SA jagter vermis: ‘Menslike oorskot gevind’

Scott van Zyl (Foto: Verskaf)

Menslike oorskot is in twee krokodille gevind wat geskiet is in die omgewing in Zimbabwe waar Scott van Zyl, ʼn professionele jagter van Limpopo, Vrydag verdwyn het.

Maroela Media het vroeër berig Van Zyl (44), eienaar van SS Pro Safaris, het buitelandse jagters na Zimbabwe geneem waar hulle vanuit die Chikwaraka-kamp sou jag. Hy het Vrydag tydens die jagtog vermis geraak nadat een van sy honde glo weggeraak en hy hom gaan soek het. Die honde het laatmiddag alleen teruggekeer na die kamp, maar daar was geen teken van Van Zyl nie.

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en sommige van Van Zyl se persoonlike items, waaronder sy sak en navigasiestelsel, is later op die Limpopo-grens gevind.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG) wat met die soektog help, het Donderdag aan Maroela Media gesê daar is nog geen aanduiding dat die menslike oorskot wat gevind is met Van Zyl verbind kan word nie. “Ons het nou daarvan weggestuur om DNS-toetse te laat doen om die oorsprong te bepaal,” het hy gesê.

Hy het gesê dit kan tot ʼn maand neem om die uitslae van die DNS-toetse terug te kry.

Volgens Louwrens gaan die soektog intussen nog beslis vandag en môre voort. “Ons sal die oorskot môre ordentlik nagaan en na aanleiding daarvan besluit hoe lank die soektog nog gaan voortgaan. Voorlopig gaan ons voort om na hom te soek,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.