SA jagter steeds vermis: ‘Ons sal soek tot ons hom kry’

Scott van Zyl (Foto: Verskaf)

Teen Maandagoggend was daar nog geen teken van Scott van Zyl, die beroepsjagter van Limpopo wat Vrydag tydens ʼn jagtog in Zimbabwe vermis geraak het nie.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van Heritage Protection Group (HPG) wat met die soektog help, het aan Maroela Media gesê die soektog het nog geen verdere leidrade opgelewer nie. Volgens Louwrens is die helikopters wat in die soektog gebruik word steeds in die lug asook ʼn groot soekgeselskap op die grond ontplooi. “Ons sal soek tot ons hom kry,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl (44), eienaar van SS Pro Safaris, het buitelandse jagters na Zimbabwe geneem waar hulle vanuit die Chikwaraka-kamp sou jag. Hy het Vrydag tydens die jagtog vermis geraak nadat een van sy honde glo weggeraak en hy hom gaan soek het. Die honde het laatmiddag alleen teruggekeer na die kamp, maar daar was geen teken van Van Zyl nie.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en van Van Zyl se persoonlike items, waaronder sy sak en navigasiestelsel, is later op die Limpopo-grens gevind.

Intussen het talle mense deur middel van ʼn skarefinansieringswebwerf geld geskenk om die soektog aan die gang te hou. Die Search & Rescue-ondersoekeenheid asook die Limpopo Hunters Liaison-groep het vroeër gesê dit kos nagenoeg $850 (ongeveer R11 500) per uur om ʼn helikopter in die lug te hou. Daar is drie helikopters by die soektog betrokke. Verder is daar ook nie brandstof in die gebied nie, en brandstof vir die helikopters moet aangery word.

Gerhard Vos, ʼn vriend van Van Zyl, het die afgelope naweek gesê daar word verwag minstens R500 000 gaan nodig wees vir die hele soektog. Teen Maandagoggend was daar reeds $28 905 (ongeveer R400 000) ingesamel.

Boodskappe van ondersteuning vir Suré van Zyl, Scott se vrou, en hul twee jong kinders het sedert die naweek op sosiale media ingestroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

m ·

Hoekom sal hy sy skoene en navigasie toerustig net los. Hoop hy word gou gekry.

Jem ·

Bid dat hy ongedeerd gevind sal word. Ek bid ook vir sy familie wat hierdie onsekerheid moet verduur.

Terence Opperman ·

Al wie weet waar Hy is is ons Hemelse Vader. Kom ons vereenig in gebed en vertrou die Here roekkeloos dat sy familie hom sal vind

Piet ·

Sure, al wat ek nou wil se is dat ons bid vir Scott en dink elke minuut aan jou en die kinders. Ek hoop n wonderwerk gebeur en hulle vind hom iewers – sterkte, Piet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.