SA ingenieur plavei sy pad Oxford toe met skarebefondsing

Sarel van Baalen. (Foto: Verskaf)

Om ʼn MBA-graad aan die University of Oxford in die Verenigde Koninkryk te behaal is nie vir almal beskore nie.

Vir Sarel van Baalen, ʼn boorling van die Wes-Kaap, is dit egter ʼn baie werklike moontlikheid – mits hy met behulp van skarebefondsing die meer as R1 miljoen kan insamel wat nodig is om dié droom te bewaarheid.

Met die kennis en vaardighede wat hy by Oxford gaan opdoen, beplan Sarel om na sy wortels terug te keer en die infrastruktuur‑uitdagings in Suid-Afrika aan te pak. 

Van Baalen vertel hy het nog altyd ʼn oog vir besigheid gehad. In sy laerskooldae op Kuilsrivier het hy elke oggend, voordat hy by Laerskool Mikro aangemeld het, die plaaslike koerant in sy buurt afgelewer.

Vir sy hoërskooljare is hy Hoër Jongenskool Paarl toe, waar hy wonderlike herinneringe as koshuiskind het. Daar het sy ondernemingsgees hom daartoe gedryf om ʼn snoepie by die koshuis te begin, waar hy met koeldranke, skyfies, sjokolades en worsbroodjies sy sakgeld verdien het.

“Ek moes gereeld uit die klaskamer glip en koshuis toe hardloop om aflewerings van Cash & Carry te ontvang. Dit was my eerste sakeonderneming, waar ek die basiese beginsels van besigheid geleer het,” vertel hy.

Daarna het hy sy graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch verwerf, asook ʼn meestersgraad in ingenieursbestuur. Maar dit het nie maklik gekom nie. “Na vele mislukte aansoeke het ek ’n volle beurs vir my voorgraadse studie gekry. Dit was ’n groot verligting vir my en my ouers, want anders sou ek moes aanhou studielenings uitneem om vir my studie te betaal.”

Sy ouers, Johan en Magdalena, was self koshuiskinders op Calvinia jare gelede. Hy vertel hulle ondersteun hom van sy snoepie-dae af en moedig ook sy Oxford-planne entoesiasties aan. Van Baalen se grafiese ontwerper-vrou, Serena-Marie, deel sy droom om die MBA te verwerf en sien uit na die avonture wat Engeland vir hulle kan inhou.

Infrastruktuur in sy visier

Van Baalen vertel dat hy van sy tienerjare af reeds bewus geword het van die beperkte toegang wat miljoene Suid-Afrikaners tot die mees basiese dienste soos water, riool, elektrisiteit, behuising en vervoer het.

“Ek dink ek kon vroeër bewus raak van die realiteite in Suid-Afrika omdat ek op my roete om koerante af te lewer aan die nuusopskrifte blootgestel is. Dit was ook deel van die rede hoekom ek siviele ingenieurswese studeer het – om nuwe infrastruktuur te help bou.”

Daarmee saam het sy nagraadse navorsing gefokus op hoe munisipaliteite beter bestuur kan word om beter basiese dienste aan mense op ’n plaaslike vlak te lewer. Met dié kennis en hope ywer het hy sy ingenieursloopbaan in 2014 in Johannesburg begin.

Hy het van meet af aan ’n wye reeks van infrastruktuurprojekte in die water-, energie-, vervoer- en eiendomsektore gewerk. “Dit is toe dat ek besef het dat ek ’n veel groter impak sal kan maak deur eerder nuwe infrastruktuurbesighede te bou as om aan te hou as ’n ingenieur werk.”

Die University of Oxford. (Foto: http://www.ox.ac.uk/)

Oxford roep

Toe Van Baalen as werknemer by Group Five aangesluit het, het hy waargeneem hoe ’n groot korporatiewe firma besigheid doen – hy was nuuskierig oor hoe nuwe kontrakte onderhandel, gewen en uitgevoer word, hoe die projekte bestuur word en hoe die leiers van die maatskappy finansiële en strategiese besluite neem.

“Terselfdertyd het ek vinnig agtergekom hoe waardevol dit is om ’n goeie besigheidsbegrip te hê, veral wanneer dit by die interaksie met internasionale firmas kom. Nou, na vyf jaar se ervaring in die bedryf, wil ek graag my eie besigheidsbegrip met ʼn MBA-graad verbreed.”

