk, deur onskuldige vrou en kinders dood te maak.

Anel ·

Nou hoe weet ons wat die 2 vir mekaar gesê het? Is daar ‘n opname gemaak of het hulle agter geslote deure gesels? En hoe weet ons of hulle regtig mekaar gebel het?

Di ·

Rampie en Poetin is bloed broers en deel dieselfde morele waardes. Albei KOMMUNISTE wat teer op ander en nie ‘n oog knip om onskuldige lewens te neem om hulle eie doel te bereik nie. GROOT SKELMS

SlinkseKoljander ·

ANC is 110% agter Rusland, hulle sal dit net erger maak soos alles anders wat hulle aan raak.

Johan ·

Ek hoor nie dat iemand kla oor aanvalle deur Israel in Sirië nie…

gatgogga ·

Wat ‘n ontnugtering wag daar nie op Ramapauser nie wanneer hy agterkom Putin is nie de Klerk nie.

Marthinus W ·

Cyril was n vakbondman voor hy Uniegebou toe is. Hy is juis deur Anglo-American as direkteur aangestel oor sy vaardighede as onderhandelaar. n Goeie onderhandelaar is ook nie noodwendig die slimste persoon nie; dis die persoon wat enigiets sal onderhandel – nie almal is gebore onderhandelaars nie. Henry Kissinger het gese dat, as jy een uur kon uithou teen Andrei Gromiko, dan kan jy jouself n diplomaat noem. Cyril het FW se onderhandelaars ore aangesit, en dis waarom hy vandag president is.

twaalfboor ·

Nope….. die land is op ñ skinkbord aan hulle oorhandig. Niemand is ore aangesit nie, FW en sy kabinet se oë het net iewers donker gesit.

piet ·

Nie op ‘n skinkbord nie, dit was die wil van die meerderheid blankes wat geglo het in geregtigheid en gelykheid vir almal en nie net vir 10% van die bevolking nie. Gaan my verstand te bowe hoeveel Afrikaners NEE gestem het. Ongelooflik arrogant om te dink die hele land se koek behoort net aan hulle al was hulle net 10% van die bevolking. Eish

Marthinus W ·

Piet, ek het JAgestem, en nie spyt of skaam daaroor nie. Ek het destyds as staatsamptenaar die gevoel gekry dat Roelf Meyer nie ons eerste span was nie, ons moes werklik goeie onderhandelaars gebruik het.

annie ·

Fools rush in where angels fear te tread… Lui die spreekwoord. Die ANC se vrome hulp gaan meer om den brode of hul bankrekening. Dan sal die wêreld mos geld gooi… So hoop hulle. Dis net interessant dat almal (so te sê) Zelensky byna wil aanbid vir sy edelheid. Hoekom word hy skielik die held? Waaroor gaan die inval eintlik? Is Biden is nou wonderlik en CNN die nuusdaer van alle waarheid. Selfs die bio-labs in die Oekraïene ipv in die VSA laat mense nie hande saamslaan nie. 1984 was ‘n raak voorspelling…

Vrijburger ·

Jip, hierdie konflik het ‘n baie lang aanloop en geskiedenis en nie een van die kante is onskuldig nie.

N ·

Dis nie Suid Afrika wat bande het met Rusland nie, dit is die ANC wat hulle skuld.

Nici ·

Miskien is die Weste die bad guys? Hierdie probleem met Navo wat aanhou uitbrei het in Oos Europa na hul belofte aan Rusland om dit nie te doen nie, het waarskynlik hiertoe gelei. Jammer maar as ek moet kies stem ek teen die dekadensie en leuens van Navo.

Pietertjie ·

Hulle verstaan mekaar se taal. Putin groet met “Natref!” en Ramaphosa antwoord met “Rosatom!”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.