SA Jagters help aasvoëls bewaar

Aasvoëls is ernstig in die moeilikheid en daar is kommer oor die voortbestaan van hierdie voëls. (Foto: SA Jagters)

Internasionale Aasvoëlbewustheidsdag word vandag (4 September) gevier te midde van groot kommer deur die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) oor die voortbestaan en bewaring van die voëls.

Die organisasie met sy 44 000 lede sê daar is ses aasvoëlspesies in Suid-Afrika waarvan die getalle afneem of wat deur uitsterwing in die gesig gestaar word. Dit is ook vir natuurbewaarders en wildkundiges groot rede tot kommer.

“Die redes vir dié daling is ʼn kombinasie van uitskieting, elektriese skokke, vergiftiging en die onwettige verhandeling van liggaamsdele vir tradisionele medisyne,” sê Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters.

“Hierdie voëls vervul ʼn uiters belangrike rol in ekostelsels deur karkasse op te ruim en die risiko van verspreiding van siektes te verminder, wat ekonomiese en menslike gesondheidsvoordele inhou.”

SA Jagters skep reeds jare lank bewustheid oor die afname in aasvoëlgetalle en het landwye bewaringsprojekte vir aasvoëls onder sy lede begin.

Die organisasie se Genl. De la Rey-tak op Lichtenburg in Noordwes bestuur al vir etlike jare ʼn aktiewe aasvoëlrestaurant. Tydens voertye besoek tot 200 aasvoëls gelyktydig die voerplek.

‘n Aasvoëlrestaurant in Lichtenburg. (Foto: SA Jagters)

Behalwe om ʼn veilige voerplek vir aasvoëls te skep, dien hierdie plekke ook as bewaringsopvoedingsentrums vir jeuggroepe en plaaslike gemeenskappe.

Die Mopani-tak in die Laeveld het ook ʼn proses begin om ʼn aasvoëlrestaurant te bestuur, asook vir die monitering en bestuur van veilige teelplekke.

Dié vereniging het ook onlangs ʼn inisiatief vir aasvoël-erfenisterreine gestig wat van grondeienaars vereis om te registreer om die bewaring van aasvoëls te ondersteun deur teelplekke te beskerm, veilige eet- en drinkplekke te verseker en voëls te moniteer wat hul plase besoek.

In ruil daarvoor sal SA Jagters aan grondeienaars ʼn sertifikaat van erkenning gee vir hul deelname aan die bewaring en kennisvermeerdering van aasvoëls.

Daarbenewens sal hulle ook in samewerking met bewaringsvennote ondersteuning bied oor aasvoëlverwante aangeleenthede, soos die monitering en red van beseerde voëls.

Belangstellende grondeienaars kan hul grond gratis as aasvoël-erfenisterreine by SA Jagters registreer. Dit behels:

  • die beskerming van broeiplekke op hul grond,
  • die beveiliging van veilige voeding- en drinkplekke,
  • hulp met jaarlikse monitering, en
  • deur te verseker dat jag- en wildbestuursaktiwiteite op hul grond nie ʼn risiko vir aasvoëls inhou nie.

SA Jagters is ook saam met ander bewaringsliggame deel van die Nasionale Taakspan van die Aasvoël, wat deur die departement van omgewingsake, bosbou en visserye gestig is. Die algemene doel van dié taakspan is om die bewaring van aasvoëls in Suider-Afrika te lei.

Loodvergiftiging

SA Jagters speel ook ’n aktiewe rol in die nasionale wildvergiftigingsvoorkomingswerksgroep en die nasionale loodstaakspan wat probleme pak en praktiese oplossings soek vir die negatiewe impak wat onbedoelde loodvergiftiging vir aasvoëls inhou.

Hierdie voëls word uiteindelik benadeel wanneer jagters ammunisie met loodkomponente en vissermanne loodsinkers gebruik.

“Daar is bewyse dat looddeeltjies van loodgebaseerde ammunisie wat in wildbestuur, jag en boerderypraktyke gebruik word, die natuur kan benadeel. Wanneer die karkasse van diere wat met loodpunte geskiet word, aan aasvoëlrestaurante geskenk word of in die veld gelaat word om aasdiere te voer, hou dit ʼn risiko vir aasvoëls en ander aasdiere in,” sê Camphor.

SA Jagters sê hy het saam met die res van die taakspan ʼn reeks insiggewende dokumente opgestel om gebruikers van loodgebaseerde ammunisie bewus te maak van die risiko’s vir wild, ook aasvoëls.

Die vereniging sê hy poog ook om die beskikbaarheid van bekostigbare, loodvrye ammunisie vir die mees gebruikte geweerkalibers en haelgewere in Suid-Afrika te verhoog.

“Die afname in aasvoëlsgetalle behoort vir elke landsburger kommerwekkend te wees. Sedert sy ontstaan ​​in 1949 is SA Jagters daartoe verbind om dié voëls te bewaar. ʼn Mens kan nie naby die grond leef en lang ure in die veld deurbring en nie ’n begrip en ʼn diep band met die natuur ontwikkel nie,” sê Lizanne Nel, bewaringsbestuurder by SA Jagters.

“Ons vereniging is verbind om aasvoëls te bewaar en nooi die publiek en ander rolspelers in die wildbedryf – plaaslik en in buurlande – uit om saam met SA Jagters ʼn gesamentlike poging aan te wend om hierdie wonderlike voëls te bewaar.”

‘n Gewonde aasvoël. (Foto: SA Jagters)

Om kennis oor die verspreiding, teling, biologie en gevare soos vergiftiging en doodskok van aasvoëls te verbeter, het SA Jagters ʼn afdeling in sy dokument gewy aan die opname van aasvoëlwaarnemings op ‘n slimfoon-app wat hy self ontwikkel is.

“Dit sal lede in staat stel om skaars en bedreigde spesies waar te neem, en die data sal gebruik word in aasvoëlbewaring,” sê Nel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Waar is die mense wat altyd gereed staan om Jagters te kritiseer. Hoekom.nou so stil .

Willem ·

Anc is grootste aasvoëls,so hulle sal nie uitsterf nie!!!!!!

Hardekwas ·

N bietjie PR om die aandag af te trek van die onnodige skiet van diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.