Omdat die Oxford MBA soveel persoonlike en finansiële opoffering verg, moes hy doodseker wees dat die kursus hom gaan help om sy langtermyndoelwitte vir sy loopbaan en lewe te bereik. Dié doelwitte sluit in om ʼn wesenlike verskil in sy geboorteland en die res van Afrika te maak.

Na deeglike navorsing oor MBA-programme in Suid-Afrika en die buiteland, was dit vir hom duidelik dat Oxford, en veral Oxford se Saïd Business School ’n spesiale verbintenis met Afrika het, aangesien dié instansie potensiaal uit Afrika wil lok en tot wêreldleiers ontwikkel.

“Oxford handhaaf die hoogste akademiese standaarde en is bekend vir die leiers, innoveerders en entrepreneurs wat hy oplewer. Die universiteit het ook ’n wêreldwye netwerk van oudstudente wat oral in die wêreld in hul veld presteer en ek glo hierdie netwerk sal my help om geleenthede in Afrika te ontsluit,” sê Van Baalen.

Geweeg en swaar genoeg gevind

Van Baalen het in Oktober verlede jaar sy aansoek by die University of Oxford ingedien, wat vier opstelle en ’n toelatingseksamen vereis het. In November het Oxford hom vir ʼn keuringsonderhoud genooi, waarvoor hy in Desember na die dorpie Oxford, 90 km buite Londen, toe is.

Hy en sy familie was op sy oom se plaas in Calvinia vir die somervakansie toe hy op 17 Desember die nuus van sy keuring gekry het. “Ek was in absolute ekstase gewees! Dit was een van daardie spesiale oomblikke waar maande se harde werk vrugte afgewerp het,” vertel hy.

“Ek was bly, verlig, opgewonde, trots en dankbaar terselfdertyd. Dit was ook baie spesiaal om dit net daar te kon deel met my vrou, gesin en familie en te kon sien hoe trots hulle is en hoe hulle ook in my vreugde kon deel.”

Oxford se MBA-program word in een jaar voltooi en Van Baalen begin in September vanjaar daarmee. Die befondsing wat hy probeer werf, dek slegs die klasgelde – vir lewenskoste sal hy by sy bank aanklop vir ʼn lening. Hulle is ook tans op soek na werk vir Serena-Marie in Oxford.

Van Baalen hoop dat hy deur middel van skarebefondsing oor die finansiële spoedhobbel op sy pad na Oxford kan kom en het sy eie skarebefondsingswebwerf ontwikkel om hiermee te help. Om as vrywillige bydraer ʼn donasie vir Van Baalen se MBA-studies te maak, besoek sy webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Charl ·

Weet jy hoeveel ander student kan hulle help vir daai geld. Die persoon is reeds goed gekwalifiseer hy moet maar sy eie geld gebruik. Daar is baie ander kinders wat geen kwalifikasies het nie.

Belaglik ·

Bietjie belaglik, daar is mense wat baie hard werk om ook hulle grade en Meesters te verwerf en dit maar self moet doen of OP gee as hulle nie die fondse het nie. BAIE selfsugtig, gee ander ook ‘n kans , jy kan jou MBA mos plaaslik kry, hoekom by OXFORD? Kan nie glo dat een ou se MBA hom ‘n miljoen rand moet kos en ander s’n R100 000 nie?

Boertjie ·

Ek soek ook befonsing asb. Ek het n hele paar drome. Wie wil help ? ????

Abe ·

Dis vir my vergesog en arrogant om n publieke befondsingsskema te open om vir jou oorsese studie te betaal. Trouens dit grens aan die kriminele invordering van geld vir eie gewin.

Geen krimineel ·

Van Baalen is eerlik omtrent die doel van sy geldinsamelingsprojek. Net soos met die keuse tussen Gordons Gin of Hope on Hopkins Gin kan ons kies of ons hom ondersteun of nie.

