SA in ‘veilige hande’ met nuwe polisiehoof

Pres. Cyril Ramaphosa het genl. Fannie Masemola (regs) op aanbeveling van ‘n paneel kundiges as nuwe polisiekommissaris aangestel. Die minister van polisie, Bheki Cele (links) was deel van die paneel. (Foto: GCIS)

Die aanstelling van genl. Fannie Masemola as die land se top-polisieman is ʼn goeie een en “ek dink ons is in veilige hande”, sê dr. Johan Burger, ʼn polisiekenner en self ʼn voormalige senior polisieoffisier.

“As jy gesels met mense wat nou met hom saamgewerk het, praat almal met groot bewondering van sy vermoë om leiding te gee en moeilike besluite te neem – en om mense verantwoordelik te hou wanneer hy opdragte gegee het.”

Burger sê Masemola is nie ʼn man wat die kollig uitsoek nie, maar doen sy werk nougeset op sy eie gereserveerde manier. Oor vrese dat die flambojante minister van polisie, Bheki Cele, die nuwe polisiehoof moontlik gaan oordonder, sê Burger hy twyfel of dit die geval gaan wees.

“Masemola het ʼn absolute voorkeur vir operasionele polisiewerk en waar dit saak maak, is hy ʼn sterk persoon met ʼn sterk persoonlikheid wat nie huiwer om leiding te neem nie.”

Masemola het verskeie ander kandidate, onder wie lt.genl. Lucky Mkhwanazi, polisiehoof in KwaZulu-Natal, in die stryd om die top-pos geklop.

Pres. Cyril Ramaphosa het ʼn paneel aangewys wat ʼn aanbeveling oor die aanstelling van die polisiekommissaris gedoen het, ʼn stap wat Burger meen groter legitimiteit aan Masemola verleen. Omdat Ramaphosa, anders as vantevore, nie die sogenaamde alleen-besluitnemer oor die aanstelling was nie, maar ʼn paneel die polisiehoof vir die werk aanbeveel het, behoort dit ook by te dra tot beter verhoudings.

Cele, wat graag by operasionele polisiesake betrokke raak, was deel van dié paneel en is dus deeglik bewus van die motivering vir Masemola as polisiehoof. Sy voorganger, Khehla Sitole, is deur oudpres. Jacob Zuma in die pos aangestel, en daar was deurlopend agterdog dat die aanstelling gedoen is in ʼn poging om Sitole en die polisie te manipuleer.

Danksy die betrokkenheid van die paneel, is daar egter nie ʼn opvatting dat die nuwe polisiehoof die huidige president “ter wille moet wees nie”.

Dit blyk in hierdie stadium ook nie dat Masemola enige geraamtes in die kas het nie. Hy het dus ʼn “skoon gedragstaat”.

‘Enorme’ taak wag

Burger waarsku egter dat ʼn enorme taak op Suid-Afrika se mees senior polisiebeampte wag.

“Hy moet twee goed gelyktydig doen: hy moet die polisie as organisasie regruk, wat ʼn enorme uitdaging op sigself is, en hy moet die misdaadprobleem daar buite pak. Hy kan nie wag tot hy die polisie reggeruk het voor hy misdaad takel, of andersom nie.

“Hy gaan dit gelyktydig moet hanteer en dit gaan enorme uitdagings aan hom stel.”

Burger sê hy hoop Masemola reik uit na kundiges – en stel selfs ʼn raadgewende paneel saam – wat hom op hierdie pad kan help. “Daar is baie navorsers en ander kundiges wat wag om behulpsaam en betrokke te wees, as hy net die moed van sy oortuiging het om na hulle uit te reik,” sê Burger.

Dit sal ook wys wees om sterk adjunkte onder hom aan te stel. Dit behoort Mkhwanazi in te sluit, moontlik in dieselfde pos – hoof van polisiëring – wat Masemola self vantevore beklee het. “Dit sal Mkhwanazi ook die geleentheid gee om as adjunk- nasionale kommissaris die soort blootstelling op ʼn vlak te kry wat hom in ʼn uitstekende posisie sal plaas wanneer Masemola se termyn verstryk.

“Tussen die twee van hulle was hulle uitstekende kandidate vir die pos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Hettie ·

Ons sal maar sien of hy nie ook soos Beki net gaan waar die media hom kan sien nie! n vis vrot van sy kop af en dit kan duidelik in die poliesie mag gesien word , laat ons sien of hy dit kan verander !

Anel ·

Hy het nie baie tyd nie. Vroeër jare was die kommissaris ‘n oud speurder en veiligheids man. Hy het verskeie bestuurskursusse deurloop, moes eksamen skryf vir bevordering na luitenant en dan offisierskursusse. So hy was regtig opgewasse vir die taak. Sal maar moet sien met die ou. Elke keer as ‘n nuwe een aangewys is die afvelope 27 jaar word daar groot ophef gemaak. En daarby, wil jy vir my sê daar is geen bevoegde blanke wat die pos kan vul nie? Wonder maar net. Sal die ou maar kans gee, maar met hoed as minister weet ek nie so lekker nie.

Jack ·

Die laaste keer wat Suid-Afrika in veilige kande was, was toe Generaal Johan vd Merwe die Kommissaris was en geen ANC politikus met polisiewerk ingemeng het nie. Hierdie nuwe Kommissaris is nog net ‘n kader wat na sy politieke base se pype sal dans.

casper ·

Ja ne – geen kriminele hoef dus te vrees vir hulle lewens nie !!

Henk ·

Korrupsie op korrupsie oor en oor. Ek vertrou die man ook glad nie.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Ons is diep teleurgesteld dat weer ñ swart kader aangestel is! (Siende dat gekla word oor ñ blanke persoon as die hoof van ABSA aangestel is) Tyd dat ons met ons geld begin stem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.