SA Jagters reageer op bewerings teen polisiekaptein

(Argieffoto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) het bewerings ontken dat ʼn polisiekaptein van Springbok in die Noord-Kaap wat die afgelope week op verskeie klagte in die hof verskyn het, dié organisasie op onbetaamlike wyse bevoordeel het.

Karel Coetzee du Toit, bevelvoerder van die veediefstaleenheid op Springbok, het Donderdag in die landdroshof op die dorp verskyn waar hy tereg staan ​​op aanklag van onder meer diefstal, bedrog, regsverydeling en oortreding van die Toerismewet.

Maroela Media het vroeër berig die staat voer aan dat Du Toit, in sy hoedanigheid as direkteur van Pillansii Tours (Edms.) Bpk. en as sogenaamde raadslid van SA Jagters, verseker het dat die vereniging baat by boetes wat die hof oplê.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, sê egter Du Toit was nog nooit ʼn lid van SA Jagters se raad nie. Volgens die vereniging is Du Toit ʼn “gewone lid van die bestuur van die Namakwa-tak op Springbok, waar hy ook die bewaringskoördineerder is”.

“SA Jagters is geensins bevoordeel deur boetes wat betaal is in vorige sake nie. SA Jagters tree wel op as die voertuig om geld vir bewaringsinisiatiewe aan te wend en bestuur die fondse asof dit trustgeld is. In hierdie stadium het SA Jagters geen verdere feite oor enige van die beweerde klagtes nie en sal ons geensins spekuleer oor enige optrede nie. Die gereg sal doodgewoon sy gang gaan,” sê Camphor.

Vroeër is berig hoewel Du Toit die verklaringsvorms soos vereis deur die polisie voltooi het, het hy die feite verdraai deur te sê dat hy R750 per maand verdien – wat nie op sigself ʼn ware inkomste of salaris is nie, maar slegs ʼn gratifikasie (fooitjie).

Volgens Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het die beweerde bedrog tussen 2016 tot 2023 plaasgevind.

Senokoatsane sê Du Toit se onderneming, die tweede beskuldigde in die saak, was ook nie ingevolge die vereistes van die Toerismewet geregistreer nie.

“Hoewel hy as ʼn senior lid in diens van die polisie was, het hy steeds betalings van buitelandse burgers ontvang wat later aangekla is vir oortredings wat verband hou met die handel en versameling van vetplante sonder ʼn permit.”

Du Toit is op borgtog van R50 000 vrygelaat en die saak is tot Augustus uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.