Karen ·

Duidelik het hy nie n skaam haar op sy kop nie. As christen is dit nie te sê ek dink nie hy het goed gedoen vir homself so ver nie, maar hierdie is soos om n huis te bou en nie die som te bereken nie. Hoeveel smag nie net om te gaan leer nie, maar het nie geld nie. Hier het hy al geleer, hy werk, sy vrou werk, so as mens mos dan so iets wil doen, moet jy weet of jy dit kan bekostig of nie. Die gewone man op straat sal sê; ja, ek sou graag maar daar is nie geld om dit te doen nie, of kom ons spaar, maar om vir so iets geld te vra terwyl daar mense is wat sukkel, nie kos het nie, op die rand van die dood is omdat hulle nie medikasie of hulp kan bekostig nie, wat n ledemaat verloor het en moet aan sukkel sonder n kunsbeen of so en hier wil hy geld hê net om nadat hy reeds werk en n salaris verdien net verder te leer terwyl ander kripeer. Ja, miskien is dit wie nie waag nie wen nie, miskien het hy meer moed om so iets te vra as ander, miskien het hy geen skaamte nie. Ek het ook al baie gewonder as ek iets nodig het, as elke ou net n rand kan gee is my kop deur, daar is so baie mense, maar nee, ander sukkel meer, mens vra nie net.

Sarie ·

Ons woon in Oxford. Hulle sal dit geniet hier. Ek hoop hulle gaan terug na die studies, maar om weer werk in SA te kry, al het jy jou MBA is makliker gese as gedaan. Hy moet maar sy eie besigheid gaan oopmaak na die studies om die verskil te maak waaroor hy droom.

Johann cb ·

Jan Publiek kan beslis nie vir sy studies betaal nie! Ons moes vir ons eie studies betaal en trek swaar genoeg aan belasting, hoë lewenskoste en bedrog! Nogal héél vermetel om só ‘n “versoek” te rig!

Stormrider ·

Daar is beter besigheidsgrade as ‘n MBA, maar as jy daardie kwalifikasie wil jaag is GIBS (UP) of WITS van die bestes in die wereld. Nie nodig om Oxford toe te gaan nie.

Charl ·

Ek soek ook geld vir my PHD. Kan iemand help ek sal dit hier by UNISA doen.

Erick ·

Sarel, stig ‘n go fund me rekening by gofundme.com
Plesier.

Hector Jooste ·

Ek het ook nog ‘n paar dollars nodig vir die nagraadse studie waarmee ek tans besig is. As julle ouens klaar vir Sarel gehelp het, en daar is nog ietsie oor, kan julle dit vir my aanstuur. Dit sal baie waardeer word!

Wondernet ·

Mens sou verwag die ouers se finansiele omstandighede sal ook ter motivering uitgelig word … of wat sê ek nou?

Baries ·

Welgedaan Sarel. As jy proaktief, is en iets doen, kom jy ver. Die was sit en slaap en wag dat iets in hulle skoot val sit soos gewoonlik hier en kla.

p ·

oom se plaas hy kan mos by die oom llen en treug betaal as hy n besigheid het of bestuur jou oom se plaas

Mrs H ·

Sies, skaam my vir die swak “beesblaas” aanmerkings en opmerkings van my mede Afrikaner “volk” hier… afgunstig, jaloers en niks wat vanuit n Christen se mond/hart kom nie. Juig en wees saam bly met die man! Jukkel Stukkel – …..

C ·

Ek kan nie glo dat mense só afgunstig kan wees nie. Gun vir Sarel n plek in die son. Hy droom tenminste en wil dit graag bewaarheid. Go for it Sarel!

Abe ·

In my opinie, is MM as n nuus orgaan, nie aangewese as n organisasie wat lede van die publiek moet bystaan met die invordering van fondse om vir private doeleindes aan te wend nie. Meer en meer berigte verskyn op MM waarin privaat persone vir donasies vra vir die befondsing van duur operasies of behandeling van siektetoestande, ook vir gevalle waar mense nagelaat het of nie kon bekostig om vir mediese fondse voorsiening te maak nie. Hierdie geval van iemand wat blatant vra vir hulp met die betaling van sy studieonkoste is seker n eerste vir Maroela, maar dit is so vermetel dat ek my genope voel om ten sterkste beswaar daarteen te maak. Soos ek in n ander kommentaar genoem het, dit grens vir my aan n onwettige geldmaakskema – ‘n foefie om ryk te word!

Welgedaan! ·

Baie sterkte Sarel! Ek hoop van harte jy kan jou droom bewaarheid! En jy sal! Jy is ‘n harde werker. Êrens sal ‘n deur vir jou oopgaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.