SA jagluiperds op pad na Indië

Argieffoto (Foto: Barry Reed/Pixabay)

Suid-Afrika en Indië het ooreengekom om saam te werk om jagluiperds weer in dié Asiatiese land te vestig.

“Volgens die ooreenkoms sal 12 jagluiperds in Februarie 2023 van Suid-Afrika na Indië geneem word,” sê Albi Modise, woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en die omgewing. “Die katte sal by agt jagluiperds in Indië aansluit wat in 2022 van Namibië na Indië geneem is.”

Modise sê dit is vir Indië ʼn prioriteit om weer jagluiperdbevolkings te herstel en dit sal noodsaaklike en verreikende bewaringsgevolge vir die land hê.

Die plan is om oor die volgende agt tot 10 jaar jaarliks twaalf jagluiperds na Indië uit te voer.

“Die inisiatief om die jagluiperds te hervestig volg ná hulle in die land uitgesterf het weens oormatige jag en ʼn verlies aan habitat.”

Die program word gekoördineer deur die departement van omgewingsake, SANParke, die Cheetah Range Expansion Project en die Endangered Wildlife Trust (EWT) in Suid-Afrika saam met die National Tiger Conservation Authority (NTCA) en die Wildlife Institute of India (WII) in Indië.

“Die memorandum van verstandhouding wat onderteken is, vestig ʼn lewensvatbare en veilige jagluiperdbevolking in Indië. Dit sal ook bewaring van die spesie bevorder terwyl seker gemaak word dat kennis en ervaring gedeel en uitgeruil word.”

Die bepalings van die ooreenkoms sal elke vyf jaar hersien word om seker te maak dit bly relevant, voeg Modise by.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elmarie ·

As daar nie genoeg habitat was vir die vorige jagluiperds nie, waar kry Indie dit nou skielik? Hoe gaan hulle keer dat hierdie jagluiperds gejag word?

KLink vir my asof die arme diere se doodsvonnis onderteken word.

Herman ·

Wat sal die keer anders wees. Het habitat herstel en is daar nou n verbot op die jag van die katte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.